Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
ALLES WAT JY MOET WEET: Amy'Leigh se 'ontvoerders' smeek om veiligheid
AmyLee de Jager (6)
Amy'Leigh de Jager

Die vermeende ontvoerders van Amy'Leigh de Jager hoor eers op 1 Oktober of borgtog toegestaan sal word.

Tharina Human (27), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), wat tereg staan op die sesjarige se ontvoering en 'n klag van afpersing, bly tot dan in aanhouding.

Amy’Leigh is Maandagoggend 2 September voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark ontvoer. Sy is uit haar ma, Angeline, se hand gegryp en in ’n wit Toyota Fortuner ingetrek.

Haar ontvoerders het ’n losprys geëis. Sowat 18 ure later is sy ongedeerd in ’n straat gevind en aan haar ouers terugbesorg.

Die losprys is nooit betaal nie.

  

In 'n neutedop:

  • BORGTOG-RISIKO'S: Die ondersoekbeampte meen as die beskuldigdes borgtog toegestaan word, is daar drie risiko's dat hulle 1) kan vlug, 2) staatsgetuies kan intimideer of 3) hulle eie lewens deur die publiek in gevaar gestel word. 
  • GETUIES: Daar is reeds drie staatsgetuies vasgemaak. Hulle sal teen al drie beskuldigdes getuig. 
  • AANSOEK OM OORGEPLAAS TE WORD: Human en Nel het 'n aansoek gebring dat hulle na die polisie se aanhoudingselle oorgeplaas word omdat hul lewens in die tronk bedreig is. Hulle het laasnag glo niks geslaap nie. 
  • MERIETE VAN SAAK: Die ondersoekbeampte is vol vertroue dat die polisieondersoek wat die drie in die hof betref, wat die basis vir die staat se saak teen hulle gaan vorm, waterdig is.

  

Volg hier hoe die gebeure ontvou het:

20 Sep. 12:19:23

Die borgtoguitspraak is uitgestel tot 1 Oktober. Die drie bly intussen in aanhouding.

20 Sep. 12:16:07

OORPLASING NA AANHOUDINGSELLE

Landdros Khota sê die hof is nou in 'n ongemaklike posisie, aangesien hy nie weet wat die beskikbaarheid in die selle is nie.

Hy sê hy sal hom moet skaar by die staat. Dit klink dalk nou beter in die selle, maar die hof kan nie waarborg dat hulle nie daar ook saam met ander verdagtes aangehou sal word nie.

Hy sê dit beteken nie hy neem nie lewensdreigemente ernstig op nie.

20 Sep. 12:08:51

THARINA GLO GEDREIG, VREES VIR HAAR LEWE

David Mey, die onderwyseres Tharina Human, se regsverteenwoordiger bring die aansoek.

Mey: Die borgtogaansoek is regstreeks uitgesaai.

Op pad terug na die tronk het dit duidelik geword ander gevangenes het die uitsending gesien.

Die beskuldigdes is gedreig.

Ons wil die beskuldigdes laat oorplaas na polisieselle om hulle te beveilig.

Landdros Khota: Beskuldigde 1, kan jy bevestig dis jou eedsverklaring?

Tharina Human staan op: Ja, edelagbare.

 

Stoffel Venter staan op vir n soortgelyke aansoek deur Nel.

Die verklaring lui: "Ons word saam met sewe ander gevangenes aangehou. Terug by die tronk het die ander gevangenes ons dadelik begin intimideer en ons lewens bedreig. Ons was die hele nag op, want ons het vir ons lewens gevrees. Ek vra om na die polisie se aanhoudingselle oorgeplaas te word om my veiligheid te verseker."

Nel staan op en bevestig aan landdros Khota dat dit haar eedsverklaring is.

20 Sep. 12:01:27

Pieter van Zyl in die beskuldigdebank.

20 Sep. 11:53:02

STAAT 'SAL WYS' HULLE IS SKULDIG

Khota: Laastens, Konstabel: Is jy vol vertroue in jou ondersoek, jy wat van die begin af aan boord was, dat daar vir die staat 'n redelike moontlikheid bestaan om 'n suksesvolle skuldigbevinding te kry?

Motloung sê ja.

Mey wil 'n aansoek namens Human en Nel bring.

