Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Xander kry 2 keer lewenslank
Xander Bylsma
Xander Bylsma vandag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla
  • Xander Bylsma (21) word na verwagting vandag in die hooggeregshof in Mmabatho gevonnis.
  • Regter Ronald Hendricks het in Februarie vanjaar bevind Bylsma het vir Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle Hough (17) vermoor. Hul lyke is op Saterdag 26 Mei 2018 in hul skoolkoshuis by die Hoërskool Stella gevind.
  • Monté en Mercia Bylsma, Xander se ouers, het Woensdag gesê hulle verwag hul seun sal lewenslange tronkstraf opgelê word.
  • Adv. Sakke Nel tree vir Bylsma op. Adv. Johan Smit is die staatsaanklaer.
07 Aug. 12:11:54

Adv. Johan Smit. Foto: Felix Dlangamandla

07 Aug. 12:11:13

Kapt. Markus Ferreira, ondersoekbeampte in die Stella-moorde. Foto: Felix Dlangamandla

07 Aug. 11:39:22

Die hof verdaag.

07 Aug. 11:38:54

Hendricks: "Die hof het al die faktore van die saak in ag geneem. Dit moet versigtig gebalanseer word vir 'n regverdige vonnis om opgelê te word. Staan asb. op mnr. Bylsma. Nadat alles oorweeg is, is die hof van mening dat u weens die moord op Sharnelle lewenslange tronkstraf opgelê word. Vir die moord op Marna kry u ook lewenslange tronkstraf. U mag ook nie 'n wapen besit nie."

07 Aug. 11:37:45

Hendricks: "Die howe wyk te maklik om flou redes van die minimum vonnis af. Die howe is verplig om die minimum vonnisse op te lê, tensy daar werklik goeie redes is om af te wyk. Moord kom baie in hierdie hof se gebied voor, asook in die res van die land. Hierdie golf van geweld moet gestop word. 'n Lewe het te goedkoop geword in ons samelewing. Die gewelddadigheid van die moorde in u geval kan nie misgekyk word nie. U het 'n wrede minagting gehad vir albei die meisies. U het Marna in die badkamer verwurg en Sharnelle daarna vermoor. Daar was 'n tyds- en pleksverskil tussen die moorde. U moes tyd gehad het om daaroor na te dink."

07 Aug. 11:33:20

"Daar is 'n sterk stem uit die gemeenskap dat geslagsgeweld gestop moet word. Mans se geweld teenoor vroue moet eindig. Die enigste manier om dit te stop, is om swaar vonnisse op te lê. Hierdie soort misdrywe kom baie in hierdie hof se gebied voor. Hierdie oortredings kry ook groot aandag. Volgens die wet word minimum vonnise voorgeskryf. Vir voorbedagte rade is dit lewenslange gevangenisstraf, indien daar nie dwingende en wesenlike omstandighede is wat 'n mindere vonnis regverdig nie. U advokaat het aangevoer u is jonk, 'n eerste oortreder en emosioneel onvolwasse en dat dit wesenlike omstandighede is," sê Hendricks.

Hy bevind egter dat die omstandighede wat Bylsma se advokaat uiteengesit het, nie genoeg is om af te wyk van die minimum vonnis nie.

07 Aug. 11:30:35

Marna se pa het ter strafverswaring getuig oor die boodskappe wat u aan Marna gestuur het waarin u haar sleggesê en gevloek het. Daarna het u Marna se pa met die dood gedreig - om hom te skiet. Dis duidelik wat u motief vir die moord op Marna was; u het self in 'n boodskap aan Marna gesê sy moet uit u sake bly. Wat hierdie moorde erg verswarend maak, is die feit dat die meisies jonk was. Dit is geslagsgeweld op twee kwesbare jong meisies. U aksies is walglik. U het geen respek teenoor hulle getoon nie. U het hulle in vulgêre, ginekologiese terme sleggesê. Verskeie getuies het hieroor getuig.

07 Aug. 11:27:15

Regter Hendricks sê die hof moet in ag neem Bylsma is skuldig aan ernstige misdrywe. Twee jong meisies het hul lewe verloor. Dis 'n dubbele moord. Sharnelle was 17 en Marna 16 toe hulle ontydig dood is. Die hof moet ook die omstandighede van hul dood in ag neem. U het (twee dae voor die moord) aan Anastasia gesê u sal Sharnelle se lewe hel maak en haar tot selfdood dryf. U het die moord beplan en wou dit na selfdood laat lyk. Dieselfde is nie waar van Marna nie. Die hof het bevind u het Marna vermoor omdat sy nie 'n versoening met Sharnelle goedgekeur het nie. U het haar vermoor toe u die geleentheid kry.

07 Aug. 11:25:08

Die drome van die vermoorde meisies se ouers is verpletter deur iemand wat niks verkeerd sien met wat hy gedoen het nie. Die leemte van hul kinders se dood sal nooit gevul word nie, want hulle sal nooit weer hul kinders sien nie.

07 Aug. 11:23:49

Volgens die voorvonnisverslag het die misdrywe ook 'n erge impak op skoolkinders in die gemeenskap gehad. Marna, u kleinniggie, is deur u vermoor al is 'n mens veronderstel om jou naastes te beskerm. Volgens die verslag het u ouers moontlik in gebreke gebly om u kindertydontwikkeling behoorlik te monitor. Hulle het beheer oor u verloor. Sharnelle se ma sukkel om haar emosies te beheer, dit wys hoe diep sy seergekry het weens die moorde. Dis duidelik Marna se ma sukkel ook om die gebeure te verwerk, sy steek haar gevoelens weg om te probeer om haar gesin staande te hou. Die feit dat Bylsma gedreig het om Marna se pa te skiet, mag 'n aanduiding wees dat hy selfsugtig is en enigiets sal doen om homself te bevredig. Hy dink nie aan die gevolge nie en is selfs disrepekvol teenoor selfs volwassenes.

Meer oor:  Marna Engelbrecht  |  Xander Bylsma  |  Sharnelle Hough  |  Stella  |  Mmabatho  |  Vonnisoplegging  |  Vonnis  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.