Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Video van jaagtog ingedien

  • Die Matie-student Hannah Cornelius is twee keer aan die linkerkant van haar nek gesteek voordat sy met klippe teen die kop geslaan is.
  • Haar lyk is op 27 Mei 2017 langs die pad naby 'n wynplaas buite Stellenbosch gevind.
  • Vier beskuldigdes, Vernon Witbooi, Geraldo Parsons, Eben van Niekerk en Nashville Julius, staan tereg op aanklagte van die verkragting van en moord op Cornelius, asook poging tot moord op haar vriend, Cheslin Marsh.
11 Okt. 15:51:07

Die hof verdaag tot Maandag.

11 Okt. 15:50:57

'n Lys van die polisie se bewysstukke in die saak word nou by die hof ingedien.

Badenhorst gaan saam met Siko deur die lys.


11 Okt. 15:49:16

Siko getuig hy het toe met verlof gegaan en sers. Marlon Appollis het die saak by hom oorgeneem.

11 Okt. 15:48:24

Siko getuig nou hulle het hierna vir Witbooi in hegtenis geneem en na die polisiebakkie geneem.


11 Okt. 15:42:55

11 Okt. 15:34:50

Witbooi het glo gesmeek 'moet my nie skiet nie, my lanie'

Siko:

“Een het links gehardloop na die huise toe. Ek het agter die een aangehardloop wat gelyk het asof hy moeilik deur die water kom omdat daar modder was. 

"Dit was vir my ook moeilik om daar deur te kom. Ek het met my hand aan die riete en goed vasgehou - dieselfde hand het my vuurwapen in,  dit is hoekom daar modder op my vuurwapen was.

"Ek het vir die persoon gesê as hy nie stop nie, gaan ek skiet.

"Hy het moeg gelyk. Die persoon het toe gaan plat sit en toe gaan lê hy. Ek het die persoon beveel om op sy maag te lê.

"Ek het op sy skouers getrap om hom daar te hou. Ek het hom beveel om nie op te staan nie.

"Die ou het my gevra wat soek ek, toe het ons albei in Engels gepraat. Ek het aan die persoon gesê hy het 'n voertuig geneem en 'n persoon doodgemaak.

"Die persoon het my gesmeek om hom nie te skiet nie. 'Moet my nie skiet nie, my lanie' - dit is woord wat bruin mense gebruik vir die polisie," getuig Siko.

Siko getuig toe die man hom versoek om nie te skiet nie, het dit vir hom die indruk te gee dat hy weet hoekom Siko hom soek.

“Hy was nie bewus daarva dat my vuurwapen nie kon skiet nie omdat dit verstop was van die modder. Ek sien toe nog polisie wat nader aan ons beweeg.

“My kollegas kon nie sien ek was ook van die polisie nie omdat ek siviele klere aangehad het.”

Badenhorst vra of die man op wie se skouers hy getrap het teenwoordig is in die hof vandag.

Siko sê ja, hy kan hom identifiseer. Die man het hom ook sy naam gegee. Hy word gevra om die man uit te wys. Siko wys vir Witbooi, beskuldigde een, uit, maar sê dat hy die naam Klaasen gegee het. “Maar ek het later uitgevind dit is Witbooi.”

11 Okt. 15:23:28

Siko getuig verder hoe hulle agter die verdagtes en blou Golf aangejaag het.

“Toe kom ons by die pad by Devonvallei en draai regs. Die Golf het steeds vinnig gery en die bakkie was toe ver agter, die bakkie kon nie vinniger ry nie.

"Ek het die Golf agterna gesit - ek het vir so 2,6 km nie minder as 160 km/h gery nie." 

Siko getuig hoe die Golf by die ingang van die plaas Dwars in die Weg ingedraai het.

Badenhorst verwys na foto’s van waar die plaas is en waar hulle afgery het en vra Siko om dit te bevestig.

