Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Uitspraak in Dros-saak Maandag verwag
  • Die staat en verdediging lewer hul slotbetoë in die verhoor teen Nicholas Ninow (21) voordat regter Mokhine Jonas Mosopa later uitspraak in die sogenaamde Dros-verkragtingsaak gee.
  • Ninow het Maandag, op die eerste dag van die verhoor in die hooggeregshof in Pretoria, skuld beken op twee aanklagte van verkragting, sowel as van die besit/gebruik van dwelms asook regsverydeling. Hy het skuld ontken op ’n aanklag van aanranding.
  • Die staat het nie sy pleit op die verkragtingsaanklagte aanvaar nie, omdat sy weergawe van die gebeure van dié van die slagoffer, die sewejarige meisie, verskil.
  • Die staat het ses getuies geroep, onder wie die slagoffer, haar ma en mense wat op die dag van die verkragting in die Dros in Silverton, Pretoria gewerk het. Die verdediging het geen getuies geroep nie.
  • Die verwagting is dat adv. Dorah Ngobeni, die aanklaer, Donderdag sal betoog dat Ninow die kind op 22 September 2018 met voorbedagte rade en met die opset om haar te verkrag na die restaurant se vrouetoilette gevolg het.

12 Sep. 11:34:30

Hiermee sluit Netwerk24 se regstreekse dekking van die dag se verrigtinge. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. 

12 Sep. 11:23:05

Die partye het klaar betoog. Die regter sal Maandag uitspraak lewer. Ninow bly in aanhouding tot dan.

12 Sep. 11:18:28

Nicholas Ninow (21) tydens sy verskyning in die hooggeregshof in Pretoria Woensdag. Foto: Deaan Vivier

12 Sep. 11:17:11

"Irrelevant of Ninow iemand raakgeslaan het, hy het gemik," sê regter

Oor die aanklag van aanranding, sê Alberts dat nie een van die twee klaers (Dros-werknemers) met die gordel raakgeslaan is nie.

Daarby het een getuig dat Ninow twee houe met die gordel geslaan/na hulle gemik het, terwyl die ander een volhou dat hy net een keer die gordel deur die lug geswaai het.

Die regter sê dat daar wel 'n hou gemik is. Dit is irrelevant of dit iemand getref het.

Die partye verwys nou net na verskillende regsgesagte om hul argumente te versterk.

12 Sep. 11:13:06

Alberts betoog ook dat daar wit poeier, die dwelm Cat, om die vloer van die toilethokkie was, wat wys Ninow was daar om (soos hy aanvoer) dwelms te gebruik.

12 Sep. 11:07:22

Verdediging bevraagteken getuienis oor wie eerste in die toilethokkie was

Alberts voeg by dat Ninow later na die kroegarea beweeg het, wat "so ver van die kinderspeelarea is as wat 'n mens kan kry".

Die prokureur betoog ook dat 'n mens nie van Ninow se suggestiewe aanmerking oor 'n ander vrou, die afleiding kan maak dat hy nou "op jag" was nie.

Oor die voorval in die toilethokkie, betoog Alberts dat die hof net die klaagster se weergawe het dat sy eerste daar was en Ninow ingekom het.

Die regter antwoord: "Die kind kan wel nie sê hoe lank sy in die toilethokkie was toe die beskuldigde ingekom het nie, maar sy is oortuig dat sy wel eerste daar was."

Die regter voeg by dat, as Ninow wel skelm dwelms wou gebruik, soos hy aanvoer, hoekom na die vrouebadkamer gaan as hy nie betrap wil word nie? "Hoekom dan nie na buite gaan nie?"

Alberts verwys na regsgesag dat die kind, as minderjarige en enkelgetuie se weergawe met versigtigheid hanteer moet word. "Sy is al getuie wat beweer dat die beskuldigde haar gedreig het om stil te bly toe haar ma na haar geroep het," sê die prokureur.

Die regter antwoord dat dit kan wees omdat daar niemand anders teenwoordig was nie toe Ninow na bewering die kind gedreig het. 

12 Sep. 10:57:12

Ninow se verdediging vra hof om te aanvaar dat hy impulsief opgetree het

Herman Alberts, Ninow se prokureur, betoog nou.

Hy vra dat die hof vir Ninow skuldig bevind op die weergawe waarop hy skuld beken het: dat hy eerste in die toilethokkie was en die kind toe ingekom het, en dat Ninow impulsief opgetree het. 

Alberts sê die kriteria hier is die volgorde van gebeure wat gelei het tot die voorval (die verkragtings).

Die regter vra nou vir Alberts oor Ninow wat verskeie kere van tafel verwissel het (met sy aankoms by die Dros).

Alberts sê daar is getuienis dat Ninow geskuif het om die deur beter te sien omdat hy vir iemand gewag het.

Alberts: "Hy het later weggeskuif van die tafel van waar hy die kinderspeelarea kon sien".

Die regter antwoord dat Ninow egter nie regtig vir iemand gewag het nie.

Alberts antwoord dat Ninow wel na die kroegarea geskuif het, nadat hy vir Johan Fourie ontmoet het.

" 'n Mens kan nie sê omdat iemand by 'n spesifieke tafel sit, dat hy aas op kinders nie."

12 Sep. 10:48:52

Nicholas Ninow (21) waar hy Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn het. Foto: Deaan Vivier

12 Sep. 10:48:22

Staat betoog oor klag van aanranding

Ngobeni antwoord dat teenstrydighede tussen getuies nie beteken hul getuienis is nie waar nie.

Dit was 'n emosionele situasie, voeg die aanklaer by, en as die hof nie vir Ninow skuldig bevind op die aanklag van aanranding nie, is hy skuldig aan poging tot aanranding.

12 Sep. 10:46:13

Ninow het slagoffer gesien, haar gevolg

Ngobeni vra die hof om te bevind dat Ninow die klaagster sien badkamer toe gaan het, haar gevolg het, sy klere uitgetrek en haar verkrag het.

Die aanklaer betoog nou oor die aanklag van aanranding waar die staat beweer dat Ninow na twee Dros-werknemers met sy gordel geslaan en/of gedreig het om hulle te slaan, toe hulle hom met die kind betrap het.

Ninow het skuld op die aanklag ontken.

Ngobeni sê net die dreigement van aanranding stel reeds 'n misdaad van aanranding.

Regter Jonas Mosopa bespreek die getuienis met die staat en noem dat die twee werknemers getuig het niemand is raak geslaan nie, terwyl die kind se ma beweer dat een wel in die gesig met die gordel getref is.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Pretoria  |  Dros-Verkragter  |  Dros-Verkragting  |  Dros-Saak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.