Die pa van Tharina Human, een van die drie beskuldigdes in die ontvoeringsaak van Amy’Leigh de Jager, het die polisie vir hul puik optrede geloof en die gemeenskap van Vanderbijlpark en die Laerskool Kollegepark om verskoning gevra dat sy dogter by die misdryf betrek word.
Amy’Leigh, 'n gr. R-leerling, is verlede Maandag voor die skool ontvoer.
“Ek vra uit die diepte van my hart om verskoning. Dit wat gebeur het, is buite ons beheer, maar ons vra vir julle om verskoning en die goeie, groot Geneesheer sal die wonde toemaak en heel maak," het Riaan Botha (66) buite die landdroshof in Vanderbijlpark gesê.
Hy het gesnik soos hy huil. Botha is deur Anneke Taljaard, ’n familievriendin, ondersteun.
Human het Maandag saam met Laetitia Nel en Pieter van Zyl verskyn. Hulle staan op aanklag van ontvoering tereg. Human se hare was in 'n los bolla agter haar kop vas gemaak. Sy het in 'n stadium met Nel gesels. Nel het net voor haar uitgestaar. Van Zyl het heeltyd kop onderstebo gestaan en slegs opgekyk toe landdros Hussain Khota met hom gepraat het. Wynand en Angeline de Jager, Amy’Leigh se ma en pa, was ook in die hof. Die ouers het voor in die hof gesit en Angeline het in ’n stadium haar kop op Wynand se skouer gerus.
Stoffel Venter verteenwoordig Nel en Jaco van Heerden vir Human. Van Zyl maak van Regshulp SA gebruik.
Human het haar pa omhels toe die hof tot 19 September vir die formele borgtogaansoeke verdaag. Foto: Felix Dlangamandla