Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Regters het ‘eensame werk’, hoor RDK

Regters het reeds ’n ietwat eensame bestaan en dit is tydens die Covid-19-pandemie vererger deurdat hulle sonder die ondersteuning van kollegas moes klaarkom.

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane Foto: YouTube/JSC

Regter Fayeeza Kathree-Setiloane het ten tyde van die onderhoude vir die pos van regter van die konstitusionele hof gesê sy mis dit om na haar kollegas se kantore te kan stap en idees te bespreek.

Sy het Maandag aan die Regterlike Dienskommissie (RDK) verduidelik dat dit ’n “baie, baie eensame werk is” om ’n regter te wees, veral tydens die pandemie. Dit is omdat regters reeds grootliks alleen deur die hofstukke moet lees, getuienis aanhoor en ’n uitspraak moet skryf.

Die RDK hou tot 23 April onderhoude in Sandton vir een pos vir regter van die konstitusionele hof, vyf poste vir regters van die appèlhof en verskeie poste in die onderskeie hooggeregshowe.

Onderhoude met Kathree-Setiloane, adv. Alan Dodson SC en regter Narandran Kollapen is deur die middag tot die aand gevoer nadat die sittings vertraag is weens tegniese probleme met die aanlyn verbinding en uitsending.

Adv. Alan Dodson Foto: YouTube/JSC
Regter Narandran Kollapen Foto: YouTube/JSC

Kathree-Setiloane sê regters sal soms langer neem om ’n uitspraak te lewer omdat sake baie ingewikkeld kan wees en groot gevolge dra. Sy sê by tye kan dit nodig wees om die skryf van ’n uitspraak tydelik te stop en later weer uit ’n ander oogpunt te benader.

Kathree-Setiloane is in 2010 tot ’n regter in Gauteng aangewys en het sedertdien in die arbeidsappèlhof, mededingingsappèlhof en die appèlhof gedien.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in die begin opgemerk dat hy al van kollegas gehoor het dat haar uitsprake baie goed geskryf is.

Mogoeng Mogoeng, hoofregter. Foto: Lucky Nxumalo

Kathree-Setiloane het haar dankbaarheid vir familie uitgespreek en gesê haar man sou sê sy “werk haar dood”.

Sy het ’n traan gepik en genoem dat mense die gevaar loop om so opgesweep in hul werk te raak dat hul families afgeskeep word.

“Gelukkig het ek ’n man wat in al dié tyd uiters baie begrip getoon het. Hy het vir my die tyd en ruimte gegee om eintlik die beste te wees wat ek kan.”

Soms voel sy dat sy oorboord gaan met haar werk en dalk meer sosiaal moet wees, maar Kathree-Setiloane sê wanneer ’n uitspraak geskryf word, is die “nagevolge so groot”, nie net vir die betrokke partye nie, maar ook die samelewing in die algemeen.

Ten tyde van die onderhoude het sy ook herhaal dat sy haarself as ’n Suid-Afrikaner beskou en nie as ’n “Indiër” volgens rasseklassifikasie nie.

Kommissielede het haar gepeper met vrae oor haar hantering van hofklerke en regslui aan die hand van vorige klagtes.

Julius Malema, EFF-leier, het Kathree-Setiloane beskuldig dat sy neerbuigend teenoor jonger werkers optree en dat wat sy fermheid noem eintlik as “onbeskof” voorkom.

Julius Malema, EFF-leier. Foto: Felix Dlangamandla

“As dit jou houding is, gaan jy probleme hê, want die jeug wat ek lei is ’n nuwe jeug en hulle sal nie dié houding duld nie.”

Kathree-Setiloane het gesê sy praat van die jeug as sy verwys na mense van tot so oud as 35 jaar, en dit beteken nie hulle is kinders nie. Sy het volgehou dat sy gewild is onder jong mense en nie sal aanvaar dat sy daarvan beskuldig word dat sy neerhalend praat met die jeug nie.

Dodson is ook deur Malema en adv. Dali Mpofu uitgevra oor sy ervaring as regter van die grondeisehof van 1995 tot 2000 en hoe dit sy werk in die konstitusionele hof sal raak, veral wat grondhervorming betref.

Hy het ook al waargeneem as regter in die hooggeregshof en arbeidshof.

Dodson het gesê dat hy dikwels gevind het dat regeringsbeleid lei tot die trae implementering van grondhervorming en nie noodwendig beperkings wat die Grondwet stel nie.

Die beginsel van gewillige verkoper en koper het ook gelei tot hoër pryse vir die grond wat onteien word of dat die grondeienaar oorvergoed is, volgens Dodson.

Malema het Dodson gevra aan die hand daarvan dat hy ’n wit man is en nog nie voorheen in die konstitusionele hof gedien het nie, wat hom “so spesiaal maak” dat hy gekies moet word bo mense wat dié ervaring het en swart is, veral vroue.

Dodson sê sy aansoek is daarop gegrond dat nie al die kandidate vir dié hof dienende regters hoef te wees nie en hy glo die Grondwet is so geskryf om ’n “reeks perspektiewe” in te sluit wanneer ’n oordeel gevel word.

Hy het aangevoer dat hy ’n “ander pad van regspleging” as die meeste regters gevolg het en dié ervaring bied.

Malema het gevra of dit egter tot transformasie sal bydra as hy aangestel word.

In repliek het Dodson gesê transformasie gaan nie net oor die demografie van die regbank nie, maar ook die styl van regpleging en wat regters oorweeg om ’n uitspraak te lewer.

Ander kandidate vir die pos van regter van die konstitusionele hof is regters Aubrey Phago Ledwaba, Rammaka Steven Mathopo, Yasmin Shehnaz Meer, Mahube Betty Molemela, Dhayanithie Pillay, David Nat Unterhalter en Bashier Vally.

• Volg die uitsending hier.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.