Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Xander word Vrydag om 11:00 gevonnis

Die vermoorde Sharnelle Hough se familie hoop Xander Bylsma sal lewenslange tronkstraf opgelê word vir die moord op haar en Marna Engelbrecht.

Bylsma (21) se vonnisverrigtinge begin Woensdagoggend in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes.

Marna Engelbrecht (16) en Sharnelle Hough (17) se lyke is op Saterdag 26 Mei 2018 in hul skoolkoshuis by die Hoërskool Stella gekry.

Xander Bylsma
Xander Bylsma met 'n vorige verskyning in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes. Foto: Felix Dlangamandla

Regter Ronald Hendricks het in Februarie vanjaar bevind dit wás Bylsma (destyds toe skaars 19) wat die twee meisies vermoor het deur hulle te verwurg. Sharnelle se lyk het van ’n tou aan ’n trapreling gehang en Marna is gevind met die lusse van die drasak waarmee sy gewurg is nog om haar nek.

Hendricks het in sy uitspraak bevind Bylsma het beplan om Sharnelle te vermoor en dit te laat lyk asof sy haar eie lewe geneem het. Dít was duidelik uit getuienis wat gelewer is dat Bylsma vóór die moorde gedreig het om Sharnelle se “lewe hel te maak en haar tot selfdood te dryf”.

Wat kan ons verwag?

Die boesemvriendinne Marna Engelbrecht (links) en
Die boesemvriendinne Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough was onafskeidbaar voor hulle op Saterdag 26 Mei 2018 vermoor is.

Adv. René Korhaan, ’n ervare staatsaanklaer en deesdae lektor in strafreg aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het vroeër gesê Bylsma word moontlik deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar vir die moord met voorbedagte rade op Sharnelle, asook ’n voorgeskrewe minimum vonnis van 15 jaar vir die moord op Marna omdat dié moord nie met voorbedagte rade gepleeg is nie en omdat Bylsma ’n eerste oortreder is.

Daar kan slegs van die voorgeskrewe minimum vonnis afgewyk word indien daar dwingende en wesenlike omstandighede is wat dit regverdig. Bylsma kan dus verwag om lewenslange tronkstraf opgelê te word indien daar geen versagtende omstandighede is nie.

Wanneer ’n lewenslange tronkstraf opgelê word, word die vonnisse gewoonlik samelopend uitgedien.

Volg die regstreekse dekking hier:

05 Aug. 15:37:58

Smit is nou klaar met sy betoog.

Regter Hendricks sê hy sal Bylsma Vrydagoggend om 11:00 vonnis.

Die hof verdaag.

05 Aug. 15:37:45

'Xander bedink hom nie ná eerste moord'

Smit sê dit is ook erg verswarend dat Bylsma twee moorde gepleeg het. "Daar het 'n tyd verloop tussen die twee moorde. Hy het Marna in die badkamer verwurg; dit het minute geduur. Hy moes haar voel terugveg om haar lewe. Maar toe gaan hy terug. Hy is so boos dat hy toe ook vir Sharnelle vermoor.

Hy het ná die eerste moord nooit gedink 'heng, wat het ek nou gedoen nie'. Daar was 'n tyd- en plekverskil tussen die moorde.

"As daar ooit 'n saak was waar 'n jong persoon lewenslange tronkstraf verdien, is dit Bylsma se saak. Ek vra vir lewenslange tronkstraf vir die moord op albei die meisies."

05 Aug. 15:35:06

Smit vra lewenslank vir moord op Marna óók

Hendricks wys daarop dat die boodskap wat Bylsma vir Marna gestuur het, dat sy "uit sy besigheid" moet bly, hierdie motief staaf. Smit stem saam. Sy woede teenoor Marna het oorgekook en toe hy die geleentheid kry, vermoor hy haar. Al wat Marna verkeerd gedoen het, was dat sy 'n goeie vriendin vir Sharnelle was en nie wou hê sy moet voortgaan met hierdie toksiese verhouding nie.

