Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regter weier borgtog, sê tronk is nie ’n hotel

Die soveelste aansoek om borgtog van Zonizelo “Zet” Magawu, gewese ANC-raadslid en -takvoorsitter van Daniëlskuil en vermeende baasbrein van die moord op Johannes Baaitjie en Shuping Nouse, het Vrydag in die hooggeregshof misluk.

Die regter het in reaksie op Magawu se betoog dat die gevangenis nie bevorderlik vir sy gesondheid is nie, gesê hy kan nie verwag dat ’n gevangenis soos ’n hotel moet wees nie.

Zonizelo “Zet” Magawu, gewese ANC-raadslid en -takvoorsitter van Daniëlskuil en vermeende baasbrein van die moord op Johannes Baaitjie en Shuping Nouse, Vrydag in die hof.Foto: Charné Kemp

Intussen sê die staat dat hy sy saak teen die begin van Augustus kan sluit.

Magawu is sedert 19 Augustus 2016 in aanhouding, ’n dag nadat Baaitjie se lyk met skietwonde langs die pad buite Postmasburg gekry is. Nouse, wat op dieselfde dag met ernstige skietwonde in ’n bakkie in Postmasburg gevind is, is op 23 Augustus in die hospitaal dood.

Magawu word saam met Richard Ha­sane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu van die moorde, asook ontvoering en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie aangekla.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, maar dat Baaitjie, ’n DA-raadslid, eers uit die weg geruim moes word.

Magawu het reeds ses keer aansoek gedoen om borgtog. Sy vorige borgtogaansoeke (ook gegrond op “nuwe feite”) en appèlaansoeke teen die weiering van borgtog voor ’n landdros en vier regters het misluk.

Sy sesde aansoek, waarin Magawu aangevoer het dat hy ingevolge artikel 49G van die Wet op Korrektiewe Dienste weens sy swak gesondheid vrygelaat moet word, is in April vanjaar afgekeur. Die sewende en soortgelyke aansoek is Vrydag afgekeur.

Magawu het aangevoer dat hy weens oorbevolking in die gevangenis “fisiek en sielkundig gemartel word”. Hy ly aan suikersiekte en die kos in die tronk is nie bevorderlik vir sy gesondheid nie. Weens sy suikersiekte raak hy soms “deurmekaar”.

Zonizelo “Zet” Magawu, gewese ANC-raadslid en -takvoorsitter van Daniëlskuil en vermeende baasbrein van die moord op Johannes Baaitjie en Shuping Nouse, se lêers met sy hofaansoeke voor hom. Foto: Charné Kemp

Adv. Hannes Cloete, aanklaer het aangevoer die staat was agt maande ná die moorde reeds gereed om met die verhoor te begin. Magawu kon geen nuwe feite of buitengewone omstandighede in sy vele aansoeke bewys nie.

Waarnemende regter Stanley O’Brien het Vrydag in sy uitspraak gesê ’n gevangenis is nie ’n hotel nie.

Magawu word ook van ernstige misdrywe aangekla. Hy is glo die baasbrein wat die simkaart gekoop en gebruik het om Baaitjie met die belofte van ’n plaveiselkontrak na Postmasburg te lok. Magawu het na bewering dieselfde simkaart gebruik om vervoer aan die vermeende skieters na Postmasburg te reël.

Die regter het bevind Magawu se gesondheidstoestand is nie ernstig genoeg om vrygelaat te word nie. Hy kry medikasie in die gevangenis. Met die vorige aansoek wat in April afgekeur is, het ’n amptenaar van korrektiewe dienste getuig dat Magawu hardkoppig is en nie die regte kos wil eet nie. Selfone is op twee geleenthede by hom in die sel gevind.

Die verhoor duur Maandag voort.

Meer oor:  Johannes Baaitjie  |  Daniëlskuil  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.