Hy vra die hof vir 'n kort breuk. Dis 'n aansoek vir die oorplasing van die beskuldigdes van die tronk na polisieselle.

Die hof verdaag vir 5 minute.

20 Sep. 11:49:29

'BESKULDIGDES SAL GETUIES INTIMIDEER'

Landdros Khota vra Motloung waarom hy dink die beskuldigdes se lewens is in gevaar as hulle uitkom op borgtog.

Motloung: Die nuus en sosiale media is vol daarvan (vermoedelik dreigemente).

Khota vra nou hoe Motloung daaroor voel as daar baie streng borgtogvoorwaardes gestel word, soos waar die beskuldigdes daagliks by die polisie moet aanmeld. "Sal dit nie die vlugrisiko verminder nie?"

Motloung is nie oortuig nie. Hy hou ook vol hy vermoed die beskuldigdes sal die getuies beïnvloed of intimideer. Veral omdat van hulle so ná aan Human en Nel is.

20 Sep. 11:34:45

VIERDE VERDAGTE GEJAG

Landdros Khota vra weer uit oor die besoek aan Van Zyl se familie.

Motloung: Hulle het niks van die kind of die saak geweet nie.

Landdros Khota: Jy het gesê die kind is gelukkig ongedeerd gevind. 'n Paartjie het hulle daar aangebring. Wat het hulle vir jou gesê?

Motloung: Die paartjie het gesê hulle het op die kind afgekom wat geloop en huil het. Hulle besef toe dis die kind wat in die nuus was. Hulle het die kind toe na die polisiekantoor geneem.

Landdros Khota: Hoeveel verdagtes soek julle nog?

Motloung: Een verdagte, edelagbare.

Landdros Khota: En hy het op Van Zyl se kleinhoewe gewoon?

Motloung: Korrek

Landdros Khota: So die kans is goed dat julle hom dalk binnekort kan vastrek?

Motloung: Die ondersoek is aan die gang, edelagbare.

20 Sep. 11:25:04

ONDERWYSERES SE REGSVERTEENWOORDIGER VERERG HOM

David Mey, Human se regsverteenwoordiger, spring op. "Toe ek jou gister hieroor gevra het, het ek gevra watter getuies is belangrik vir jou saak, nie wie na aan Human is nie!"

Hy vererg hom.

Mey: Jy is partydig en jy bring inligting na die hof om te probeer toesien dat die beskuldigdes nie borgtog kry nie.

Venter het geen verdere vrae nie.

20 Sep. 11:18:31

Aantal staatsgetuies 'verwar'

Adv. Luanda Ngcobo, vir die staat,  kruisondervra Motloung.

Ngcobo vra oor die gebeure rondom Tharina Human se inhegtenisneming.

Motloung: Haar dogter was by haar. Haar ma het die dogter kom haal. Human het haar ma intussen volle toesig oor haar kind gegee.

Ngcobo sê daar was 'n verwarring oor hoeveel getuies die staat gaan roep. Human se regsverteenwoordiger het hieroor gevra. "Hoekom het jy twee gesê (as daar drie is)?"

Motloung sê hy het verstaan dat David Mey hom vra oor die getuies wat na is aan Human. Dis net twee.

Die staat is klaar.

20 Sep. 11:11:41

REGSVERTEENWOORDIGER HAP NA ONDERSOEKBEAMPTE

Motloung is bekommerd dat Van Zyl sal vlug. Maar volgens Chirwa het Van Zyl nie 'n paspoort nie.

Chirwa: Weet jy ooit wat die definisie van 'n vlugrisiko is?

Motloung: Ek het voorheen gesê en ek sê dit weer: Mense vlug, of hulle n paspoort het of nie.

Motloung sê dis in belang van die gereg dat Van Zyl nie borgtog kry nie.

Chirwa: Weet jy ooit wat geregtigheid is?

Chriwa gee hom dan 'n lesing na hoe die howe werk.

Chriwa haal dan Motloung se hoofgetuienis aan waar hy gesê het die ontvoering is 'n baie ernstige misdaad. Motloung het dit as nog 'n rede voorgehou waarom die beskuldigdes nie borgtog moet kry nie.

Motloung bevestig dit. Na nog 'n relaas gaan sit Chriwa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.