Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
OORSIG: Xander Bylsma ‘ly aan selektiewe geheueverlies’
  • Xander Bylsma word daarvan aangekla dat hy Sharnelle Hough (17), sy eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, vermoor het.
  • Dié twee boesemvriendinne is in Mei 2018 in die meisieskoshuis by die Hoërskool Stella verwurg.
  • Bylsma het ure ná die moorde ’n bekentenis afgelê waarin hy glo sekere erkennings gemaak het. Nou ontken hy egter skuld. Hy beweer hy was onder die invloed van ’n oordosis angsmedikasie en dat hy voorgesê en gedreig is toe hy die bekentenis afgelê het.
  • 'n Binneverhoor is tans aan die gang oor die toelaatbaarheid van Bylsma se bekentenis.
  • Sedert Bylsma se verhoor in Maart begin het, het twee advokate en twee prokureurs wat namens hom opgetree het hulle aan die saak onttrek.
  • Terwyl adv. Johan Smit SC, vir die staat, hom Maandag bly pols het oor teenstrydighede in sy getuienis, het Bylsma telkens geantwoord dat hy nie kan onthou nie, hy nie meer seker is nie en dat hy sukkel om sekere dinge te beskryf.
30 Jul. 15:42:43

Hiermee sluit Netwerk24 se regstreekse dekking van die dag se verrigtinge. 

Hou Netwerk24 dop vir meer. 

30 Jul. 15:42:17

Bylsma se ma, Mercia, hou hom styf vas, terwyl sy pa, Monté, na die kamera loer, terwyl adv. Sakkie Nel met hulle praat nadat die hof verdaag het. Foto: Susan Cilliers

30 Jul. 15:40:12

Adv. Sakkie Nel praat met Bylsma net nadat die hof verdaag het. Foto: Susan Cilliers

30 Jul. 15:39:24

Die hof verdaag.

30 Jul. 15:39:21

Smit is nou klaar met kruisondervraging.

Adv. Sakkie Nel sê hy beplan nie in hierdie stadium om Bylsma weer te ondervra nie.

Hy sê hy moet Woensdagoggend met Bylsma konsulteer.

Regter Hendricks stel die saak uit na Woensdagoggend om 10:00.

Nel sê dit behoort genoeg tyd te wees sodat hy vanaf 09:00 met Bylsma kan konsulteer. 

30 Jul. 15:38:27

Smit: Ek vra nie u moet enigiets bewys nie. Ek vra weer: Stem u saam daar is niks in die verklaring wat aandui u was nie by u volle positiewe nie?

Bylsma: Ek kan nie saamstem nie. Dis vir ander mense om te besluit, nie vir my nie.

Smit: Sê u dus daar is iets in die verklaring wat wys u was nie uself nie.

Bylsma: Ek weet ek was nie myself nie, ek weet nie wat ander mense sal dink nie.

Smit: Stem u ook saam daar is niks in die verklaring voor Lange (wat die uitwysings hanteer het) wat wys u was nie by u volle positiewe nie?

Bylsma: Ek weet nie.

Smit: Het u nooit aan Saunders vertel dat u die aand van 25 en 26 Mei met Sharnelle ontmoet en dat julle lank gesels het nie?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: U het aan hom gesê u het al die pad van Vryburg na Stella gery om te rook, en dat u toe terug is na Vryburg?

Bylsma: Dis korrek.

Smit: U het vir hom gelieg, ondanks die vrees wat u gehad het vir u ouers se veiligheid?

Bylsma: Dis korrek.

30 Jul. 15:30:31

Smit: Ek stel dit aan u dat u by u volle positiewe was toe u die verklaring voor kol. Kochlan afgelê het.

Bylsma: Ek stem nie saam nie.

Smit: Stem u saam daar is niks in daardie verklaring/bekentenis wat 'n aanduiding gee dat hierdie persoon nie by sy volle positiewe was nie?

Bylsma: Ek stem nie saam nie.

Smit: Kan u enigiets uitlig in die verklaring wat daarop dui dat hierdie persoon nie by sy volle positiewe was nie?

Bylsma: Ek kan. Ek het geantwoord ek drink niks toe Kochlan gevra het of ek by my volle positiewe is. En ek drink wel.

