Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Nou vir Die Stem, sê EFF ná uitspraak oor ou vlag
  • Adjunkregterpresident Phineas Mojapelo het in die gelykheidshof beslis die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag is haatspraak.
  • Die Nelson Mandela-stigting (NMS) het vroeër ’n aansoek in die gelykheidshof gebring, wat in die hooggeregshof in Johannesburg sit, om te bepaal of dit gelykstaande aan haatspraak is om die ou vlag te swaai. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) is die tweede aansoeker in die saak.
  • Hulle aansoek spruit uit ’n voorval in 2017 toe foto’s van mense wat die ou vlag swaai wyd op sosiale media versprei is tydens die Swart Maandag-optogte, wat landswyd teen plaasaanvalle gehou is.
21 Aug. 14:04:13

ANC verwelkom uitspraak

Die ANC het in 'n verklaring sy stem gevoeg by dié wat die uitspraak verwelkom het.

"Ons stem saam met die hof dat die vertoon van die ou vlag die waardigheid van swart mense benadeel en dat dié wat dit vertoon verdrukking bo bevryding kies," sê Pule Mabe, ANC-woordvoerder.

"Die uitspraak steun die ANC se posisie dat die ou vlag en ander apartheidsbesittings verdelend is en 'n hunkering na die verlede verteenwoordig."


21 Aug. 13:52:53

Die FAK het in 'n verklaring die volgende gesê:

Baie Suid-Afrikaners onthou President Mandela as 'n simbool van versoening en brugbou. Dit is 'n ope vraag of die Nelson Mandela-stigting en hulle meelopers in die gees van oud President Mandela opgetree het? Die uitspraak toon duidelik dat Suid-Afrikaners nog nie gereed is om n komplekse geskiedenis op 'n sensitiewe en kultureel volwasse wyse respekvol te hanteer nie. Die maklike uitweg is om 'n totalitêre eendersheid op mense af te dwing. Die uitspraak is 'n terugslag vir ware  demokrasie. Die ou vlag word deur die uitspraak inderwaad gereduseer tot 'n vloerlap om die geskiedenis skoon te was.

- Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK

21 Aug. 13:37:15

Afrikanerbond se reaksie:

Vandag se probleme sal nie met vorige bedelings se vlae en simbole opgelos word nie – die verbod op die vertoon van die ou vlag ook nie. 

Afskeid is formeel in 1994 geneem van die Oranje-Blanje-Blou as amptelike vlag.

Die vlag is nie meer vertoon by amptelike byeenkomste van vorige regerings, militêre geleenthede en in elke skool en staatsgebou in die ou Suid-Afrika nie. Die nuwe vlag is in 1994 aanvaar.

Vyf-en- twintig jaar later is die openbare vertoon van die ou vlag as haatspraak verklaar. 

Gebaseer op die Nederlandse Prinsevlag het die vlag wat in 1928 bekendgestel is ook die Union Jack, die vlag van die Vrystaatse Republiek  en die vlag van die Zuid-Afrikaanse Republiek in die middel gesentreer op die wit baan bevat.

Op ? manier het die vlag wel daarin geslaag om die geskiedenis saam te vat. Maar die vlag, ten spyte van sentimente, is weggebêre en geniet nie meer enige status nie.

Dit is in 1994 vervang deur die huidige vlag van Suid-Afrika met die aanvang van die republiek se oorgangsgrondwet en die einde van apartheid. Die vertoon van die ou vlag was kontroversieel. 

Sommige mense beskou dit as 'n simbool van geskiedenis en Afrikaner-erfenis, terwyl ander dit as 'n simbool van apartheid en van wit oppergesag beskou. Die openbare vertoon van die ou landsvlag is nou haatspraak. 

Stelselmatig word simbole van die geskiedenis vernietig. 

Dit open ongelukkig die deur vir ander simbole wat vir een persoon ‘n erfenis en geskiedenis is, maar vir ? ander ? simbool van onderdrukking.

Vryheid van spraak deur simbole word nou ingeperk. Wat is volgende? Die deur is nou geopen om ander simbole ook te onderdruk.   

Die Afrikaanse gedeelte van die Volkslied, die simbole van die ANC en die EFF wat aan geweld gekoppel word, die SAKP wat met ? internasionaal vernietigende ideologie verbind word. 

Vandag se probleme sal nie met 'n verbod op vorige bedelings se vlae en simbole opgelos word nie.

Misdaad, korrupsie, staatskaping en ekonomiese ineenstorting gebeur wel onder die huidige vlag. Om die simbool weg te neem los nie die probleem op nie. 

Om ? Suid-Afrikaner te wees verg deesdae ? groter gesindheid van ruimte en begrip, van respek en verantwoordelikheid.

Ons Suid-Afrikaanse diversiteit, vra dit van ons. 

Net so moet ons ook begrip en respek hê vir mekaar se geskiedenis. Om die vertoon van die ou vlag in te perk stel mense teen mekaar op, in stede daarvan om mense nader aan mekaar te bring.  

