Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Richard Spoor in hof ná chaos oor mynbou in duine

Die menseregteprokureur Richard Spoor verskyn Dinsdag in die hof in Bizana in die Oos-Kaap op aanklag van aanhitsing tot openbare geweld.

Spoor het die Amadiba-gemeenskap Sondag op ’n vergadering verteenwoordig waar Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, die gemeenskap toegespreek het oor ’n Australiese mynhuis wat al langer as tien jaar in die duine op die Wildekus titanium probeer myn.

Die vergadering het glo chaoties geëindig en die polisie het skokgranate en traanrook gebruik om die mense uiteen te jaag.

Richard Spoor

Die Amadiba-gemeenskap is hewig gekant teen mynbou in die duine en is in ’n regstryd met die departement van minerale bronne en die Australiese mynhuis Transworld Energy and Mineral Resources (TEM) gewikkel.

Volgens Spoor is die Amadiba-gemeenskap onder leiding van Nonhle Mauthuma Forslund, woordvoerder van die Amadiba-krisiskomitee, deur lede van die onluspolisie weggehou van die res van die gehoor. Hulle is ook aanvanklik gekeer om by die tent in te gaan.

Die Amadibas beweer Mantashe en die ANC het mense met busse na die vergadering laat aanry sodat hy ’n meerderheidstem ten gunste van die myn kon kry.

Toe die Amadiba’s “uiteindelik” in die markiestent toegelaat is, was dit reeds stampvol “buitestanders”.

Die Amadibas het begin sing om hul ontevredenheid met die situasie te kenne te gee, sê Spoor.

’n Amptenaar van die departement van minerale bronne het Spoor toe glo gevra om die orde te handhaaf omdat Mantashe nie met sy toespraak kon begin nie.

Spoor en ’n lid van die onluspolisie het in ’n twis betrokke geraak toe hy die polisie gevra het om hul wapens uit die markiestent te verwyder omdat die Amadibas geïntimideer voel daardeur.

Volgens Spoor is hy getart, waarop hy aan die polisieman gesê het hy bring sy uniform in ’n oneer.

Die polisie het hom glo gegryp. “Ek het Gwede (Mantashe) gevra om in te gryp en te keer dat die polisie my in die vangwa gooi.”

’n Lid van die Amadiba-krisiskomitee vroeër vanjaar by die hooggeregshof in Pretoria waar die Amadiba-gemeenskap die hof gevra het om hulle die reg te gee om mynbou in die duine aan die Wildekus te weier. Foto: Elise Tempelhoff

Mantashe het toe nader gestap en gesê hy kan “ongelukkig” niks doen nie en dat die saak nou in die polisie se hande is.

Spoor is toe glo hardhandig uit die markiestent gelei en in ’n vangwa gegooi.

Die Bench Marks Foundation het Maandagmiddag in ’n verklaring gesê die taktiek wat die polisie teen die Amadiba-krisiskomitee gebruik het, herinner aan dié wat die polisie in die apartheidstyd gebruik het.

“Ons is woedend,” het John Capel, uitvoerende direkteur van die stigting, gesê.

Volgens Capel is die mense wie se stemme gehoor móés word diegene wat regstreeks geraak word en wat alles weens die mynbedrywighede kan verloor, uitgesluit van die vergadering.

Mantashe, wat in Oktober die hoofspreker by Bench Marks se jaarliks vergadering sou wees, sal nou nie meer welkom wees nie, het Capel gesê.

Nonhle Mbuthuma Forslund, woordvoerder van die Amadiba-krisiskomitee, vroeër vanjaar by die hooggeregshof in Pretoria. Foto: Elise Tempelhoff

“Ons gaan ons uitnodiging aan hom terugtrek. Dit sal vir ons ’n geweldige verleentheid wees om Mantashe as spreker op ons jaarvergadering te hê. Ons is verskriklik teleurgesteld in hom. Ons is ontnugter. Ons het gehoop hy het integriteit en dat hy na die ware stemme van die mense by Xolobeni sou luister. ”

Volgens Capel was daar tussen 60 en 100 lede van die onluspolisie se Oos-Kaapse eenheid op die vergadering. Daar was 250 lede van die Amadiba-krisiskomitee en meer as 500 mense van buite die beoogde myngebied op die vergadering.

“Dit is duidelik dat die hele tent vol pro-myngroepe was,” sê Capel,

Mantashe het Sondag getwiet die regering is bereid om na mense te luister. “Hulle het die reg om nee te sê vir mynbou. As die meeste egter ja sê, sal ’n mynreg toegeken word.”

’n Moratorium op aansoeke vir mynregte in Xolobeni verval in Desember.

Dié moratorium op mynbou-aansoeke in die gebied is 18 maande gelede deur Mantashe se voorganger Mosebenzi Zwane ingestel.

Meer oor:  Richard Spoor  |  Gwede Mantashe  |  Oos-Kaap  |  Hofverskyning
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.