Siko: “Nadat ek uitgeklim het, het die eerste persoon by die bestuurder se kant uitgeklim. Die ander person was steeds in die voertuig. Ek was bang hy het 'n wapen. Ek het gedink ek sou die persoon stop deur 'n waarskuwingskoot te skiet, maar die persoon wat reeds uit die Golf was, het nie gestop nie.

"Die tweede persoon in die Golf het toe ook uitgeklim. Hulle het weggehardloop in die rigting van iets wat soos 'n rivier lyk.

"By die rivier het hulle in verskillende rigtings gehardloop,” getuig Siko.  

11 Okt. 15:13:57

Jaagtog agter 2 verdagtes in Hannah se Golf aan

Siko getuig verder:

"Toe het ek hulle agtervolg, daar was voertuie tussen ons. Ek het opgelet hulle het oor 'n spoedwal gegaan en ek het gesien daar is voertuie wat my volg.

"Ek het my spoed verminder en plek gemaak dat daar ruimte kan wees tussen my en hulle sodat hulle nie sal sien as ek 'n oproep maak nie.

"Ek het Banda versoek vir bystand. Ek het vir Banda gesê ek agtervolg die voertuig.

"In daardie stadium het ons by die stopteken stilgehou. By Merrimanstraat se verkeersligte het ek opgemerk dat daar 'n gemerkte polisiebakkie is.

"Ek het hom probeer verwittig. Die verkeerslig het groen geword en die venster van die bakkie was oop. Sers. Clifton Adams was in die bakkie.

"Ek het toe probeer om vir hom te skree en op daardie tydstip het die blou Golf begin beweeg. Ek het vir Adams geskree: 'Daar is die voertuig!'

"Voor ons was daar verkeersligte en die Golf het regs gedraai. Ek het agterna gery. Ek het opgelet dat daar ander voertuie tussen die bakkie en die blou Golf was - ek wou nie gehad het die Golf moes wegraak nie.

"Toe ons by die brug opgaan by Adam Tasweg het ek gehoor die bakkie het sy blou ligte aangesit en die Golf het vinniger begin ry. Die polisiebakkie het ook vinniger begin ry.

"Hoe vinniger die Golf ry, hoe vinniger het die bakkie gery. Ek was nie te naby aan die Golf nie. Ek het nie geweet of die mans in die Golf gewapen was nie, maar ek het spoed begin optel toe die bakkie vinniger begin ry het," getuig Siko.

11 Okt. 15:03:44

Siko getuig nou hy en 'n kollega het van die toneel af weggery en in die gebied begin soek na 'n blou Citi Golf.

Hulle het in daardie stadium reeds die inligting ontvang dat die voertuig gekaap is en dat dit dit Hannah se voertuig is.

Siko het die motor opgemerk soos hulle rondgery het.  Die Golf het van voor gekom.

Die Golf was in die rigting van Stellenbosch onderweg en het verby Siko gery.

Siko kon sien daar is twee mans in die Golf.

Siko het omgedraai. Hy het met 'n Toyota Etios gery wat nie as 'n polisievoertuig gemerk was nie. Hy het ook siviele klere aangehad.


11 Okt. 14:56:38

Siko getuig verder hy het 'n haarrekkie opgemerk wat naby die lyk gelê het en foto’s daarvan geneem.

Hy was nog op die toeneel toe die ambulans daar aangekom het.

Daar word nou verwys na 'n foto van Hannah wat op haar rug gedraai is en Siko getuig die foto was toe die ambulans net daar opgedaag het om te kyk of die persoon reeds dood is.

Vandat Siko op die toneel aangekom het, het hy nie die persoon hoor asemhaal nie.

Nou word daar verwys na 'n oorbel wat ook op die toneel gesien is.

Siko getuig hy wou probeer vasstel of Hannah op haar eie daar aangekom het en of sy soontoe geneem is.

Hy het voertuigspore opgemerk en dit is ook afgeneem. Die gebied was nat, weens dou.

Meer oor:  Kaapstad  |  Hannah Cornelius  |  Moord  |  Cheslin Marsh  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.