SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Regter se bisarre gebed rondom Zille-twiet-uitspraak

In ’n emosionele uitspraak wat sommige regskenners as “onrusbarend” beskryf, het ’n waarnemende regter in Pretoria hom op “God Almagtig” beroep om die aarde te verlos van die “euwel van kolonialisme”.

Die OB het ’n foto van koloniale vergrype in Bengale in 1943 in haar verslag oor Zille se twiet ingesluit.

Waarnemende regter Malebo Habedi se oproep tot goddelike ingryping – asook ’n bisarre paragraaf waarin hy bely dat hy niks van die geskiedenis af weet nie – vorm deel van ’n uitspraak waarin hy bevind het dat die openbare beskermer (OB) korrek was in haar bevinding dat die voormalige Wes-Kaapse premier Helen Zille se gewraakte “kolonialisme-twiet” geweld aanhits. In dieselfde asem bevind hy egter ook dat die saak slegs van akademiese belang is en daarom geen praktiese doel dien nie. Regskenners beskryf dié benadering as vreemd, teenstrydig en tekenend van ’n onervare regter.

Habedi, in die normale gang van sake ’n advokaat van die Johannesburgse balie, het Dinsdag uitspraak gelewer in die saak waarin Zille die hof gevra het om ’n bevinding van die OB, dat haar twiet onbehoorlik was, ter syde te stel.

Zille het in Maart 2017, kort ná ’n ampsbesoek aan Singapoer, onder meer getwiet: “Vir dié wat sê die nalatenskap van kolonialisme was NET negatief, dink aan ons onafhanklike regbank, vervoerinfrastruktuur, water in pype, ensovoorts.”

'Beroep op God is vreemd en onvanpas.'

Ná ’n klag van Khayalethu Magaxa, ’n ANC-lid van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer, het die OB, Busi­si­we Mkhwebane, bevind dat die twiets wel ’n oortreding was van haar ampseed as premier en die uitvoerende etiese kode. Sy sê Zille se twiet was “kwetsend” en “onsensitief” deurdat dit ou wonde van slagoffers van apartheid en kolonialisme weer oopgekrap het. Die OB skryf verder: “Die reaksie van die Suid-Afrikaanse publiek op die premier se twiet is aanduidend van die waarskynlikheid dat sulke twiets geweld gegrond op ras kan aanstook en is daarom ’n oortreding van subartikel 16(2)(b) van die Grondwet.” (Die betrokke artikel plaas ’n beperking op uitsprake wat “dreigende geweld aanstig”).

Zille het Mkhwebane se verslag toe op hersiening geneem.

In wat regskenners as “ ’n vreemde stap” beskryf, bevind Habedi aanvanklik dat die saak bloot van akademiese belang is met geen praktiese waarde nie, omdat Zille nie meer premier is nie en dat die OB se opdrag – dat die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer stappe teen haar moet doen – nie meer uitvoerbaar is nie. Tog gaan hy dan in ’n uitspraak van 26 bladsye – deur een regsprofessor beskryf as “moeilik om te volg” – voort om van die kwessies wat deur Zille en die OB in hul hofstukke geopper word, te bespreek.

Habedi raak veral liries oor twee foto’s in Mkhwebane se oorspronklike verslag wat koloniale vergrype in Bengale in 1943 en die Belgiese Kongo aan die begin van die 20ste eeu uitbeeld. Die eerste toon ’n straattoneel vol lyke van verhongerde Indiërs met aasvoëls wat op die mure sit.

Helen Zille

Habedi skryf: “Met die eerste oogopslag het dit gelyk asof ek na dooie diere kyk, maar met nadere beskouing het ek besef dat dit dooie mense was wie se liggame, omdat daar aasvoëls op die mure was, reeds erg ontbind moes gewees het. Ek het in my lewe al grusame foto's gesien, veral dié uit Rwanda en Burundi gedurende die volksmoord; Beiroet in Libanon gedurende die oorlog daar, asook die hongersnood in Ethiopië. maar hierdie foto was iets anders. Ek weet nie baie van geskiedenis af nie, omdat ek gedurende my vormende opvoeding te besig was om te worstel met wiskunde en wetenskap. maar daar is baie internasionale tragedies en volksmoorde waaroor daar gepraat word, tog vind ’n mens eers nou daarvan uit. Nie dat ek nie nie kan weet nie (sic), maar eerder dat, as gevolg van die skaal daarvan, mense van dié geskiedenis moet weet. Goed beplande volksmoord inderdaad.”

Dan verklaar hy in onderstreepte vetletters: “God Almagtig, verlos die aarde, veral die Pan-Afrikaanse nasie van Afrika en sy diaspora, van hierdie boosheid genaamd kolonialisme!”

Tog vind die regter dat hy nie hoef uitspraak te lewer oor die OB se bevinding dat Zille die Grondwet en artikel 16 oor spraakvryheid “oortree” het nie.

“Wat ’n hersieningshof moet doen, is om te kyk of die beredenering en die gevolgtrekking wat bereik word redelik en samehangend onder omstandighede is.” Hy sê die verslag se bevindings was “volgens die OB se logika” en hy hoef nie in ’n hersieningsaak te bepaal of dit teenstrydig met die hof se logika sou wees nie solank daar nie ’n “growwe regsdwaling” was nie.

Die konstitusionele regskenner prof. Bernard Bekink sê Habedi se beroep op God is vreemd en onvanpas. Hy meen die regter se persoonlike en politieke uitlatings wek die indruk dat hy ’n bepaalde vooroordeel het.

Bekink vind dit ook vreemd dat Habedi voortgaan om ’n saak te bereg wat hy, op sy eie weergawe, onberegbaar vind – blykbaar omdat hy “graag iets van sy eie siening die wêreld wou instuur”. Hy sê die uitspraak spreek van onervarenheid.

Prof. Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad skryf in ’n meningsartikel oor die saak dat die OB en Habedi dwaal as hulle argumenteer dat Zille se twiet artikel 16 van die Grondwet “oortree”. Hy sê artikel 16(2) “verbied” niks nie, maar omskryf bloot watter tipe uitsprake nie deur die Grondwet se klousule oor spraakvryheid beskerm word nie.

Prof. Koos Malan, publiekregkenner van die Universiteit van Pretoria, noem die uitspraak “onrusbarend” omdat die hof hiermee die OB se verdoeming van Zille se twiet bevestig.

Hy sê in die proses gooi die hof sy gewig in om die politieke diskoers, een van die “wesensvoorwaardes” van ons demokrasie, “in die noutes in te dryf”. Die uitspraak lê die reg op vryheid van politieke uitdrukking aan bande – veral waar ANC-sentimente in die spervuur kom, meen Malan.

In ’n artikel wat vandag in Weekliks verskyn, vergelyk Zille die uitspraak met ’n Dr. Seuss-kinderverhaal en sê Habedi is verkeerd om te sê dat die saak slegs van akademiese belang is. Sy meen dit raak fundamentele kwessies oor vryheid van spraak aan en vereis behoorlike beregting deur die howe. “As die woorde wat ek gebruik het, die Grondwet en die uitvoerende etiese kode geskend het, sou die grense van vrye spraak oornag drasties beperk word.” Sy sê as Mkhwebane se bevinding toegelaat word om te bly staan, sal dit ook teenstrydig wees met ’n verskeidenheid onlangse sake waar die howe gepoog het om die vryheid van spraak uit te brei, eerder as om dit te beperk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.