Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Stella-moordverhoor gaan op 13 Mei voort
Xander Bylsma Foto: Felix Dlangamandla

  • Xander Bylsma (19) word sedert Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, verhoor weens die moorde op Sharnelle Hough (17), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie.
  • Die verdediging het Donderdag voortgegaan om Chris Saunders, die private speurder, te kruisondervra. Bylsma het glo teenoor Saunders gebieg dat hy die moorde gepleeg het.
  • Die verdediging voer nou aan Saunders het hom voorgesê en dat hy die bekentenis afgelê het omdat Saunders hom gedreig het. 
  • Die binneverhoor om te bepaal of Bylsma se bekentenis toelaatbaar is, sal voortgesit word as die saak hervat.
15 Mrt. 11:28:33

Bylsma wou met uitwysings voortgaan

Lange lees nou verder uit die uitwysingsvorm.

Bylsma se regte word steeds in die vorm aan hom voorgehou, onder meer dat hy die reg het om 48 uur ná sy inhegtenisneming in die hof te verskyn. Sy reg om 'n prokureur te kry en dat die staat een kan voorsien indien hy nie een kan bekostig nie, is ook aan hom voorgehou. Hy het in die vorm "nee" ingevul op die vraag oor of hy 'n prokureur tydens die uitwysings teenwoordig wil hê. Bylsma het telkens "ja" geantwoord wanneer hy gevra is of hy elke individuele reg verstaan. Hy het aangetoon dat hy steeds met die uitwysings wil voortgaan.

15 Mrt. 11:17:48

'Geen kommunikasieprobleme met uitwysing'

Lange: Ons kon nie 'n Afrikaanse uitwysingsvorm kry nie. Die beskuldigde het ingestem dat ons kan voortgaan met die Engelse vorm, maar ons kon die hele onderhoud in Afrikaans doen. Ek sou die antwoorde in Engels neerskryf. Die beskuldigde het ingestem, hy het gesê hy verstaan Afrikaans en Engels. Ek het die vrae in Afrikaans aan hom gestel, hy het in Afrikaans geantwoord en dan het ek die antwoorde in Engels neergeskryf. Ek het ook eers die vrae in Engels gelees en dan in Afrikaans vertaal. Daar was geen kommunikasieprobleme nie. Ek is tweetalig, ek kan Afrikaans en Engels praat. Smit (vir die staat) oorhandig nou die ingevulde uitwysingsvorm aan Lange.

15 Mrt. 11:16:18

'Hulle kon die een boei nie oopkry nie'

Lange: Ek het in daardie stadium geen inligting oor die saak gehad nie, net 'n saaknommer. 'n Fotograaf is saam met my en Bylsma na die kantoor (waar die ondervraging sou plaasvind). Bylsma was steeds geboei en ek het die bewaarders van die selle versoek om die boeie te verwyder. Dit was nog voordat die onderhoud begin het. Hulle het gekom om die boeie te verwyder, maar toe kon hulle nie die een boei oopkry nie. Ons het tien, 15 minute gesukkel om die boei aan die regterhand oop te kry. Ek en die beskuldigde het albei probeer help, maar ons kon niks regkry nie. Bylsma het toe ingestem om so aan te gaan met die een boei, hy het nie 'n probleem daarmee gehad nie. Hy het die ander deel van die boei toe in sy regterhand vasgehou.

15 Mrt. 11:09:08

'Ek het versoek dat hy nie geboei word nie'

Lange: Ek is eers na die selle nadat ek die uitwysingsvorm gekry het. By die selle het ek my aan die polisiebeampte aan diens voorgestel en gesê ek is hier om die beskuldigde te kom haal vir 'n uitwysing. Dit was omtrent 13:00. Ek het Bylsma uitgeteken in die voorvalleboek en hulle het hom toe in die selle gaan haal. Ek het versoek dat hulle hom nie boei nie, maar toe hulle hom inbring, was 'n polisieman besig om hom te boei. Ek het die polisieman gesê ek het versoek hulle moet hom nie boei nie, maar die beampte het gesê dis die prosedure om verdagtes in aanhouding te boei wanneer hulle uitgeneem word. Ek het my toe aan Bylsma voorgestel en ons is na die stasiebevelvoerder se kantoor.

