Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Dros-saak 'ingewikkeld', regverdig meer kundiges

    – Nicholas Ninow word daarvan beskuldig dat hy ’n sewejarige meisie op 22 September in die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag het.

    – Hy het die meisie na bewering na die vrouebadkamer agtervolg en haar in een van die toilethokkies vasgekeer.

    – Ninow word ook van die besit van dwelms aangekla.

    Lees ook: Vermeende Dros-verkragter voorlopig na Weskoppies

01 Nov. 10:22:45

Nicholas Ninow bly in aanhouding tot 28 November, wanneer die saak weer aangehoor word en hy daarna by die Weskoppies-hospitaal geëva­lueer gaan word. Foto: Deaan Vivier

01 Nov. 10:20:13

Volgens Ninow se regsverteenwoordiger, Riaan du Plessis, gebruik hy al dwelms sedert hy 14 jaar oud is en het hy 'n geskiedenis van selfmoordpogings weens bipolêre-gemoedstoornis. Foto: Deaan Vivier

01 Nov. 10:17:52

Nicholas Ninow het Donderdagoggend kop-onderstebo na die hofverrigtinge geluister, terwyl die Afrikaanse tolk vir hom vertaal wat in die hof gesê is. Foto: Deaan Vivier

01 Nov. 09:41:07

Saak tot 28 November uitgestel

Jacobson, die aanklaer, voeg by rakende die erns van die saak: Dit is 'n ernstige saak, maar nie meer ernstig as ander sake op die hofrol nie. Maar die saak is nie so kompleks nie, want die getuienis is "redelik straightforward". Deur ekstra kundiges op 'n paneel, wat reeds uit kundige psigiaters bestaan, te voeg, kan tot onnodige vertragings lei in Ninow se waarneming.

Landdros Thandi Theledi staan die verdediging se aansoek toe vir 'n ekstra psigiater en 'n kliniese sielkundige op die Weskoppies-paneel. Die saak word tot 28 November uitgestel vir 'n bed in Weskoppies. Ninow bly in aanhouding.

01 Nov. 09:25:47

Verdediging benadruk beskuldigde se gemoedstoornis en dwelmgebruik

Volgens Du Plessis sal die klaagster by die verhoor deur middel van kringtelevisie en 'n tussenganger moet getuig, terwyl dit klink asof daar ook beeldmateriaal van die Dros-restaurant se kameras is, wat alles die saak ingewikkeld maak en daarom word 'n kliniese sielkundige en 'n derde psigiater versoek.

Du Plessis sê Ninow gebruik al dwelms sedert hy 14 jaar oud was en het 'n geskiedenis van selfmoordpogings weens die bipolêre gemoedstoornis. Die kundiges is belangrik om sy toestand tydens die voorval te bepaal.

Die verdediging wil dus, ter wille van openbare belang en die belang van geregtigheid, benewens die twee psigiaters wat gewoonlik op 'n waarneming/evaluasie-paneel is, 'n derde psigiater en 'n kliniese sielkundige op die paneel hê.

Du Plessis sê die wet maak vir so 'n aansoek voorsiening wanneer iemand vir evaluering en waarneming gestuur word. Ninow luister koponderstebo terwyl die Afrikaanse tolk vir hom vertaal wat in die hof gesê is rakende die verdediging se aansoek.

01 Nov. 09:11:52

Geskiedenis van psigiatriese siekte

Riaan du Plessis, vir Ninow, bevestig dit. Hy sê hulle wil graag Ninow se geestestoestand tydens die beweerde misdrywe bepaal, aangesien daar 'n geskiedenis van psigiatriese siekte is. Du Plessis verwys na die Strafproseswet en sê  hiervolgens word 'n beskuldigde deur twee psigiaters geëvalueer. Hy bring 'n aansoek dat 'n derde psigiater by die paneel gevoeg word wat Ninow se geestesgesondheid sal bepaal.

Du Plessis bring sy aansoek op verskeie gronde. Die eerste is die erns van die saak, wat groot media- en openbare aandag geniet. Die DNS-uitslag is reeds beskikbaar, terwyl dit gewoonlik weke kan neem, en die staat poog duidelik om dinge te bespoedig, wat wys hoe ernstig die saak geag word. Daar is 'n nasionale belang by die saak en daarom is dit belangrik om deeglik te wees. Du Plessis voeg by dat die bewyse en getuienis "kompleks' is, soos die feit dat Ninow bipolêr is en waarvoor hy reeds behandeling en medisyne in die verlede ontvang het. Hy is al in 2013 as bipolêr gediagnoseer.

01 Nov. 09:07:57

Saak word geroep

Die saak word geroep. Ninow lyk asof hy teen die trane veg. Adv. Sanet Jacobson, aanklaer, sê hulle wag nog vir die forensiese uitslag van die middel wat tydens inhegtenisneming in die beskuldigde se besit gevind is. Nadat die verdediging gekonsulteer is, meen hulle dit is in belang van geregtigheid dat Ninow vir waarneming na die Weskoppies-  psigiatriese hospitaal verwys word omdat dit noodsaaklik is om alle elemente, ook toerekeningsvatbaarheid, bo alle redelike twyfel te bewys.

01 Nov. 09:05:22

Nicholas Ninow in die landdroshof in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

01 Nov. 09:03:30

Nicholas Ninow word uit die hofsel na die beskuldigdebank gebring. Iemand skree: "Just plead guilty". Die saak sal na verwagting binnekort geroep word.

01 Nov. 08:51:48

Politieke partye word by die hofsaal ingelaat. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Dros-Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.