Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Richard Mdluli eers later gevonnis

Argumente ter versagting en verswaring van vonnis in die verhoor van Richard Mdluli, voormalige hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, en sy medebeskuldigde, Mthembeni Mthunzi, is tot November uitgestel.

Die saak het Donderdag weer in die hooggeregshof in Johannesburg voorgekom vir vonnisoplegging, nadat regter Ratha Mokgoatlheng hulle in Julie vanjaar daaraan skuldig bevind het dat hulle Oupa Ramogibe in 1999 ontvoer, aangerand en geïntimideer het.

Die saak word op 7 November hervat.

Die aanklagte teen Mdluli en Mthunzi hou verband met die uiterstes waartoe Mdluli gegaan het om uit te vind waar Tshidi Buthelezi en haar man, Oupa Ramogibe, skuil.

Richard Mdluli.

Mdluli het sedert sy skooldae ’n verhouding met Buthelezi gehad en gesê sy is sy vrou. Sy is in 1998 met Ramogibe getroud.

Mdluli is op vier aanklagte van intimidasie, twee aanklagte van menseroof, twee aanklagte van aanranding en twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind.

Mthunzi is skuldig bevind op twee aanklagte van menseroof, twee aanklagte van aanranding en twee aanklagte van aanranding met die bedoeling om ernstig te beseer.

Ramogibe is in 1999 in Vosloorus doodgeskiet, ’n jaar nadat hy en Buthelezi in die geheim getroud is, terwyl hy aan ’n polisielid uitgewys het waar daar vroeër op hom geskiet is.

Twee mans het hulle glo oorval, die polisielid se dienspistool gegryp en Ramogibe doodgeskiet.

Mdluli was destyds die bevelvoerder van die Vosloorus-speurtak.

’n Aanklagte van moord teen Mdluli en Mthunzi is vroeg in die saak teruggetrek weens ’n gebrek aan bewyse, en die moord bly onopgelos.

Mdluli het tydens sy verhoor aangevoer daar is ’n sameswering teen hom, en gesê getuies teen hom het hul polisieverklarings versin omdat hy in 1999 die hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid geword het. Regter Mokgoatlheng het egter bevind Mdluli kon nie sy saak bewys nie.

Mdluli was ’n bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma en was na bewering ’n sleutelfiguur in staatskaping wat die veiligheids- en misdaadintelligensiedienste betref.

Hy ontken egter die bewerings.

In sy rol as die adjunk- provinsiale polisiekommissaris was Mdluli die baas van die speurders wat Zuma se verkragtingsaak in 2006 ondersoek het. Zuma is later vrygespreek.

Meer oor:  Richard Mdluli  |  Zondo-Kommissie  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.