Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Xander moet derde regspan aanstel ná dag van drama in hof
  • Xander Bylsma word aangekla van die moorde op Sharnelle Hough (16), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Albei was in gr. 11 aan die Hoërskool Stella.
  • Die twee boesemvriendinne se lyke is op Saterdag 26 Mei 2018 in hul koshuis by die skool gevind. Albei is verwurg en het ook ander beserings gehad wat daarop dui dat hulle waarskynlik aangeval is.
  • Bylsma se regspan is sedert die begin van Woensdag se verrigtinge besig met besprekinge. Eers het regter Ronald Hendricks tyd vir Xander se pa, Monté, gegee om met hom in die hofselle te praat. Daarna het die regspan met Xander gepraat en ‘n ruk later het die regspan met Monté onderhandel.
  • Ná Dinsdag se drama in Bylsma se verhoor, toe hy onder kruisondervraging beweer het die private speurder Chris Saunders was teenwoordig tydens die aflegging van sy bekentenis, lyk dit nou of sy regspan belangrike besluite moet neem.

Wat Woensdagoggend in die hof gebeur het:

  • Hofverrigtinge in die binneverhoor van Xander Bylsma was veronderstel om 10:00 in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes, te begin, maar is vertraag deur onderhandelinge tussen Bylsma se regspan en die Bylsma-gesin.
  • Terwyl familie van die twee vermoorde meisies in die hofsaal gesit het, het Monté Bylsma eers met sy seun in die hofselle gaan praat. Nadat Bylsma kortliks in die getuiebank gesit het, is hy weer na die hofselle gebring waar sy regspan met hom gekonsulteer het.
  • Daarna het Bylsma se regspan met sy ouers, Monté en Mercia, gepraat buite die hof.
  • Omstreeks 14:30 het adv. Niven Rai in die hof opgestaan en gesê hy en sy kollega, Adriaan Janse van Rensburg, gaan onttrek weens 'n konflik van belange.
  • Bylsma het in die hof aangedui dat hy ‘n nuwe regspan wil aanstel en dat hy dit wel kan bekostig.
  • Regter Ronald Hendricks het die saak uitgestel.

15 Mei 14:45:24

Hiermee sluit Netwerk24 se regstreekse dekking van die hofverrigtinge. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. 

15 Mei 14:45:01

Adv. Rai groet Bylsma met sy ouers, Monté en Mercia, in die agtergrond. Foto: Susan Cilliers

15 Mei 14:41:13

Die hof verdaag.

15 Mei 14:41:09

Hendricks sê die saak sal nou uitgestel moet word sodat Bylsma kans kan kry om 'n regsverteenwoordiger aan te stel.

Hy vra Bylsma vir 'n aanduiding van hoe lank dit sal neem tot die verhoor weer kan voortgaan.

Bylsma: Ek weet nie hoe lank gaan dit duur nie.

Hendricks sê hy sal dan met die regter-president in Noordwes praat om te bepaal vir hoe lank die saak uitgestel moet word.

15 Mei 14:38:44

Hendricks verduidelik nou aan Bylsma dat sy regspan onttrek.

Bylsma sê hy aanvaar dit so.

Hendricks: Wil u opdrag aan 'n nuwe regsverteenwoordiger gee?

Bylsma: Ja.

Hendricks: Kan jy dit bekostig?

Bylsma kyk vir sy pa, Monté, wat agter in die hof sit.

Hendricks laat toe dat Monté en Mercia met Bylsma praat, terwyl die hof nog aan die gang is.

Bylsma: Daar is voorsiening gemaak vir regsverteenwoordiging.

Hendricks: So jy sal dit kan bekostig?

Bylsma: Ja.

Hendricks: Jy is ook geregtig op regsverteenwoordiging, al kan jy dit nie bekostig nie.

Bylsma: Ja.

15 Mei 14:36:01

Rai gaan sit.

Smit staan op: Ek is nie in 'n posisie om beswaar te maak nie, ons het gesien wat gister gebeur het. Ons moet wel in ag neem die beskuldigde is in die proses van kruisondervraging. Dis nie ideaal dat hy dan nie regsverteenwoordiging sal hê nie. Daar sal dus nie voortgegaan word met kruisondervraging nie.

15 Mei 14:34:45

Adv. Rai staan op en sê hy en Janse van Rensburg gaan onttrek. Hy sê dis weens 'n konflik van belange.

15 Mei 14:33:13

Die verrigtinge begin nou uiteindelik ná 'n oggend se afwagting oor wat die volgende wending in die Bylsma-saak gaan wees.

Regter Ronald Hendriks het pas by die hofsaal ingekom.

15 Mei 14:29:00

Bylsma sit nou met 'n geboë hoof in die beskuldigdebank en wag vir die hofverrigtinge om te begin. Dit lyk nie of hy weer in die getuiebank gaan wees nie. Dit versterk die vermoede dat sy regspan nou gaan onttrek. Foto: Susan Cilliers

15 Mei 14:25:44

Sharnelle en Xander, wat in 2017 in matriek in Hoërskool Stella was, het vir byna ‘n jaar uitgegaan voordat hulle in April 2018 uitgemaak het.

Ronnie Hough het tevore vertel Sharnelle en Xander was aanvanklik “baie verlief en erg oor mekaar”.

Hough het Xander self later gebel en gesê hy en Sharnelle moet uitmaak.

“Daar het dinge gebeur waaroor ek nie nou wil praat nie. Xander was nie aggressief nie, hy het gesê hy verstaan en dat hy ook dink dit sal goed wees.”

Meer oor:  Xander Bylsma  |  Marna Engelbrecht  |  Sharnelle Hough  |  Noordwes  |  Mmabatho  |  Stella-Moorde  |  Stella
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.