Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Renosterstroper skuldig op talle aanklagte

’n Bottel Pine Nut-koeldrank, ’n paar Blink Stefaans-tekkies en selfoonrekords het Dinsdag ’n Gautengse renosterstroper se doppie in die Vrystaat geklink.

Jimmy Mashopane (35) is in die rondgaande hof in Virginia deur regter Philip Loubser skuldig bevind op 20 aanklagte wat verband hou met renosterstropery in die Sandveld-natuurreservaat buite Hoopstad.

Jimmy Mashopane (35) is Dinsdag daaraan skuldig bevind dat hy renosters in die Sandveld-natuurreservaat by Hoopstad gestroop het. Foto: Alet van der Walt

Loubser het in sy uitspraak gesê hy kon Mashopane nie op al die aanklagte skuldig bevind nie, omdat die grondwethof vroeër bevind het dat selfoonrekords alleen nie genoeg is om ’n misdaad te bewys nie, daar moet ook ander stawende getuienis wees.

Die staat moes swaar steun op selfoonrekords wat Mashopane telkens in die reservaat geplaas het gedurende die tye wat renosters gestroop is.

Die reservaat het in 2018 onder ’n vlaag renosterstropings deurgeloop.

Loubser het Mashopane se verweer, dat die SIM-kaart deur ene Thomas gebruik is, verwerp en gesê die SIM-kaart is in Mashopane se naam geregistreer.

Die SIM-kaart was met bykans al 14 stropings waarvan hy aangekla is, in verbinding met die Rietvlei-selfoontoring naby die reservaat.

Die rekords het ook aangedui dat die gebruiker van die SIM-kaart ná elke voorval terug is na Winterveld, Pretoria, die gebied waar Mashopane gewoon het.

Vlam Els, ’n natuurbewaarder by die Sandveld-natuurreservaat, het in die verhoor vir die staat getuig. Foto: Alet van der Walt

Die geweer wat in Mashopane se besit was toe hy uiteindelik op 22 Januarie 2019 in die reservaat in hegtenis geneem is, kon hom danksy ballistiese toetse met meer as een stroping verbind, maar ander gewere is ook gebruik.

In November 2018 kon speurders daarin slaag om gipsafdrukke van twee stelle skoenspore op ’n toneel te kry waar renosters geskiet is.

’n Bottel koeldrank wat nog nie leeg gedrink was nie, is ook op die toneel agtergelaat.

DNS-monsters het bevestig dat Mashopane uit die koeldrankbottel gedrink het.

Een van die stelle skoenafdrukke het ooreengestem met die skoene waarmee Mashopane in hegtenis geneem is.

Ao. Anton Mynhardt, wat gipsafdrukke gemaak het, het vroeër getuig dat dié sportskoene wat deur Puma vervaardig word en ook die BMW-logo op het, skaars is.

Adv. Dawie Reyneke, vir Mashopane, sal Woensdag getuienis ter strafversagting aanbied waarna adv. Antoinette Ferreira, die aanklaer, die invloed van renosterstropery op bewaring sal uitlig.

Ferreira en beamptes van die Vrystaatse departement van natuurbewaring was Dinsdag verheug oor Loubser se uitspraak.

Loubser het Mashopane onder meer op oortredings van die Wet op Vuurwapens, die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en die Wet op die Welsyn van Diere skuldig bevind.

Meer oor:  Jimmy Mashopane  |  Virginia  |  Renosterstroper  |  Skuldig  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.