Smit: Moet ons dus aanvaar u het gelieg vir die polisie omdat u nie by u volle positiewe was nie?

Bylsma: Nee, maar dis die toestand waarin ek was. Ek het bv. vir mnr. Saunders gesê ek het nie 'n rybewys nie, en ek het een.

Smit: U onthou net dinge wat in u guns is.

Bylsma: Dis die enigste aspek waaraan ek kan dink wat bewys ek was steeds uit dit uit.

Smit: Stem u saam dat die res van die verhaal wat u aan Kochlan vertel het, nie daarop dui dat u onder die invloed van iets was nie?

Bylsma: Die enigste een waaraan ek nog kan dink wat bewys ek was nie reg in my kop nie, was dat my ouers gesien het ek lyk nie reg toe hulle my klere gebring het nie.

Smit: Ek stel nie belang wat u ouers gedink het nie. Ek vra of dit korrek is dat indien 'n mens die hele res van die verklaring lees, daar niks anders is wat daarop dui dat u nie by u volle positiewe was nie?

Bylsma: Ek stem nie saam nie. Ek kan dit nie bewys nie. Pen en papier kan nie wys hoe iemand voel nie.

30 Jul. 15:23:58

Smit: Het u in enige van u twee borgtogaansoekverklarings gesê u wou selfdood pleeg en het daarom 10 pille gedrink?

Bylsma: Ek dink so.

Smit: Ek kry dit nie in enige van u verklarings nie.

Bylsma: Ek het dit vir mnr. Rai genoem, maar ek kan nie onthou of dit in een van die verklarings was nie.

Smit: Stem u saam dis 'n belangrike aspek.

Bylsma: Ek stem saam.

Smit: U het vir niemand by die polisie vertel van die dreigemente teen u ouers nie?

Bylsma: Nee. Ek kon nie, want Chris Saunders was by my by die polisiekantore en toe ek die verklaring afgelê het.

Smit: Hoekom het u dit nie die volgende dag aan Lange gesê nie?

Bylsma: Ek het nie geweet of ek hom kan vertrou nie, en of hy deel is van Stefaans Engelbrecht-hulle se scheme nie.

Smit: Het u u ouers van die dreigement gesê?

Bylsma: Ja, ek dink ek het dit vir my ma die Sondag na die uitwysings gesê.

Smit: Stem u saam u het Saterdagaand 'n uitstekende geleentheid gehad om dit vir hulle te sê?

Bylsma: Ja, maar ek kan nie met sekerheid sê of ek vir hulle gesê het nie.

30 Jul. 15:17:37

Smit: Hoekom het u aan Saunders (in die bandopname op pad na Vryburg) gesê u is nie bekommerd nie?

Bylsma: Ek was tussen die duiwel en die diepblou see gewees, ek het nie omgegee wat gebeur met my nie. 

Smit: Is dit hoekom u gesê het u is nie bekommerd nie?

Smit: U het aan die hof gesê u het aanhoudend opgegooi nadat u die pille (26 Mei 2018) gedrink het?

Bylsma: Dis korrek, ek het buite die huis opgegooi en toe ek weer in die huis ingaan om 'n skoon hemp aan te trek, het ek weer opgegooi. Dit was seker so 'n halfuur.

Smit: En dit het dadelik begin nadat u die pille gedrink het?

Bylsma: Nie dadelik nie.

Smit: Hoe lank daarna?

Bylsma: Ek het die pille so 13:00 gedrink. Ek het net na 16:00 die eerste keer begin opgooi.

Smit: Hoe laat het Saunders op die plaas gekom?

Bylsma: Ek kan nie onthou nie, die son was besig om te sak. Dit moes tussen 17:00 en 18:00 gewees het.

Smit: Het u gehoor dat adv. Rai aan mnr. Saunders onder kruisondervraging gesê het dat u die pille gedrink het net voordat hy (Saunders) op die plaas aangekom het?

Bylsma: Ek kan dit nie onthou nie.

Smit: Ek sal later hierna terugkom.

30 Jul. 15:11:03

Xander Bylsma (20) het Dinsdag vroeër in trane uitgebars in die hof. Sy pa, Monté, het met hom probeer praat. Foto: Deaan Vivier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.