Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Rohde se oudste dogter 'het nie meer 'n huis'

  • Jason Rohde, wat op 8 November skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan, was vandag in die hooggeregshof in Kaapstad vir vonnisverrigtinge.
  • Die staat het eerste getuies geroep om sy saak te stel oor waarom Rohde die maksimum vonnis moet kry.
  • Donderdag sal Rohde geleentheid kry om 'n pleidooi te lewer waarom hy eerder 'n ligte straf verdien.
  • Rohde se verhoor en vonnisverrigtinge word deur regter Gayaat Salie-Hlope behartig.
05 Des. 15:10:57

Die staat wil foto's van Susan Rohde inhandig by die hof. Dit is foto's van haar wat op die aand van 23 Julie 2016 geneem is. Die verdediging betwis die doel daarvan.

Regter Salie-Hlophe sê die staat moet weer gaan dink oor die foto's van Susan wat ingedien word by die hof. Sy sê die hof wil Susan Rohde eerbiedig en indien daar foto's van haar geplaas word, moet dit van haar alledaagse lewe wees en nie soos sy lyk op die foto's nie.

Van der Spuy sê die foto's is in swak smaak. Dit sal goed wees om 'n mooi foto van Susan Rohde te sien en hy is bereid om sulke foto's te verskaf.

Die hof verdaag tot Donderdag.


05 Des. 15:04:45

Van der Spuy kruisondervra vir Perry en stel dit aan hom hy is deur die vervolging genader om sy verslae op te stel - is dit iets wat hy in sy pos doen by die Wes-Kaapse regering?

Perry antwoord hy skryf verskeie verslae.

Van der Spuy vra of dit nie vir hom eensydig was om slegs die een kant van die familie, Susan se kant, se weergawe te kry nie.

En dat hy nie Jason Rohde se ouers genader het vir 'n verklaring nie.

Perry antwoord sy verslae is objektief, dit maak nie saak met wie hy 'n onderhoud voer nie.

“My verslae gaan oor wat die uitwerking was op die direkte familie,” sê Perry. Van der Spuy vra wat van Jason Rohde se ouers?

Perry antwoord ja, dit kon 'n uitwerking gehad het.

Perry se getuienis is afgehandel.

05 Des. 14:59:08

Rohde se oudste dogter 'het nie meer 'n huis nie'

In Perry se verslag oor die oudste dogter, Kathryn, noem hy in haar daaglikse lewe besef sy elke oggend wanneer sy wakker word dat haar ma nie meer hier is nie.

Sy kry dan 'n naar gevoel in haar maag, waarna sy siek en leeg voel.

Haar ma se dood het elke aspek van haar lewe geraak. Sy mis klein dingetjies soos dat haar ma nie daar is wanneer haar sjampoe opraak nie.

Sy mis die nabyheid van haar ma en die emosionele ondersteuning wat sy van haar ma gekry het. Sy besef nou hoe haar vriende nie hul ma’s waardeer soos wat sy dink hulle dit behoort te doen nie.

Kathryn het haar studies gestaak weens haar pa se verhoor. Sy het aangedui dat sy nie meer 'n huis het om na heen te gaan nie, met haar ma wat dood is en haar pa wat skuldig bevind is.

Verder het daar 'n twis ontstaan in die familie en sy het niemand om te vertrou nie.

Die enigste mens wat sy nou vertrou is haar pa. Sy kan nie met een kant van die familie saamstem sonder om te voel dat sy die ander kant verraai nie en dit skep deurentyd wantroue en onsekerheid by haar. Sy het aangedui dat sy haar pa sal ondersteun en dat sy hom wil bystaan.

05 Des. 14:48:59

Die Rohde-egpaar se oudste dogter, Kathryn, het aangedui dat sy namens haar pa wil kom getuig, hoor die hof.


05 Des. 14:43:37

Oor die onderhoud met Kathryn Rohde, die oudste dogter, sê Perry hy het dit probeer reël, maar sy was nie ten gunste daarvan nie omdat sy hom nie vertrou het nie.

Perry het uiteindelik 'n onderhoud met haar gehad - sy het gevoel Perry sal die inligting teen hul pa gebruik in die saak.

05 Des. 14:40:16

Dit is moeilik vir die tweeling om te begryp dat hul pa tronk toe gaan.

Die familie kon nog nie behoorlik oor Susan Rohde se dood rou nie, en verbind nou hul ma se dood met die verhoor.

Dit is vir hulle baie moeilik en hulle het nog afsluiting nodig om hul ma se dood te verwerk, sê Perry.


05 Des. 14:37:59

Jozi (Joanna Georgia) het dit moeilik gevind om te praat en het emosioneel geraak.

Alles is nou sleg, vakansies en die lewe is nie meer dieselfde nie.

Jozi se akademiese prestasie is geknou, maar sy het gelukkig plek gekry om by die Universiteit Stellenbosch te studeer.

Dit is moeilik in die gesin, die een ouma rou oor die dood van haar dogter en die ander ouma troos haar seun, lees Perry uit die verslag.


05 Des. 14:34:04

Perry lees uit 'n verslag.

Die invloed van Susan Rohde se dood op haar oudste dogter, Kathryn Francis, asook die tweeling-dogters, Alexandra Olivia en Joanna Georgia, word aan die hof genoem.

In 'n onderhoud met die tweeling is genoem hulle het albei vir Susan Rohde as die hoofouerfiguur in die gesin beskou.

Alex het haar gevoelens gedeel en sy kon haar mening verbaliseer - hulle lewens is omgekeer. Sy sê Susan was die kern van die familie en toe sy hoor van haar ma se moord kon sy dit nie glo nie. Toe hulle dit begin verwerk is hul pa in hegtenis geneem.

05 Des. 14:26:31

Die volgende getuie is Rian Perry wat getuig oor die invloed wat Susan Rohde se dood op haar direkte gesinslede het. Foto: Jaco Marais

05 Des. 14:20:07

Die staat het nog een getuie, Rian Perry, wat 'n verslag opgestel het oor die invloed van Susan Rohde se dood op haar dogters en ander direkte familie.

Meer oor:  Kaapstad  |  Rohde-Moordsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.