Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: ‘Private speurder sit woorde in my verklaring,’ getuig Bylsma
  • Xander Bylsma word aangekla van die moorde op Sharnelle Hough (16), sy voormalige meisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie. Albei was in gr. 11 aan die Hoërskool Stella.
  • Die twee boesemvriendinne se lyke is op Saterdag 26 Mei 2018 in hul koshuis by die skool gevind. Albei is verwurg en het ook ander beserings gehad wat daarop dui dat hulle waarskynlik aangeval is.
  • Twee polisielede het Maandag getuig in 'n binneverhoor, as deel van Bylsma se moordverhoor, in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Albei het getuig Bylsma was nie volgens hul kennis onreëlmatig beïnvloed om uitwysings en 'n bekentenis te doen nie.
  • Die binneverhoor moet die toelaatbaarheid van Bylsma se bekentenis en uitwysings op die moordtoneel bepaal.
  • Hoewel Bylsma eers by ’n privaat speurder oor die moorde gebieg en toe ’n bekentenis by die polisie afgelê het, beweer hy nou hy is onskuldig en dat hy nooit eens op die moordtoneel was nie. Sy regspan voer aan hy was onder die invloed van medisyne toe hy die uitwysings en die bekentenis gedoen het.
14 Mei 16:29:43

Hiermee sluit Netwerk24 sy regstreekse dekking van Dinsdag se verrigtinge. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. 

14 Mei 16:27:32

Die hof verdaag nou tot Woensdagoggend 10:00. Smit sal dan voortgaan om Bylsma te kruisondervra.

14 Mei 16:27:25

Smit: Stem u saam dis van kardinale belang vir u weergawe dat selfs toe u daar by Kochlan gesit het, het die persoon wat gedreig het om u ouers te vermoor, daar gesit om dop te hou of u verklaar soos hy aan u voorgesê het?

Bylsma: Ek stem saam.

Smit: Wil u hou by u verduideliking dat u nie genoem het van Saunders by Kochlan nie, omdat u u weergawe so kort moontlik wou hou?

Bylsma: Ek het nie aan Chris Saunders gedink toe ek die verklaring afgelê het nie, net aan my ouers se veiligheid.

Smit: Ek praat van jou gemoedstoestand vandag in die hof, nie daardie dag nie.

Bylsma: Dis amper 'n jaar gelede, ek kan nie alles onthou wat mnr. Smit wil hê ek moet onthou nie. Dis my eerste keer in 'n getuiebank.

Smit: Probeer u sê u het vroeër vandag vergeet dat Chris Saunders teenwoordig was tydens die verklaring?

Bylsma: Dis korrek, daar is nog punte wat ek vergeet het.

14 Mei 16:21:41

Bylsma: Ek het nie geweet hoe die hof werk nie. Ek het dit in my notas geskryf. Nadat die getuie (Kochlan) afgestaan het, het ek gedink hy gaan weer terugkom. Toe verdaag die hof. En toe het ek my notas vir mnr. Rai gegee. Ek was onder die indruk hy (Kochlan) gaan weer ná die verdaging terugkom.

Smit: U lieg weer. Mnr. Rai het drie keer tydens sy kruisondervraging van Kochlan gevra vir 'n geleentheid om u te konsulteer. U is bewus dat Kochlan lieg, en dat die persoon wat u gedreig het, by Kochlan gesit het tydens die bekentenis?

Bylsma: Dis korrek. 

Smit: En u wil hê die hof moet glo dat u dit nie nodig gevind het om vir mnr. Rai te sê Kochlan lieg nie?

Smit: Het u ooit u vir mnr. Rai gevra of hy in u notas gesien het hoe Kochlan gelieg het?

Bylsma: Ek het hom nie gevra nie, ek het vertrou hy het dit gelees.

Smit: U het ook 'n ander geleentheid gehad om vir die hof te vertel Kochlan het gelieg. Toe u vandag begin getuig het. Is ek reg?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: Hoekom het u niks gesê dat Saunders teenwoordig was terwyl u oor die gebeure voor en tydens die verklaring getuig het nie?

Bylsma: Ek het my weergawe so kort en kragtig moontlik probeer hou.

14 Mei 16:17:52

Xander Bylsma sit Dinsdag in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Felix Dlangamandla

14 Mei 16:15:39

Smit: Hoekom het u niks oor die dreigemente van Saunders gesê nie?

Bylsma: Hy was by met die bekentenis, ek was bang as ek nie saamwerk nie, sal Saunders my nie help met borg nie.

Smit: Ek val van my stoel af. Was Saunders daar? Het u dit vir u advokaat gesê?

Bylsma: Ja.

Smit: Hoekom het adv. Rai dan nooit vir Kochlan gesê hy lieg toe hy getuig het dat julle alleen was toe hy die verklaring afgeneem het? Dis omdat u lieg. Sê u dus dat Saunders by was toe u die verklaring voor Kochlan afgelê het?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: Het u dit vir u advokaat gesê?

Bylsma: Ek het.

Smit: En u het gehoor Kochlan het getuig dit was net julle twee?

Bylsma: Ja.

Smit: En jy besef dadelik Kochlan lieg?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: En u bly stil?

Bylsma: Ek het dit in my notas neergeskryf.

Smit: Dis nie my vraag nie.

14 Mei 16:12:23

Bylsma getuig die laaste deel van die verklaring dat hy van die koshuis na sy ma naby Vryburg is, hy nie kon slaap nie en hy nie sy ouers betrokke wou hê nie, was sy eie woorde. Hy wou hulle nie betrokke hê nie omdat hy bang was Stefaans Engelbrecht sou hulle selfs by die hof vermoor.

