Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Staat se betoë in Krugersdorp-moordsaak lees soos riller

  • Die staat se slotbetoë is Donderdag aangehoor.
  • Cecilia Steyn (38), Zak Valentine (34) en Marcel Steyn (21) staan tereg op 11 moorde en ’n rits ander aanklagte wat bedrog en roof insluit.
  • Die staat voer aan hulle was deel van 'n "Christelike bediening", Electus per Deus, waarvan Cecilia die baasbrein was en waaronder die skrikbewind van die moorde reg oor die Wes-Rand gevoer is.
  • Die verdediging van Zak Valentine se slotbetoë word Donderdag voorgesit.
Lees ook: Die saak tot dusver

23 Mei 15:50:34

Dit bring 'n einde aan die staat se betooghoofde en die hof verdaag.

Adv. Amanda Nel, vir Zak, sal Vrydagoggend met betoë begin.

23 Mei 15:19:09

Marcel Steyn Woensdag in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

23 Mei 15:11:46

Roberts sê die staat eis nie meer 'n skuldigbevinding op klagte 21 tot 29 wat Zak betref nie. Dis al die moorde en misdrywe terwyl hy weggekruip het.

23 Mei 15:11:30

Aanspreeklikheid

Roberts: Dis die staat se betoog dat haar noodverweer van die hand gewys moet word.

Roberts: Die staat is dus van mening die getuienis teen die drie beskuldigdes is oorweldigend en dat hulle skuldig bevind moet word.

23 Mei 14:59:21

Marcel se getuienis: Waarom het sy dan niks gesê nie?

Regter: Hoe oud was sy met die eerste moorde?

Roberts: 14 jaar en 'n paar maande.

Marcel se getuienis is dat sy onder dwang opgetree het.

Roberts sê die feit dat sy nie kon wegkom nie en onder dwang opgetree het, is onwaar. Die regter vra wat sy dan nou moes doen, aangesien mense wat die groep verlaat, soos Mikeila, vermoor word.

Roberts sê egter daar was talle voorbeelde van mense wat weg is, soos Jacques de Villiers, Aranna van Loggernberg en Charl Truter.

Die regter wys Roberts daarop dat daardie persone almal heelwat ouer en uit die skool was.

Roberts sê die staat stem saam dat omstandighede moeilik was, maar dit vrywaar haar nie. "Die wet vereis 'n dringende dreigement, nie 'n vae dreigement oor jare nie. As daar 'n dringende dreigement was, wat het sy daarmee gedoen? Het sy die skoolhoof gaan vertel?"

Roberts sê ook sy kon met haar inhegtenisneming al na vore gekom het.

Roberts voer aan Marcel het ten alle tye volledig kennis gedra van alles wat om haar aan die gang was. Daar word ook aangevoer sy is hoogs intelligent.

Roberts sê die tydsberekening van haar gewaarwordings is erg verdag.

Roberts sê Marcel het deur die bestek van die verhoor nie 'n staatsgetuie geword nie, hoewel daar talle geleenthede was.

Roberts sê die teenwoordigheid van vrees is nie genoegsame rede om deel te neem aan misdrywe nie.

23 Mei 14:43:34

Cecilia se getuienis: Sou almal vir haar lieg?

Regter Francis: Sy was 'n indrukwekkende getuie. Sy het by haar storie gebly selfs onder moeilike kruisondervraging.

(Cecilia lyk beïndruk)

Regter: Wat maak jy van haar getuienis?

Roberts: Dis alles onwaar.

Die regter vra nou of al die getuies sou lieg oor Cecilia, die "42ste generasie heks" en so meer.

Roberts: Daar is geen rede nie. Ek dink dis veilig om te sê sy lieg.

Regter: Was sy 'n 42ste generasie heks?

Roberts: Nee, nie volgens twee van die getuies nie.

(Die ander getuies het dit vermoedelik almal geglo en só getuig)

Roberts sê Cecilia se ontkenning in die breë is al manier om los te kom van al die bewerings teen haar.

Die regter vra hoe het Dries Steyn, Cecilia se man, nooit van enigiets kennis gedra nie.

Roberts sê dis vir hom ook maar onverklaarbaar, veral aangesien soveel luukshede gereeld by die huis ingedra is - dinge wat hy nie gekoop het nie.

23 Mei 14:36:19

Zak se weergawe

Roberts sê Zak se weergawe wat Mikeila se moord betref is 'n totale ontkenning met 'n verregaande storie om homself te vrywaar.

Wat die ander misdrywe in Zak se getuienis betref: Regter Francis vra of almal dan teen hom saamgesweer het.

Roberts: Dis wat hy sê, ja, maar waar gaan al die beskuldigdes saamsweer teen 'n medebeskuldigde?

Regter Francis: Watter indruk dink jy het hy voor my gemaak?

Roberts: Ek dink hy was 'n onindrukwekkende getuie.

Roberts oor die beweerde verdigsel van sy dood: "Dis so verregaande ..."

Roberts: Die staat is van mening dat die hof die getuienis van die hand moet wys.

23 Mei 14:30:23

Marinda Steyn (foto) se getuienis

(Marinda het vir Cecilia getuig.)

Regter: Ons sal nou nie sê Marinda was n goeie getuie nie...

Roberts sê die staat voer aan Marinda se hoofdoel was om Cecilia uit elke toneel te skryf.

Roberts sê sy was baie eerlik oor alles waar Cecilia en Marcel nie ter sprake was nie.

(Die regter probeer nog bepaal watter deel van Marinda se getuienis hy nou eintlik kan glo.)


23 Mei 14:25:09

Onwettige besit van vuurwapens en ammunisie

Roberts verduidelik "gesamentlike besit". 

Roberts sê die hof het nog nie veel kere op gesamentlike besit ag geslaan nie, maar dring aan dis hier ter sprake, omdat iemand wat weet van die binnewerkinge van die groep, daaroor getuig het.

Regter Francis: Ja, het Marcel nie ook getuig dat iemand 'n vuurwapen iets genoem het nie?

Roberts: Ja, Marcel het getuig Marinda het haar pistool "Charlie" genoem.

Roberts betoog verder dat mense gewoonlik aan die onwettige besit van wapens skuldig bevind word wanneer hulle die wapen gebruik het om 'n moord te pleeg. "Maar in dié geval is wapens deel van die onderneming se werkinge."

23 Mei 14:18:09

Zak Valentine in die hof. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Marcel Steyn  |  Zak Valentine  |  Cecilia Steyn  |  Krugersdorp  |  Moordverhoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.