Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rietvlei: Moordbeskuldigde na Weskoppies verwys

Donovan McInnes mag dalk weens depressie en selfdoodgedagtes nie in staat wees om die moordsaak teen hom te volg nie.

Donovan McInnes kort nadat hy in hegtenis geneem is.

Om dié rede het ’n distriksgeneesheer in sy verslag Woensdag aan die landdroshof in Pretoria aanbeveel dat McInnes vir 30 dae na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal verwys word vir evaluering.

Dié moordverdagte word daarvan beskuldig dat hy Adéle Bezuidenhout (32) op 18 Augustus 2018 vermoor het.

Dié ma van vier skoolgaande kinders was besig om van haar man te skei toe sy McInnes in Mei 2918 ontmoet en die twee ’n verhouding aangeknoop het.

Haar lyk is die betrokke aand in die hoofslaapkamer van haar huis in die Rietvlei Ridge Country Estate, suid van Pretoria, aangetref.

McInnes is kort daarna in hegtenis geneem en intussen borgtog geweier.

André Steenkamp, sy prokureur, het tydens ’n vorige hofverskyning gesê hy is bekommerd oor McInnes se veiligheid aangesien dit lyk of hy neigings toon om sy eie lewe te neem.

Hy het ook gevra dat sy kliënt deur ’n distriksgeneesheer ondersoek en geëvalueer word, sodat dié moontlik vir McInnes na Weskoppies kan verwys.

Die distriksgeneesheer het Woensdagoggend bevind dat McInnes tydens die ondersoek “rustig” voorgekom het.

Hy was ook georiënteerd ten opsigte van tyd, plek en persoon en het die dokter vertel dat sy hoogste kwalifikasie matriek is.

Hy het voor sy inhegtenisneming as fotograaf op passasierskepe gewerk.

Luidens die verslag het McInnes gesê hy het insig en verstaan die aanklag teen hom. Hy besef ook die gevolge van ’n moontlike skuldigbevinding.

Hy is voorheen opgeneem vir depressie, maar ontvang geen behandeling daarvoor nie.

Onder die opskrif: “Geheue: Kan hy/sy beskryf wat tydens die beweerde voorval gebeur het?”, het die distriksgeneesheer geskryf dat McInnes nie oor die voorval of relevante feite oor die saak wil praat nie.

Hy wou nie eens antwoord of hy geheueverlies ervaar nie.

Hoewel die 31-jarige moordverdagte geen hallusinasies het nie en goed kan konsentreer, is hy, volgens die distriksgeneesheer depressief met selfdoodgedagtes.

“Hy is voorheen opgeneem vir depressie, maar ontvang geen behandeling daarvoor nie,” lui die verslag.

Die distriksgeneesheer het daarom aanbeveel dat McInnes eerder deur ’n paneel kundiges by Weskoppies geëvalueer word.

Die saak is tot Februarie hiervoor uitgestel.

Die hof het ook beveel dat McInnes intussen in die tronk se hospitaalafdeling aangehou word, waar sy psigiatriese toestand dopgehou kan word totdat Weskoppies ’n bed beskikbaar het.

Meer oor:  Weskoppies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.