Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Beskuldigdes in Amy’Leigh-saak verskyn Vrydag weer in hof

  • Amy’Leigh de Jager (6) se vermeende ontvoerders verskyn Donderdag in die landdroshof in Vanderbijlpark om aansoek om borgtog te doen.
  • Tharina Human (27), Laetitia Nel (in haar 40's) en Pieter van Zyl (in sy 50's) het ’n week gelede elkeen voorlopig op ’n aanklag van ontvoering verskyn. Die polisie skakel nie die moontlikheid van nog inhegtenisnemings uit nie.
  • Amy’Leigh, ’n graad R-leerling, is op Maandagoggend 2 September voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark uit haar ma se hand geruk en by ’n wit Toyota Fortuner ingetrek.
  • Die meisie was sowat 18 uur op Van Zyl se kleinhoewe in ’n waterdruktoring se stoorkamer aangehou.
  • Die “ontvoerders” het aanvanklik ’n losprys van R2 miljoen geëis, wat nooit betaal is nie. Hulle het haar die Dinsdag omstreeks 02:00 in ’n straat in Vanderbijlpark afgelaai.
19 Sep. 16:03:01

Hiermee sluit Netwerk24 se regstreekse dekking van die dag se verrigtinge. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. 

19 Sep. 15:59:22

Riaan Botha, Human se pa, was baie haastig na afloop van die hofverrigtinge.

Hy het homself buite die hof aan joernaliste voorgestel as "Tharina se pa. Ek is baie trots op haar en lief vir haar en ek staan by haar". 

Hy het verder na God verwys en gesê hy weet in wie hy glo en "Hy (God) hulle sal deurtrek". 

Op 'n vraag hoe hy die borgtogaansoek ervaar het, het hy gesê dit was taai maar wou verder geen kommentaar lewer nie.

Hy het alle verdere navrae na sy prokureur verwys.

Hy het die media ook bedank vir positiewe berriggewing na die eerste verskyning.

19 Sep. 15:26:15

Die hele De Jager gesin het nou afgepeil op die staatsaanklaer. 

19 Sep. 15:25:22

Landdros Hussain Khota verdaag die hof tot Vrydagoggend. 

19 Sep. 15:22:05

Die verrigtinge hervat.

Die hof het pas gehoor 'n vrou met die naam van Hester gaan 'n sleutelgetuie in die saak wees.

Volgens die ondersoekbeampte, konst. Clayton Motloung, woon Hester by Human se broer en hulle het 'n kind saam.

Een van die prokureurs hier het pas aan Netwerk24 bevestig dis hoe hy ook Motloung se getuienis verstaan.

19 Sep. 15:07:16

Mey wil weet wie die ander getuies is.

Mey: Ek dink jy blaas die storie en Human se rol daarin op.

19 Sep. 15:03:17

Mey is van mening Motloung het nie genoegsame getuienis om Human se borgtogaansoek teen te staan nie.

"Jy gryp na algemene, flou redes want jy het geen klinkklare bewyse nie..."

Motloung is bekommerd oor 'n familielid wat as staatsgetuie gaan optree. Hy is bekommerd dat sy die getuie sal beïnvloed.

"Is daar enige ander getuies wat gaan getuig dat sy alles beplan het, dat sy die baasbrein is?"

Motloung wil nie sê nie.

Mey konfronteer hom daaroor en probeer hom as ondersoekbeampte diskrediteer.

"Is dit twee of drie?"

Motloung sê uiteindelik dis twee.

Motloung het aanvanklik gehuiwer en gesê "twee of drie".

Mey kap hom nou hieroor. "Hoekom het jy gesê drie? Hoekom het jy gesê drie?"

Motloung: Dis twee. 

Mey: Maar hoekom het jy drie gesê?

Mey: Het jy gelieg onder eed?

Adv. Luanda Ngcobo vir die staat spring op. "Ek dink die getuie het reeds geantwoord, edelagbare."

Motloung sê nou twee staatsgetuies is vas, maar meer kan volg.

(Die polisie was van die begin af baie geheimsinnig oor die ondersoek, omdat dit so delikaat is. Dit het vandag vir die eerste keer aan die lig gekom dat daar na 'n vierde verdagte gesoek word.)

19 Sep. 14:53:13

Mey vra of Motloung met Human se broer te doen gekry het.

Motloung sê hy was baie kwaad en wil niks met die saak te doen hê nie.

Mey: Ek stel dit aan jou dat Human se broer my opdrag gegee het om haar te verteenwoordig.

Human kyk nou reguit voor haar en glimlag breed. Sy giggel kort-kort onderlings.

Nel sit met haar kop in haar hande. Sy kyk die heeltyd af.

19 Sep. 14:48:17

Die drie beskuldigdes, Tharina Human (27), Laetitia Nel (40) en Pieter van Zyl (50), staan vroeër vandag in die landdroshof in Vanderbijlpark. Foto: Felix Dlangamandla

19 Sep. 14:46:52

Mey verwys nou na die betogers buite die hof vroeër vandag. Hulle het betoog teen geweld teen vroue en kinders. "Sê jy die beskuldigde se lewe is ook in gevaar as sy vrygelaat word?"

Motloung: Ja.

Later sê Motloung dis 'n moontlikheid.

Mey: So jy het geen bewyse dat dit wel sal gebeur nie?

Motloung sê onder meer Human se ma, Christa Stols, is baie kwaad vir haar.

Mey sê Stols het haar dogter voor haar eerste verskyning in die aanhoudingselle besoek.

Motloung ontken dit nie - "Ek weet nie (van die besoeke nie). My ervaring is dat sy baie kwaad is. Sy het gehuil."

Meer oor:  Vanderbijlpark  |  Borgtogaansoek  |  Hof  |  Amy'leigh-Saak  |  Ontvoering  |  Misdaad  |  Amy'leigh-Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.