Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regter striem ministers oor inperkingsvergrype

’n Nuwe klagte-owerheid moet in die lewe geroep word waar die publiek magsmisbruike deur die polisie en weermag tydens die staat van inperking kan aanmeld. Regter Hans Fabricius het Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria ook beveel dat ’n nuwe gedragskode vir wetstoepassers tydens die staat van inperking nodig is en dat die soldate, polisie- en metropolisiebeamptes betrokke by die beweerde aanranding van Collins Khosa (40) binne vyf dae met salaris geskors moet word.

Regter Hans Fabricius
Regter Hans Fabricius Foto: Deaan Vivier

Hy het verder gelas dat die voorval onmiddellik deeglik ondersoek word.

Luidens hofstukke het twee soldate Khosa en sy swaer op Goeie Vrydag gekonfronteer nadat hulle ’n kampstoel en ’n beker halfvol alkohol aangetref het wat in hul erf voor hul huis in Alexandra gestaan het.

Nadat Khosa hulle meegedeel het dat dit nie ’n misdaad is om alkohol in jou eie erf te gebruik nie, het verskeie soldate hom na bewering aangerand.

Khosa het later die aand aan sy beserings beswyk.

Sy familie het die hof in ’n dringende aansoek gevra om ’n verklarende bevel te maak “dat die publiek steeds daarop geregtig is dat lede van die veiligheidsmagte hulle fundamentele menseregte beskerm”.

Fabricius het in sy uitspraak gesê die inperking stel nie behoorlike riglyne oor hoe die publiek en veiligheidsmagte moet optree of hoe inperkingsmaatreëls afgedwing moet word nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag in sy toespraak verwys na inperkingsmaatreëls wat soms swak verduidelik of te hardvogtig afgedwing word.

“Met die ongekende uitdaging wat ons in die gesig staar, was ons optrede onduidelik, teenstrydig en swak verduidelik,” het die president gesê.

Dit het teenstand uitgelok, terwyl sommige mense ook met woede gereageer het.

“Die implementering (van die regulasies) was soms stadig en die afdwing daarvan soms inkonsekwent en te hard,” het Ramaphosa gesê.

Fabricius het bevind dat growwe menseregtevergrype tot Khosa se dood gelei het.

Die weermag se direktiewe aan sy soldate het eerder geklink asof hulle na ’n slagveld gestuur word “om die vyand te verslaan”.

“In die direktiewe word die soldate gewaarsku dat die korona-gevaar hoog is omdat Alexandra se inwoners nie omgee vir die maatreëls nie. Inwoners is dus voorgestel as bedreigings en struikelblokke,” het Fabricius bevind.

Wat is die punt van alles as hardvogtige maatreëls lei tot hongersnood, ’n ekonomie wat lamgelê is en die reg op vryheid, waardigheid en veiligheid saam met die oppergesag van die reg prysgegee word? Na my mening is daar dan geen punt of doel nie.
Regter Hans Fabricius

Veiligheidsmagte mag volgens wet net die minimum geweld gebruik om hul pligte uit te voer en dit is belangrik dat hulle weer hierop attent gemaak word.

Die regter het ook bevind dat die ministers van polisie en verdediging se aanmerkings voor en ná die voorval kommerwekkend is omdat hulle die indruk geskep het dat die gebruik van geweld moreel regverdigbaar is.

Hy het onder meer verwys na Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging) se “skop-skiet-en-donder”-opmerkings en Bheki Cele (polisie) wat gesê het plekke waar drank onwettig verkoop word, sal “afgebreek word”.

“Daar mag onder geen omstandighede van die basiese menseregte afgewyk word nie, maak nie saak in watter nood- of ramptoestand die land hom bevind nie,” lui die uitspraak.

Instede daarvan dat Mapisa-Nqakula haar uitlatings verdedig het, het sy die blaam verskuif sodat dit nou lyk asof Khosa die skuld dra vir sy eie dood omdat hy die weermag glo uitgelok het, het Fabricius gesê.

Hy het verder ’n beroep gedoen op staatsleiers om duideliker riglyne daar te stel om te voorkom dat die publiek vertroue verloor.

“Wat is die punt van alles as hardvogtige maatreëls lei tot hongersnood, ’n ekonomie wat lamgelê is en die reg op vryheid, waardigheid en veiligheid saam met die oppergesag van die reg prysgegee word? Na my mening is daar dan geen punt of doel nie,” het Fabricius bevind.

Khosa se familie was nie Vrydag in die hof nie, maar het ná die tyd by monde van Wikus Steyl, hul regsverteenwoordiger, hul tevredenheid uitgespreek.

“Ons is tevrede met die uitspraak en verlig dat die weermaglede wat Collins doodgemaak het, geskors gaan word,” het Steyl namens hulle gesê.

Steyl het bevestig dat ’n siviele eis teen die weermag sowel as die Johannesburgse metropolisiediens ingestel gaan word. ’n Besluit oor regsoptrede teen die polisie sal later geneem word.

Die weermag het nog nie op navrae gereageer nie.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het in ’n WhatsApp-boodskap gesê die uitspraak sal eers deeglik bestudeer word voordat enige kommentaar gelewer word.


 ‘’n Gevaar vir die publiek’

Die uitspraak wys die onbekwaamheid van die twee ministers, het prof. Koos Malan, grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, gesê.

“In plaas daarvan dat hulle die publiek se belange beskerm, doen hulle die teenoorgestelde – hulle is ’n gevaar vir die publiek.”

Malan het gesê regter Fabricius se uitspraak is ’n streng veroordeling van die weermag en polisie se gewelddadige optrede teenoor die publiek.

“Dit is goed dat die saak gedien het voor ’n intellektueel sterk en senior regter wat die ruggraat aan die dag gelê het om sy werk deurtastend te doen,” het hy gesê.

Die belangrikste hiervan was die verklarende bevel wat gemaak is, waarin die wetlike pligte van die weermag en die polisie uitgestippel is.

“Dit is uiters betekenisvol, want hierdie regsnorme is die basiese regsreëls ingevolge waarvan die polisie en die weermag daagliks behoort te funksioneer.”

Hy meen dit is duidelik dat die staat – en meer bepaald die weermag en polisie – nie gereed of bevoeg was om in die huidige omstandighede op te tree nie. Juis hierom was dit vir die hof nodig om die ministers te beveel om gedragskodes op te stel, wat die optrede van die SAPD- en weermaglede met betrekking tot die inperkingsregulasies reguleer.

Die bevele wat die hof gelas het, behels ’n sogenaamde strukturele interdik, aangesien van die respondente vereis word om binne gestelde tydperke aan die hof te rapporteer wat hulle gedoen het om aan die bevele te voldoen.

Dit alles moet wyd gepubliseer word sodat die publiek die polisie en weermag se optrede kan kontroleer.

Meer oor:  Collins Khosa  |  Hans Fabricius  |  Alexandra  |  Johannesburg  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.