Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regter glo nie ‘verduidelikings’ waarom kar in nag ry met R2,5 m.

Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) kan ingevolge ’n finale beslagleggingsbevel wat Vrydag in die hooggeregshof in Kimberley verkry is, ’n “voertuig wat in die middel van die nag deur die Karoo gery het met versteekte kontant van R2,5 miljoen” daarin, verkoop.

Regter Mpho Mamosebo in haar uitspraak bevind die voertuig en die R2 430 000 is hoogs waarskynlik in die uitvoering van misdaad gebruik.

Dit volg op ’n padversperring tussen 20 en 21 September 2017 naby Colesberg waar die polisie vir Jermaine Charles Johnson en Deacon Noble, sy neef, voorgekeer het. Die motor behoort aan Yanfang Qiu, ’n Chinese burger. Die lede het ’n aktetas met meer as R2 miljoen in die bagasiebak en R18 000 in ’n plastieksak gekry.

Johnson, wat nie die aktetas kon oopsluit nie, het sy pa, genl.maj. Charles Johnson, gebel vir die kode om die tas oop te maak. Johnson jnr. het ook aan polisielede gesê dit is nie die eerste keer dat hy “gevang” is nie.

Johnson snr. het die polisielede gevra om nie sy seun en neef in hegtenis te neem nie en het na Colesberg gery en ’n verklaring afgelê. In die verklaring sê hy ene mnr. Leon help hom met vertaling en die polisieondersoeke oor die ontvoering van Chinese. Leon het hulp gevra om die geld van Johannesburg na Kaapstad te vervoer omdat Chinese weens hul voorkoms uitstaan en die verkeerspolisie omkoopgeld van hulle eis.

Regter Mpho Mamosebo in haar uitspraak bevind die voertuig en die R2 430 000 is hoogs waarskynlik in die uitvoering van misdaad gebruik.

Volgens Johnson snr. het Leon die kode vir die tas telefonies verskaf toe hy dié aand daarvoor gevra het. Qiu het aangevoer haar voertuig is gebruik om geld namens Yehon Wu en Yexing Wu na Salmar Trading in Saldanhabaai te vervoer vir die betaling van ’n versending oesters na China.

Die Wu’s het beweer hulle het in Maart 2017 sowat R2,5 miljoen by ’n casino gewen, maar kon nie bevestiging of dokumente hiervan verskaf nie. Geen dokumente is ook ingedien om te bewys dat die geld in dollars in die land ingebring is nie.

Mamosebo het adv. Rudolf Mastenbroek, namens Jermaine Johnson en Qiu, se betoë dat dit nie onwettig is om in die middel van die nag deur die Karoo met so baie geld in ’n aktetas versteek te ry nie, “kinderagtig” gevind.

Mamosebo het Johnson se teenstand van die beslagleggingsaansoek vreemd en sonder meriete gevind omdat hy nie die geld of die voertuig besit nie. Die regter vind dit vreemd dat indien Qiu vir Johnson jnr. die opdrag gegee het om die geld te vervoer, hy eerder sy pa bel om die kode vir die aktetas te gee.

Qiu se betoog dat die geld in ’n casino gewen en in ’n oesterplaas sonder ’n permit belê sou word, is ’n mite en leuens. Die NDOV het aangevoer die paspoorte wat Qiu as deel van haar hofdokumente aangebied het, was vals of nie hare nie. Qiu het geen billike verweer gebied nie. Die departement van binnelandse sake kon geen rekord van die twee Wu’s vind nie. Die regter het Mastenbroek hieroor uitgevra, maar sy “argument was steriel, om die minste te sê”.

Daar was ook nie dokumente dat die geld aan die owerhede verklaar is nie.

Mamosebo het met adv. Lize van Dyk, namens die NDOV, saamgestem dat die motor gebruik is om die geld te vervoer. Die vervoer van die geld is verdag en nie genoegsaam deur die verweerders verduidelik nie. Die geld, wat nie deur amptelike kanale beweeg het nie, hou waarskynlik verband met onwettige bedrywighede. Die verweer oor die oorsprong en doel van die geld het die regter nie oortuig nie.

Meer oor:  Geld  |  Casino  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.