Daar is nie 'n groot verskil tussen die moord op Marna en dié op Sharnelle nie.

Smit vra Bylsma moet ook lewenslange tronkstraf opgelê word vir die moord op Marna. "Was Marna se lewe minder werd as Sharnelle s'n? Nee, sy was net so geregtig op die lewe as Sharnelle, en is geregtig op dieselfde vergelding."

05 Aug. 15:30:12

Smit sê Xander is lafhartig

Smit vra die hof moet bevind daar is nie dwingende en wesenlike omstandighede wat 'n mindere vonnis as lewenslank vir Sharnelle se moord regverdig nie.

Smit wys op 'n opmerking wat Hendricks vroeër gemaak het dat hy Bylsma ook vir Marna se moord lewenslank kan oplê.
Smit: "Behalwe dat die moord op Marna nie beplan is nie, het sy net so swaargekry toe sy vermoor is. Bylsma het ook 'n sterk motief gehad vir die moord op Marna omdat sy gekant was teen sy verhouding met Sharnelle.

"Toe die geleentheid hom voordoen en hy word kwaad, volg hy Marna na die badkamer en vermoor haar. Lafhartig."

05 Aug. 15:29:23

Jeugdigheid oorskadu deur koelbloedigheid

Smit vra die regter om Bylsma lewenslank tronk toe te stuur sodat hy genoeg tyd het om te rehabiliteer.

Smit: "Hoekom het hy nie solank in die twee jaar wat hy reeds in die tronk was, begin rehabiliteer nie? Sy jeugdigheid is nie dwingend en wesenlik nie, dit word by verre oorskadu deur sy koelbloedigheid, gewelddadigheid en gebrek aan berou. Hierdie meisies is nie maklik dood nie, dit was duidelik uit die patoloog se getuienis. Hulle is verwurg. Dis 'n pynlike, stadige dood. Hulle het swaargekry. Dit is hoekom daar tekens aan Sharnelle se lyk was dat sy teruggeveg het."

05 Aug. 15:25:49

Xander jok selfs vir maatskaplike werker

Smit sê dit het deur die loop van die verhoor aan die lig gekom Bylsma het vir niemand respek nie, hy dink almal is teen hom en net hy praat die waarheid. "Hy huiwer nie om hom tot geweld te wend nie. Hy dreig selfs volwassenes daarmee. In die briewe wat hy aan sy ma uit die tronk geskryf het, plaas hy al die blaam op sy ma vir wat met hom gebeur het weens die egskeiding tussen sy ouers, en hy dreig met selfdood."

Hy is koelbloedig, kyk hoe het hy die moord beplan. Hy het dae tevore vir Anastasia Visser gesê hy gaan Sharnelle tot selfdood dryf. Daar het hy al die plan gehad om te beweer dit was selfdood.

"Hy is 'n blatante leuenaar, hy het geen begrip vir die pyn wat hy veroorsaak het nie."

Smit sê Bylsma jok selfs vir die maatskaplike werker. Hy sê vir haar hy het nog nooit gerook nie, maar hy het vroeër getuig hy het die aand van die moorde gerook. Hy het geen berou nie.

Smit: "Ek het deur hele verhoor hard gesoek na een positiewe element in Bylsma se karakter. Ek kon niks kry nie."

Nie eens Nel (sy advokaat) kon iets positief vind nie. Selfs nie die maatskaplike werker kon enigiets positief oor hom sê nie.

"Dis die persoon waarmee ons te doen het. Dis nou die mens wat wil sê die moorde was gewelddadig, lafhartig, maar asseblief moet my nie die swaarste straf oplê nie, want ek is nog jonk."