Bylsma: Hy het gedreig om my by die hof te skiet indien ek skuldig bevind word.

Smit: Die dreigement was net teen u?

Bylsma: My pa is ook by die plaas met 'n wapen aangehou en op pad na Vryburg is ek ook gedreig my ouers sou vermoor word.

Smit: Maar daar was geen dreigement dat u ouers by die hof geskiet sou word nie.

Bylsma: Dis nie hoe ek dit sien nie. My ouers is gedreig, my pa is met 'n vuurwapen aangehou. So as iemand my in die hof wil skiet, wat keer hulle om my ouers te skiet?

Smit: Vir wie was u die bangste op 26 Mei: vir Stefaans Engelbrecht of Chris Saunders?

Bylsma: Ek was ewe bang vir albei.

Smit: Hoekom het u nie vir die polisie gesê Saunders het u gedreig nie?

Bylsma: Ek was bang as ek nie my samewerking gee nie, sou my ouers vermoor word.


14 Mei 16:04:49

Smit: Het u ooit vir Saunders gesê Sharnelle wou selfmoord pleeg en dat u haar net gehelp het?

Bylsma: Nee, ek het nie.

Smit: Wat het hy vir jou voorgesê hieroor?

Bylsma: Net voor Vryburg het hy vir my gesê Sharnelle wou selfmoord pleeg, ek het haar gehelp, ek het haar laat uitpass. Ek kan nie verdere details nou onthou nie.

Smit: Het u saamgestem met Saunders om dit te skryf in die verklaring?

Bylsma: Ja, ek moes.

Smit: So u het nooit self vir Saunders gesê Sharnelle wou selfmoord pleeg nie?

Bylsma: Nie waarvan ek bewus is nie.

Smit: U het nooit in u getuienis aan die hof gesê u is nie heeltemal seker oor wat tussen u en Saunders gebeur het nie?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: Dis nou eers in kruisondervraging wat u sê u is nie seker wat gebeur het nie.

Bylsma: Indien die opname (van die gesprek met Saunders) volledig was, sou ek nie hier gesit het nie.

Smit lees verder uit die verklaring: "Sy het vir my gesê dat sy nie meer op die aarde wil wees nie en dat sy nie ander mense wil seermaak nie. Ek het toe agter gekom dat sy vir my vra om haar te help om selfmoord te pleeg. Ons het 'n ooreenkoms gemaak dat ek 'n manier moet kry sodat sy nie die pyn moet voel nie. Ek het my arm om haar keel gedruk om haar te laat uitpass, met die tou klaar om haar nek. Ek wil net verklaar dat ek die tou by die trappe vasgemaak het toe sy nog gelewe het, en sy was bewus daarvan. Ek het haar stadig laat sak en weggestap, want ek wou dit nie sien nie. Ek het toe uit die koshuisgebou gestap na my Toyota Hiluxbakkie wat ek by die beesfeesterrein gelos het."

Bylsma sê hierdie deel van die verklaring is alles wat Saunders aan hom voorgesê het.

14 Mei 15:56:40

Smit: So u het nie alles onthou wat Saunders vir u gesê het toe u voor Kochlan gesit het vir die verklaring nie?

Bylsma: Ja.

Smit lees voort uit die verklaring: "Ek kan glad nie onthou wat gebeur het nie, dis asof my brein uitgesny het". Dis verlede tyd, sê Smit.

Smit: Dit lyk of u brein in die badkamer uitgesny het?

Bylsma: Ek kon nie vir Kochlan gesê het ek is voorgesê nie, anders sou my ma en pa vermoor word.

Smit: Maar u kon vir Kochlan gesê het u brein sny uit, nie dit het uitgesny nie. Hoekom nie?

Bylsma: Ek kan nie sin maak van die vraag nie.

Smit: Die enigste plek en tyd wat u brein kon uitsny, was voor Kochlan? Want u sê u was nie in die badkamer nie.

Bylsma: Dis korrek.

Smit lees uit die verklaring: "Sharnelle was besig om met 'n groenerige tou te speel nadat sy 'n langbroek gaan haal het".

Bylsma sê Saunders was op die toneel, hy het geweet hoe lyk die tou.

Smit: En die deel dat Sharnelle met 'n tou speel?

Bylsma: Dit kon sy eie storie gewees het wat hy opgemaak het.

Smit lees voort: "Ek het nie vir haar gesê wat in die badkamer gebeur het nie. Ons het lank gepraat oor ons verhouding en die rede hoekom ons uitgemaak het. Sharnelle het toe vir my gevra of ek haar sal help, dat sy nie meer op die aarde wil wees nie."

Bylsma beweer Saunders het al hierdie dinge vir hom voorgesê.

14 Mei 15:49:54

Smit lees voort: "Ek kan net onthou dat ek uit die badkamer afgestap het in die gang af."

Smit: Stem u saam die rede hoekom Saunders hierdie storie opgemaak het, is om vir u as verdagte te arresteer?

Bylsma: Dis hoe ek dit sien.

Smit: Hoekom sal Saunders toe hy voorgesê het, gesê het u kon nie mooi in die badkamer onthou nie?

Bylsma: Hy het meer besonderhede gegee, maar ek kon nie alles onthou nie.

Bylsma sê die gedeelte in sy verklaring waar hy sê hy kan nie onthou wat gebeur het (met Marna) nie, dis asof sy brein uitgesny het, was sy eie woorde en nie Saunders s'n nie.

Meer oor:  Noordwes  |  Xander Bylsma  |  Stella-Moorde  |  Stella
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.