Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regter was Moyane en kie die kop

Regter Robert Nugent het Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), en sy regspan die kop gewas toe dié gister skielik voor die kommissie van ondersoek na SAID wou getuig.

Hy is vroeër die week deur ander getuies in ’n negatiewe lig gestel.

Moyane is genooi om Dinsdag voor die kommissie te verskyn, maar hy het dit van die hand gewys, het Nugent gesê.

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, gister by die Nugent-kommissie van ondersoek in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

“Maar nou wil hy kom getuig nadat die ander getuies reeds getuig het.”

Die regter het ook geweier om ’n geheuestokkie van Dali Mpofu, Moyane se regsverteenwoordiger, te aanvaar waarop daar glo ’n weerspreking van getuienis is wat reeds die week voor die kommissie gelewer is.

Nugent het ook in antwoord op so ’n bewering deur Mpofu ontken dat die kommissie ’n heksejag teen Moyane is.

“Dit is nie ’n ondersoek na mnr. Moyane nie, dit stem net ooreen met die tyd toe hy die kommissaris was,” het Nugent gesê.

Dít is waarom getuienis gelewer is oor beweerde onreëlmatighede wat onder sy beheer gebeur het.

Voormalige bestuurders by die SAID het Moyane die afgelope week daarvan beskuldig dat hy ’n kultuur van vrees by werknemers by die instelling ingeboesem en hulle verneder het.

Mpofu het gesê as die ondersoek voortgaan, sal dit “ironies genoeg” net ’n mors van belastingbetalers se geld wees.

Mpofu het aangevoer die wyse waarop die getuies geroep is, dui op vooroordeel en is “baie onregverdig”.

Mpofu het sy kommer daaroor uitgespreek dat Pravin Gor­d­han, ’n voormalige kommissaris van die SAID en voormalige minister van finansies, op die eerste dag van die sitting ge­tuig het. Dit is toe dat Nugent daarop gewys het dat Moyane wel Dinsdag kon getuig, maar dit van die hand gewys het.

Moyane se regspan het ook die teenwoordigheid van prof. Michael Katz by die kommissie betwis. Mpofu het gesê Katz se “noue verhouding” met pres. Cyril Ramaphosa maak hom ongeskik om ’n raadgewer vir die kommissie te wees.

Nugent het beklemtoon dat die ondersoek nie ’n hofsaak is nie en dat hy nie bevindings teen enige individu maak nie.

“Ons vind uit wat die feite is en ons sal dit aan die president rapporteer. Wat hy daarmee maak, is sy saak.”

Nugent het gesê hy sal Maandag antwoord op Moyane se griewe.

In nog ’n verwikkeling het dit gister aan die lig gekom dat Jonas Makwakwa, voormalige bedryfshoof van die SAID, die diens by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) wil aankla van konstruktiewe ontslag.

Makwakwa se gedrag by die SAID was eergister by die kommissie onder die soeklig.

“Ja, dis waar dat ek die SAID na die KVBA neem,” het Makwakwa gister telefonies aan Fin24 gesê.

“Die kwessie wat ondersoek word, is dieselfde een as waarvan ek (weer) aangekla word. Dit kan mos nie reg wees nie,” het Makwakwa gesê.

“Ek weet vir ’n feit dat die SAID sy eie ondersoek gedoen het nadat ek bedank het en dat ek onskuldig bevind is.”

Invordering van 1 000 miljard ‘oëverblindery’

Dit is geen prestasie om belasting van R1 000 miljard te in nie, het  Cecil Morden, voormalige hoofdirekteur van belastingontleding by die tesourie, gister voor die kommissie getuig.

Gisteroggend het Mpofu gesê Gordhan kon in sy tyd as kommissaris nie soos Moyane R1 000 miljard se belasting insamel nie.

“Daardie hoogtepunt is net oëverblindery, dit is te danke aan inflasie en die groei in die ekonomie. Ons sou dit in elk geval bereik het,” het Morden gesê.

Hy het ook getuig dat daar ’n groot onderverhaling op die invordering van belasting op tabak is.

Die onderverhaling het in die 2016-’17-belastingjaar begin en toe vererger.

In antwoord op ’n vraag van regter Robert Nugent oor waarom dit gebeur het, het Morden geantwoord dit kan toegeskryf word aan toenemende onwettige handel in tabak.

“Dit is duidelik dat die SAID se vermoë (om inkomste uit tabakbelasting te verdien) uitgekalwe is en daar was ’n verlangsaming en toe ’n duidelike daling in die inkomste,” het Morden gesê.

In ’n brief wat News24 gesien het en wat aan die SAID gerig is, sê Makwakwa se regsverteenwoordigers hulle is van plan om getuies te roep, waaronder Gor­d­han, Mcebisi Jonas, voormalige adjunkminister van finansies, en Moyane.

“Ons verstaan die SAID het ’n ondersoek na die beweerde verbintenis tussen my kliënt en New Integrated Credit Solutions (NICS) afgehandel.

“In dié verband vra ons die SAID om ’n verklaring uit te reik wat die gevolgtrekkings van die ondersoek uiteensit,” lui die brief.

Moyane het in Maart aangekondig dat Makwakwa bedank het. Makwakwa het onder die soeklig gekom ná ’n berig van die Daily Maverick dat NICS, wat ’n transaksie met die SAID beklink het om sy skuldinvordering te doen, ’n bedrag van R600 000 in Makwakwa se bankrekening inbetaal het.

Dit is geen prestasie om belasting van R1 000 miljard te in nie, het Cecil Morden, voormalige hoofdirekteur van belastingontleding by die tesourie, gister voor die kommissie getuig.

Gisteroggend het Mpofu gesê Gordhan kon in sy tyd as kommissaris nie soos Moyane R1 000 miljard se belasting insamel nie.

“Daardie hoogtepunt is net oëverblindery, dit is te danke aan inflasie en die groei in die ekonomie. Ons sou dit in elk geval bereik het,” het Morden gesê.

Hy het ook getuig dat daar ’n groot onderverhaling op die invordering van belasting op tabak is.

Die onderverhaling het in die 2016-’17-belastingjaar begin en toe vererger.

In antwoord op ’n vraag van regter Robert Nugent oor waarom dit gebeur het, het Morden geantwoord dit kan toegeskryf word aan toenemende onwettige handel in tabak.

“Dit is duidelik dat die SAID se vermoë (om inkomste uit tabakbelasting te verdien) uitgekalwe is en daar was ’n verlangsaming en toe ’n duidelike daling in die inkomste,” het Morden gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.