Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regter kla regter aan van haatspraak

’n Vroueregter in die hooggeregshof in Pretoria het ’n amptelike klag van rassisme en seksisme teen ’n kollega ingedien nadat hy in ’n uitspraak skerp vrae oor haar optrede gevra en gesê het dat sy vir eers nie “enige juridiese pligte” behoort te vervul nie voor dit beantwoord is nie.

Regter Neil Tuchten ontken dat hy hom skuldig gemaak het aan rassisme en seksisme en hou vol dat sy kollega, regter Annah Makhubele, se optrede ’n deeglike ondersoek verg.

Tuchten se opmerkings oor Makhubele se geskiktheid as regter is gemaak in ’n uitspraak wat hy gelewer het in ’n saak waarin die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) ’n party was. Makhubele was in dié tyd die voorsitter van die tussentydse direksie van Prasa. Makhubele het in Oktober 2017 – kort nadat sy aangewys is as regter – die aanstelling aanvaar as voorsitter van Prasa se tussentydse direksie. Sy het later bedank en haar regterlike pligte aanvaar.

Volgens hofdokumente het Makhubele as Prasa-voorsitter ten nouste betrokke geraak in ’n regstryd tussen Prasa en ’n groep maatskappye wat onder die naam Siyaya handel dryf. Siyaya het R56 miljoen van Prasa geëis vir werk wat hulle glo vir die agentskap gedoen het. Prasa se regsafdeling het die eis teengestaan.

Makhubele het egter glo opdrag gegee dat Prasa se regsafdeling van onderhandelinge met Siyaya uitgesluit word en die saak is tydens ’n arbitrasieproses geskik. Siyaya het toe in Februarie verlede jaar aansoek gedoen dat die vier skikkingsooreenkomste bevele van die hof gemaak word. Prasa se regsafdeling het egter die prokureursfirma Bowmans opdrag gegee om die aansoek teen te staan.

In die hof het Siyaya se regspan, waarvan adv. Francois Botes (SC) ’n lid was, aangevoer dat Bowmans nie gemagtig was om Prasa te verteenwoordig nie. Botes het dié feit gestaaf met ’n SMS-boodskap wat Makhubele (toe nog voorsitter van die Prasa-direksie) aan Botes gestuur het. Hierin sê sy dat “daardie prokureurs” geen mandaat het om Prasa te verteenwoordig nie.

Die hof het Botes en Siyaya se argument aanvaar en die skikkingsooreenkomste in Maart verlede jaar bekragtig. Die balju het toe beslag gelê op meer as R56 miljoen in Prasa se bankrekening.

Prasa se regsafdeling, steeds oortuig dat die skikking nie in belang van die agentskap is nie, het toe die hofbevel in hersiening geneem, ’n aansoek wat voor Tuchten gedien het.

In November verlede jaar het Tuchten vir Prasa gelyk gegee en die vorige beslissing ter syde gestel op grond daarvan dat Bowmans se mandaat wel bo verdenking was. Hy beveel ook dat die balju Prasa se R56 miljoen met rente terugbetaal.

Tuchten vra dan onder meer waarom Makhubele ingemeng het in Prasa se regstryd met Si­yaya en waarom sy Prasa se eie regsafdeling uitgeskuif het. Hy sê Makhubele het die geleenthede wat sy gehad het om haar optrede te verduidelik, laat verbygaan en sê dan: “Ek is sterk daarvan oortuig dat regter Makhubele nie enige juridiese pligte behoort te vervul totdat sy haar naam in ere herstel het betreffende die aantygings teen haar nie.”

Makhubele het daarop ’n klag teen Tuchten by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien en ook ’n klag teen Botes by die Pretoriase balieraad aanhangig gemaak omdat hy haar teksboodskappe aan hom in hofverrigtinge openbaar gemaak het.

In haar klag vra sy: “Waarom het regter Tuchten my uitgesonder? Is dit omdat ek ’n vrou is? ’n Swart vrou?”

In ’n aanvullende verklaring sê sy Tuchten se optrede teen haar is gemotiveer deur “diskriminasie op grond van minstens kleur en geslag. Trouens, sy uitspraak kom neer op haatspraak.”

Tuchten sê hy staan by sy uitspraak. Hy sê hy het haar nie gekritiseer of belaster nie, trouens, hy het geen bevindings teen haar gemaak nie.

Hy sê hy het bloot vrae oor haar optrede gestel sodat dit behoorlik tydens ’n regverdige proses ondersoek kan word. Hy sê sy uitspraak het sy eerlike opinie weerspieël en waarsku dat regters wat uit vrees vir tugstappe teen hulle eerder sal stilbly as om eerlik in hul opinies te wees, hul onafhanklikheid kwyt sal wees.

Sello Chiloane, RDK-woordvoerder, het bevestig dat hul klagtekomitee die klagte teen Makhubele en Tuchten hanteer.

Deon Gericke, hoofbestuurder van die Pretoriase Balieraad, het gesê Botes sal na verwagting in die komende week op die beskuldigings antwoord.

Meer oor:  Neil Tuchten  |  Annah Makhubele  |  Regters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.