Verklaring deur Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

21 Aug. 13:32:38

EFF: Nou vir Die Stem

Die EFF het in 'n verklaring die uitspraak van die gelykheidshof verwelkom. Die party sê dit is 'n mylpaal en oorwinning wat behaal is in die stryd om al die simbole van apartheid en kolonialisme te laat sneuwel.

Die party sê voorts die "nasionale volkslied van apartheid" moet nou volg aangesien "die apartheidsvlag en -volkslied aan dieselfde spesie behoort".

Die party versoek pres. Cyril Ramaphosa om die gedeelte van "Die Stem" uit die nasionale volkslied te verbied.

"Om swartmense te dwing om Die Stem te sing is soos om hulle te vra om die die apartheidsvlag te salueer."

Die party vra voorts dat straatname en simbole wat "moordenaars van apartheid vier" ook as haatspraak geklassifiseer word en uitgewis word.

21 Aug. 13:10:05

21 Aug. 12:52:05

'Die uitspraak beteken nié die vlag word verban nie'

Sello Hatang, uitvoerende hoof van die Nelson Mandela-stigting, het buite die hof, nadat uitspraak gelewer is wat die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag verbied, aan joernaliste verduidelik die vlag mag steeds in museums (historiese konteks), akademiese, artistieke en joernalistieke kontekste aangewend word.

"Dit mág in die privaatheid van jou huis hang, as dit niemand wat dit sien, gaan aanstoot gee nie."

Hatang het verduidelik ’n huiswerker sal byvoorbeeld uit die aard van die saak moontlik aanstoot neem.

"In so ’n geval moet die vlag verwyder word."

21 Aug. 12:48:57

21 Aug. 12:40:59

Nelson Mandela-stigting verwelkom uitspraak oor ou vlag

Sello Hatang, hoofuitvoerende beampte van die Nelson Mandela-stigting, het die hofuitspraak verwelkom dat die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag gelykstaande is aan haatspraak.

Die stigting het in sy betooghoofde voor die hof gesê: “Die ou vlag verteenwoordig niks anders as die onmenslike stelsel vanrassesegregasie wat Suid-Afrika voor 27 April 1994 regeer het nie . . . Apartheid was ’n misdryf teen diemensdom. Om die vlag van apartheid-Suid-Afrika ten toon te stel, verteenwoordig steun vir daardiemisdaad.”

Hy het verder aangevoer die ou vlag is ’n “simbool van wit oppergesag en swart ontburgering”.

“Dit kombineer vier vlae van die Europese herkoms – die Britse Union Jack en die vlae van die Transvaal en Oranje Vrystaat – republieke wat deur die Boere-setlaars gestig is – teen die agtergrond van die oranje,blanje, blou Nederlandse Prinsevlag.”

Dié vlag sluit dus swart mense uit, het die stigting aangevoer.

21 Aug. 12:36:51

AfriForum reageer op uitspraak

Ernst Roets van AfriForum het buite die hof, waar daar vroeër beslis is dat die swaai van die ou Suid-Afrikaanse vlag gelykstaande is aan haatspraak, gesê dié burgerregteorganisasie gaan eers die uitspraak bestudeer voordat hy kommentaar lewer.

Die aansoek, wat in die gelykheidshof aangehoor is, is teen AfriForum gebring nadat sy lede glo die vlag op die Swart Maandag-protesoptogte teen plaasmoorde in 2017 rondgeswaai het. AfriForum het die aansoek teengestaan en ontken die aantygings.

21 Aug. 12:15:20

Regter beslis ou vlag is haatspraak

Adjunkregterpresident Phineas Mojapelo het Woensdagoggend in die gelykheidshof in Johannesburg beslis mense wat die ou Suid-Afrikaanse vlag uitstal en swaai 'n duidelike bedoeling het om seer te maak en dit bevorder en hits haat teen swart mense aan ingevolge die gelykheidswet.

"Diegene wat verkies om die vlag te swaai kies opsetlik om wit heerskappy te bevorder, ander mans en vrouens te verneder en eenheid te verwerp," het Mojapelo gesê.

Mojapelo het in sy uitspraak gesê die oorwegende mening van landsburgers is dat die ou vlag onder meer apartheid en wit heerskappy simboliseer.

Die regter het die geskiedenis van die ontstaan van die vlag in ag geneem en tot dié slotsom gekom.

Hy het ook verder gesê AfriForum se intrepretasie van haatspraak is verkeerd en ongrondwetlik.

"Haatspraak moet alle vorme van idees en uitdrukkings - nie net woorde - insluit," het Mojapelo gesê.

Hy sê die vertoon van die vlag, sonder 'n geldige rede, verdeel die land en is teen die gees van Ubunthu.

Foto: Isabel Venter

Meer oor:  Hof  |  Gelykheidshof  |  Ou Vlag  |  Ou Landsvlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.