15 Mrt. 11:06:50

Ouers het geen beswaar gehad nie

Lange: Daar was naas die beskuldigde se ouers nog 'n man, maar ek weet nie wie hy was nie. Hy was net vinnig daar. Ek het my voorgestel aan die beskuldigde se ouers en het aan hulle verduidelik hoekom ek daar was. Dit was net nadat ek by die stasie aangekom het, voordat ek na die kantoor is (vir die onderhoud met Bylsma). Ek het toe nog nie geweet wie die beskuldigde is nie, maar Monté het by die ingang gestaan. Ek het aanvanklik nie geweet wie hulle is en of Monté dalk 'n polisieman is nie. Hy het toe vir my gesê hy is die beskuldigde se pa. Ek het  daarna eers  verduidelik ek is van Potchefstroom en dat ek die uitwysings sal lei. Ek het die prosedure aan hulle verduidelik. Hulle het geen beswaar gehad nie.

15 Mrt. 11:04:35

Monté word dalk geroep as getuie

Lange: Die beskuldigde se ouers (Mercia en Monté) was ook by die polisiekantoor. Hulle was tussen die hoofgebou en ingang na die polisie se aanhoudingselle.

Rai staan nou op. Hy vra dat Monté die hof moet verlaat, want die verdediging gaan hom dalk later as 'n getuie roep.

Regter Hendricks versoek Monté om die hof te verlaat.

Smit gaan voort daarmee om Lange te ondervra.

15 Mrt. 11:00:22

Só het uitwysigingsproses begin

Lange: Ek het die 27ste vanaf Potchefstroom na Vryburg gery omdat kapt. Markus Ferreira, ondersoekbeampte, my versoek het om 'n uitwysing te gaan doen. Ek is eers na die polisiekantoor in Vryburg. Daar het ek die stasiekommissaris ontmoet. Die kommissaris het verduidelik die beskuldigde wat die uitwysings gaan doen, is in die selle by die Vryburg-polisiekantoor. Ek het gevra watter kantoor ek kan gebruik om die onderhoud in te voer. Hy het my sy kantoor in die hoek van die polisiekantoor gegee. Ek het gevra hy moet vir my die uitwysingsvorm gee. (Dis die voorgeskrewe vorm wat vir uitwysings gebruik word). Ek het gevra of hulle vir 'n fotograaf gereël het.

15 Mrt. 10:55:19

Adv. Johan Smit SC, direkteur van openbare vervolging in Noordwes, roep nou vir kol. Dawie Lange, wat Bylsma se uitwysings op 27 Mei 2018 by die Hoërskool Stella hanteer het. Dit was die dag nadat die meisies se lyke in die koshuis gevind is. Lange is in Potchefstroom gesetel.

15 Mrt. 10:53:12

Rai sluit sy kruisondervraging af. Masire het nou klaar getuig.

15 Mrt. 10:52:56

'Dit was te laat om landdros te kry'

Rai: Hoekom het jy vir spesifiek Kochlan gebel oor die bekentenis?

Masire: Hy is in Mahikeng gesetel, maar hy woon in Vryburg. Ek het dus gedink hy sal dalk kan kom. Indien ek hom nie kon bereik nie, sou ek ook ander polisiebeamptes gebel het. Toe ek Kochlan nie dadelik in die hande kon kry nie, het ek kol. Seymor gebel. Kochlan het my egter teruggebel.

Rai: Het dit nie by jou opgekom dat die beskuldigde die bekentenis voor 'n landdros kon aflê nie?

Masire: Ja, dit het, maar dit was laat, dis hoekom ek eerder aan 'n polisiebeampte (wat by magte is om 'n bekentenis af te neem) gedink het.

Rai: Weet jy dat die tyd van die dag nie 'n kwessie is om 'n landdros in die hande te kry nie?

Masire: Ja, maar 'n polisiebeampte kan dit ook afneem. Ek het nie gedink daar was iets mee fout nie.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Stella  |  Mmabatho  |  Stella-Moordverhoor  |  Moord  |  Stella-Moorde  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.