Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Piet Retief: Werkers ‘het hul werk kom terugvra’

Die landdroshof in Piet Retief, Mpumalanga, hoor meer oor die omstandighede waarin twee mans op 9 April op ’n plaas in die omgewing doodgeskiet is. 

Daniel Cornelius Malan (38) en Cornelius Lourens Greyling (25), twee van die ses beskuldigdes, het reeds Maandag hul eedsverklarings by die hof as deel van hul borgtogaansoek in dié hof ingedien.

Hulle staan saam met saam met Othard Johann Klingenberg (53), Ignatius Michael Steynberg (31) en Zenzele Mzikayise Patric Yende (48) op twee aanklagte van moord op die broers Amos en Zenzele Coka tereg.

Malan word ook van dwarsboming van die gereg aangekla.

Die sesde verdagte, Werner Potgieter, is nog in die hospitaal en het ooreengekom om homself oor te gee sodra hy gesond is.

Hy sal saam met Yende en Greyling op bykomende klagte van ontvoering en poging tot moord tereg staan. Volgens die voorlopige klagstaat hou dié klagte verband met die ontvoering en aanranding van Nhlanhla William Hlatswayo. 

LEES OOK: Piet Retief: Beskuldigdes sê hulle het hulself verdedig

Hier volg die jongste:

20 Apr. 16:37:46

Die saak is Dinsdagmiddag uitgestel tot 26 April.

20 Apr. 15:12:16

Pampoenkraal: Werkers ‘het hul werk kom terugvra’ - Isabel Venter

’n Groep van sewe voormalige plaaswerkers was op 9 April op die plaas Pampoenkraal om hul werk terug te vra, het ao. David Nhlapho, hoofondersoekbeampte, Dinsdag in die landdroshof op Piet Retief in die aansoeke om borgtog van die vyf beskuldigdes getuig.

Volgens Nhlapho het die groep nie enige stokke of wapens by hulle gehad nie.

Hierdie groep het op die plaas gewag om met Cornelius Lourens Greyling (25) te onderhandel. Terwyl hulle gewag het, het een persoon in die groep ’n oproep van ’n tante van hom ontvang om hulle te waarsku dat die boere besig is om na die plaas te mobiliseer.

Dit was omstreeks 10:00.

Benewens Greyling word sy stiefpa, Werner Potgieter, Zenzele Mzikayise Patric Yende (48), Othard Johann Klingenberg (53) en Ignatius Michael Steynberg (31) van moord op die Coka-broers Amos en Zenzele aangekla.

Een getuie het gesê ’n groep, bestaande uit sowat 50 wit boere en swart plaaswerkers, het by die plaas opgedaag, het Nhlapho getuig.

Hulle het eers onderling gepraat en toe het Potgieter na bewering opdrag gegee dat die sewe mense gegryp en gevang moet word.

Talle skote is afgevuur en die groepie van sewe mense het op die vlug geslaan, het Nhlapho aan die hof gesê.

Dié wat weggekom het, het omgedraai en gesien hoe Nhlanhla William Hlatswayo gegryp geword.

Hierdie groep het toe hul familielede gebel om te kom help.

Volgens die ondersoekbeampte was die gemeenskap angstig om Hlatswayo te help omdat daar in 2020 na bewering ’n soortgelyke geval van aanranding was. In dié geval is drie mense aangerand, onder wie twee wat glo aan hul wonde beswyk het.

Yende en Potgieter word glo by dié saak betrek, maar is nog nie formeel aangekla nie.

Volgens Robert Molokoane, die staatsaanklaer, is dié saak Maandag op 19 April 2021 na die direkteur vir openbare vervolging vir ’n besluit oor vervolging verwys.

Nhlapho het getuig dat onder andere die Coka-broers toe daar opgedaag het. Amos het voor die hek gestop in ’n Toyota Hilux-bakkie, maar is toegang geweier.

Volgens getuieverklarings het Klingenberg hom daar by die hek begin slaan. ’n Struweling het uitgebreek en skote is afgevuur.

Volgens die ondersoekbeampte het Klingenberg toe vir Amos van agter geskiet. Die koeël het Amos in die lae rug getref en is by sy regterbors uit.

“Hierna het hy (Klingenberg) die oorledene (Amos) ook in die kop geskiet, bo die regteroog,” het Nhlapho getuig.

Zenzele het omgedraai en gevlug.

Ooggetuies het die polisie meegedeel dat een van die boere op die toneel ’n vuurwapen langs Amos neergesit het, dit weer opgetel het en neergegooi het toe ander boere op hom skreeu om die wapen te los.

Die saak duur voort en die hof het ná middagete begin om die ondersoekbeampte te kruisondervra.

20 Apr. 14:16:27

Motoris met klippe bestook by hof

Die motor van 'n Johannesburger, wat onbewus was van die oproer voor die Piet Retief-landdroshof in Mkhondo, Mpumalanga is met klippe bestook toe hy by die hofgebou in Kerkstraat verby wou ry.

Die polisie is glo besig om die saak te ondersoek, maar kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie. Volgens onbevestigde berigte het die betogers ook 'n drankwinkel beroof.

