Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Medisyne beïnvloed Xander se bekentenis, sê sy regspan
  • Xander Bylsma word aangekla van die moorde op Sharnelle Hough (16), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Albei was in gr. 11 aan die Hoërskool Stella.
  • Die twee boesemvriendinne se lyke is op Saterdag 26 Mei 2018 in hul koshuis by die skool gevind. Albei is verwurg en het ook ander beserings gehad wat daarop dui dat hulle waarskynlik aangeval is.
  • Twee polisielede het vandag getuig in 'n binneverhoor, as deel van Bylsma se moordverhoor, in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Beide het getuig Bylsma was nie volgens hulle kennis onreëlmatig beïnvloed om uitwysings en 'n bekentenis te doen nie. 
  • Die binneverhoor moet die toelaatbaarheid van Bylsma se bekentenis en uitwysings op die moordtoneel bepaal. Bylsma sal later self in die binneverhoor getuig. 
  • Hoewel Bylsma eers by ’n privaatspeurder oor die moorde gebieg en toe ’n bekentenis by die polisie afgelê het, beweer hy nou hy is onskuldig en dat hy nooit eens op die moordtoneel was nie. Sy regspan voer aan hy was onder die invloed van medikasie toe hy die uitwysings en die bekentenis gedoen het. 
  • Bylsma sal na verwagting Dinsdag self in die binneverhoor getuig. 
13 Mei 14:28:30

Hiermee sluit Netwerk24 sy regstreekse dekking. 

13 Mei 14:27:48

Xander Bylsma Maandag tydens sy hofverskyning. Foto: Felix Dlangamandla

13 Mei 14:25:42

Voor: Ronnie Hough (links), Sharnelle se pa, en haar stiefma, Anna Hough. Agter sit Gert en Elize Pretorius en ander familielede wat die Houghs by die hof ondersteun. Foto: Felix Dlangamandla

13 Mei 14:24:45

Saak word tot Dinsdag uitgestel

Adv. Johan Smit sluit nou die staat se saak in die binneverhoor oor die toelaatbaarheid van die bekentenis wat Bylsma gemaak en die uitwysings wat hy gedoen het. Rai vra dat die saak tot Dinsdag uitgestel word sodat hy en Adriaan Janse van Rensburg, sy prokureur, met Bylsma kan konsulteer. Regter Ronald Hendricks vra die polisiebeamptes in die hof om Bylsma nie voor 16:30 terug te vat na die Rooigrond-gevangenis buite Mahikeng nie, om sy regspan tyd te gee om met hom te konsulteer. Die hof verdaag.

13 Mei 14:23:45

Xander Bylsma praat Maandag in die hof met sy pa, Monté. Foto: Felix Dlangamandla

13 Mei 14:22:16

Rai is nou klaar met kruisondervraging. Paul verlaat die beskuldigdebank.

13 Mei 14:22:05

Xander was bang sy ouers word leed aangedoen

Rai: U het gesê u is gevra om te hoor of Bylsma dieselfde storie vir u vertel as wat hy vir die privaat ondersoeker vertel het. Waarmee moes u dit vergelyk?

Paul: Die kolonel het nie vir my 'n storie vertel (voordat ek met Bylsma gaan praat het nie). Ek moes agterna gaan vertel wat die verdagte vertel het en toe is dit vergelyk.

Rai sê Bylsma sê Paul het nie sy swygreg aan hom voorgehou nie. Hy sê Paul het ook nie Bylsma se reg tot ’n prokureur aan hom verduidelik nie. Paul ontken albei aantuigings.

Rai: Het hy ooit vir u gesê hy wil nie sy ouers teenwoordig hê nie? Paul: Nee.

Rai: Ek sê nie hy het ooit 'n rede gegee nie, maar dit was omdat daar dreigemente was dat hulle leed aangedoen sou word.

13 Mei 14:13:23

'Xander was nie by sy positiewe nie'

Rai hervat kruisondervraging van kapt. Paul. Rai vra of Bylsma alleen was toe Paul die items by hom gevat het, waarop Paul antwoord dat Bylsma se ouers by was.

Rai: Hoekom het u gedink Bylsma was nie onder die invloed van iets nie?

Paul: Hy het nie na drank geruik nie en hy het soos 'n normale mens gepraat.

Rai: Ons sal nog aanvoer dat die beskuldigde nie by sy volle positiewe was nie.

Paul: Ek kan nie daarop kommentaar lewer nie.

Rai: Die rede hoekom hy nie by sy positiewe was nie, was nie weens alkohol nie, maar weens voorgeskrewe medisyne. 

13 Mei 14:05:55

Bylsma is terug in die beskuldigdebank. Die verrigtinge hervat.

13 Mei 14:02:58

Susan Cilliers, Netwerk24-joernalis, doen verslag by die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. In die video gee sy agtergrond oor die binneverhoor wat moet bepaal of die uitwysings en bekentenis wat deur Bylsma gedoen is, toelaatbaar is.

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Mmabatho  |  Stella  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.