05 Aug. 15:17:45

Smit praat oor Xander se karakter

Smit brei nou uit oor Bylsma se karakter soos dit uit die saak blyk. Smit: "Hy het aan die begin so pateties as moontlik in die hof probeer lyk. Kyk net hoe tree hy op; hy stuur slegte boodskappe aan Marna. Monté, Bylsma se pa, bespreek dit met Xander. Wat doen Xander? Hy sê vir hom 'ek kan jou nie bliksem nie, maar ek skiet jou vrek'. Watter soort mens doen dit?"

05 Aug. 15:15:30

Xander is 'n volwassene

Nel meen die hof kan nie bevind dat Bylsma so 'n swak karakter het dat hy nie rehabiliteerbaar is nie. Nel is nou klaar met sy betoog.

Adv. Johan Smit, vir die staat, begin nou betoog oor vonnisoplegging. Hy wys daarop die wetmakers het besluit enigiemand bo 18 moet as 'n volwassene mee gehandel word. Versagtende omstandighe en dwingende en wesenlike omstandighede is nie dieselfde nie. Smit sê lewenslange tronkstraf moet net vir ernstigste gevalle opgelê word.

Die feit is, die beskuldigde kom ná 20 jaar in aanmerking vir parool. So dit is nie werklik lewenslank nie. 

Smit sê die tweede belangrike aspek is die persoon wat hierdie tragedie veroorsaak het. Bylsma het koelbloedig opgetree en is wreed en gewetenloos.

05 Aug. 15:11:54

Getuienis verklap iets oor Xander se karakter

Nel sê egter 15 jaar vir die moord op Marna is nie te veel nie, en hy vra dat die vonnisse samelopend uitgedien word.

Nel verwys ook nou na die Wet op Vuurwapenbeheer, wat sê dat iemand wat aan sulke misdrywe skuldig bevind word, nie 'n vuurwapen mag besit nie. Nel sê hy sal nie die regter vra om hiervan af te wyk nie.

Bylsma het nie nou enige wapens in sy besit nie.

Regter Hendricks wys Nel daarop dat Bylsma skuldig bevind is aan twee moorde. Nel gee toe dis baie ernstig, en twee moorde is ernstiger as een, veral as een met voorbedagte rade gepleeg is.

Hendricks vra wat moet die hof doen met Stefans Engelbrecht se getuienis oor Bylsma se dreigemente teenoor hom.

Nel gee toe die hof moet dit in ag neem, want dis verswarend en verklap iets oor Bylsma se karakter. Hendricks sê vir Nel hy het die maatskaplike werker se verslag nie ernstig betwis nie, veral nie ten opsigte van die uitlatings oor Bylsma se karakter nie.

Nel sê dit is hoorsê en dat Bylsma dit ontken.

05 Aug. 15:02:31

Nel vra regter om van minimum vonnis af te wyk

Nel sê met Bylsma moet die hof in ag neem dat lewenslange tronkstraf presies dít beteken: hy sal die res van sy lewe in die tronk wees. Regter Hendricks wys Nel daarop dat sover hy weet, mense wat lewenslank tronk toe gaan, ná 20 jaar aansoek kan doen vir parool. Nel antwoord egter as hy nie parool kry nie, sal hy lewenslank sit. Nel vra dat Hendricks nie lewenslange tronkstraf oplê indien die hof meen daar is wel 'n kans dat Bylsma gerehabiliteer kan word nie.

Nel haal gesag aan dat lewenslange tronkstraf die swaarste straf is wat die hof kan oplê en dat dit nie ligtelik opgelê moet word nie. Volgens die gesag is jeugdigheid tydens die misdryf, en die feit dat iemand nog hul hele lewe voor hul het, dat iemand 'n eerste oortreder is en emosioneel nog nie volwasse was nie, dwingende en wesenlike omstandighede om van die minimum vonnis af te wyk.

Hy vra daarom dat Bylsma om hierdie redes nie lewenslange gevangenisstraf opgelê moet word vir die moord op Sharnelle nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.