Strate om die hof is vir die tweede agtereenvolgende dag afgesper met lemmetjiesdraad terwyl vyf verdagtes, wat van die moorde op twee broers beskuldig word, aansoek om borgtog doen.

20 Apr. 12:26:18

KYK: Polisie skiet rubberkoeëls op oproerige betogers buite hof

Die betogers het terwyl hulle by die hof was gehoor van 'n onverwante saak waarin 'n man daarvan aangekla word dat hy 'n huiswerker na bewering verkrag het.

Die betogers het oproerig geraak toe hulle hoor die saak teen Peter Swart, wat reeds sedert 2014 sloer, is weer uitgestel.

Van die betogers wat vandag by die hof is, sê hulle volg ook die vordering in dié saak.

Die SAUK het voorheen berig die rede waarom die saak sloer is omdat daar 'n tegniese fout was met die etikettering van bloedmonsters, luidens Monica Nyuswa, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag.

Die polisie het rubberkoeëls afgevuur om die betogers uiteen te jaag. – Melinda Stuurman

Lees die SAUK se berig hier.
20 Apr. 12:11:49

Betogers oproerig toe hulle vermaan word

Die hof het nadat Yende se verklaring voorgelees is, kortliks verdaag.

In dié tyd het die betogers buite die hof oproerig geraak, omdat hulle vermaan is deur die hofbestuurder.

Die bestuurder het hulle daaraan herinner dat ingevolge ’n hofbevel hulle nie toegelaat word om foto’s van die beskuldigdes in die hof te neem nie.

Slegs die media word toegelaat, het die bestuurder gesê.

Hulle het haar begin uitskel en gesê dit is nie haar hof nie, sy het geen reg om hulle te vermaan of uit die hof te gooi nie.


20 Apr. 11:55:52

Piet Retief: Voorman vertel hoe boer aangerand is

Zenzele Mzikayise Patric Yende, plaasvoorman op die plaas Pampoenkraal by Piet Retief, Mpumalanga, het Dinsdag in sy eedsverklaring wat aan die hof voorgelê is, gesê hy was geensins betrokke by die moord op die Coka-broers nie. 

Hy het wel gesien hoe sy werkgewer, Werner Potgieter, die betrokke dag na bewering deur Nhlanhla William Hlatswayo aangerand is. 

“Die klaer (Hlatswayo) het ’n knopkierie vasgehou en my werkgewer (Potgieter) daarmee oor die kop geslaan,” sê Yende in sy verklaring. 

Dié konfrontasie is voorafgegaan deur vier dae van onrus op die plaas, sê Yende verder in sy verklaring. 

“In die vier dae voor die voorval was daar sporadies betogings deur ’n groep persone wat ontevrede was omdat die werkgewer (Potgieter) seisoenale werkers op die plaas in diens neem. Hierdie werkers is geïntimideer en die betogers het geëis dat hulle die plaas moet verlaat,” sê Yende in sy verklaring.

Op 9 April het Potgieter na die plaas gekom om sake uit te praat.

Hy het vir Hlatswayo gevra wat sy klagtes is. Dit is toe dat Hlatswayo vir Potgieter geslaan het, aldus Yende. 

Hlatswayo se aanval op Potgieter was glo verwoed, en hulle het al twee op die grond neergeval.

Yende het tussenbeide getree en Hlatswayo van Potgieter afgetrek. Yende sê hy glo as hy nie tussenbeide getree het nie kon Potgieter se beserings nog erger gewees het. 

“Ek het vir Potgieter gehelp om Hlatswayo onder bedwang te bring. Sy (Hlatswayo) hande is vasgebind en die polisie is gevra om na die plaas te kom,” sê Yende. 

Hierna het Yende saam met Potgieter en Hlatswayo onder ’n koelteboom gewag totdat die polisie opdaag, en later ook toe die Coka-broers op die plaas opgedaag het. 

“Ek het gehoor hoe skote afgevuur word, maar kon nie duidelik sien wat presies gebeur het nie,” sê Yende. 

Die verhoor duur voort.

20 Apr. 10:50:06

Othard Johann Klingenberg (53) het Dinsdag in die landdroshof in Piet Retief gesê hy het uit selfverdediging opgetree toe hy ’n skoot op een van twee broers op 9 April op die plaas Pampoenkraal afgevuur het.

Foto: Isabel Venter

20 Apr. 10:49:23

Volgens Othard Johann Klingenberg (53) het die man wat hy geskiet het in sy rigting gedraai en een skoot afgevuur.

Klingenberg sê in sy eedsverklaring hy het instinktief teruggeskiet en al die geskietery het dadelik opgehou.

“In daardie stadium was ek nie seker of ek die man net gewond het nie en indien wel waar hy gewond was nie. Ek het gesien hoe hy inmekaarsak,” sê Klingenberg.

Hy het aan die hof benadruk hy het uit noodweer opgetree en nie met enige kwaadwillige opset nie. 

Foto: Isabel Venter

20 Apr. 10:35:10

Foto: Isabel Venter

20 Apr. 10:34:54

Foto: Isabel Venter

Meer oor:  Moord  |  Hof  |  Misdaad  |  Piet Retief-Voorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.