Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Regulasies dalk gewysig’ sodat NVG Zondo-getuienis kan gebruik

Die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se regulasies sal moontlik gewysig word sodat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) getuienis voor die kommissie in strafregtelike vervolgings kan gebruik.

Dit was die antwoord van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, op die parlementêre vraag deur dr. Leon Schreiber, DA-LP, oor wat die regering se posisie is oor die onmiddellike vervolging van mense na aanleiding van getuienis voor die kommissie, in plaas daarvan om te wag totdat die kommissie sy werksaamhede afgehandel het.

Schreiber wou ook by Lamola weet of enigiemand al na aanleiding van die getuienis voor die kommissie weens die beweerde betrokkenheid by of die medepligtigheid aan staatskaping in hegtenis geneem of aangekla is.

Ronald LamolaFoto: GCIS

Lamola het gesê vir die NVG is strafregtelike ondersoeke en die oorweging van vervolging ’n parallelle proses wat nie van die afhandeling van die kommissie se werksaamhede afhanklik is nie.

“Daar was ’n paar haakplekke met betrekking tot dié deel van die getuienis, maar die NVG probeer dit oplos.

“Daar word ook oorweeg om die regulasies van die Zondo-kommissie te wysig om die deel van inligting tussen die kommissie en die NVG se ondersoekende direktoraat moontlik te maak.”

Volgens Lamola sal die NVG voorlopige verslae van die kommissie verwelkom sodat die direktoraat die relevansie van die getuienis tot sy ondersoeke kan assesseer.

Lamola het bygevoeg dat verskeie ondersoeke wel aan die gang is en dat daar reeds gevalle is wat die NVG vir vervolging oorweeg.

Hy het verwys na onder andere Angelo Agrizzi, oudbedryfshoof van Bosasa, en ander wat oor die Bosasa-sage vervolg word, sowel as oudhoofde van Eskom en voormalige polisie- en NVG-grootkoppe wat ook weens korrupsie vervolg word.

Lamola se antwoord aan Schreiber kom nadat adv. Hermione Cronje, hoof van die ondersoekende direktoraat, onlangs aan die parlement gesê het dit is nie waar dat niks met hoëprofielkorrupsie- en staatskapingsake gebeur nie. Sy het toe ook bevestig dat verskeie van die sake al voor die howe is.

Cronje het aan die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê dat “twee hofsake wat spruit uit getuienis wat vroeër voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer is, ook op die hofrol geplaas sal word sodra die staat van inperking se regulasies dit toelaat”.

Volgens Cronje het die NVG ook reeds die nodige samewerking van die Verenigde Arabiese Emirate in die Estina-saak, waarby die Gupta-broers betrek word, gekry. Die Guptas woon tans in Dubai.

Sy het toe ook aan LP’s gesê dat die NVG se strategie is om nie net minder belangrike verdagtes in hoëprofiel-korrupsiesake te vervolg nie, maar ook die top-breine daaragter, terwyl gesteelde gelde ook verhaal sal word.

Vroeër is berig dat die Zondo-kommissie beplan om sy werksaamhede teen 15 Junie te hervat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.