Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rob Packham ‘het niks met Gill se dood te doen’
Rob Packham sit met sy kop in sy hand tydens ’n breek in sy getuienis in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Rob Packham was op geen manier betrokke by die dood van sy vrou, Gill (56), nie. Hy het ook niks te doen gehad met haar groen BMW wat by die Dieprivier-treinstasie uitgebrand is met haar lyk in die kar nie.

’n Stil oomblik voordat Rob Packham sy weergawe van die dag van sy vrou se dood aan die hof vertel het. Hy ontken hy het Gill vermoor en haar lyk in haar BMW uitgebrand. Foto: Jaco Marais

Hy meen eerder die enigste verduideliking is dat sy vrou die oggend van 22 Februarie 2018 naby hul huis in die suidelike voorstede gekaap en vermoor is.

So het Packham gesê toe hy Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad die kans gehad het om te verduidelik wat hy meen dié dag gebeur het.

Hy en Gill was byna 31 jaar getroud, maar in Oktober 2017 het hy erken hy het ’n buite-egtelike verhouding gehad. Dit het Gill baie ontstel, soveel so dat sy hom nie vertrou het nie en agterdogtig was oor al sy bewegings. Packham het, nog voordat hy sy geheim aan sy vrou erken het, sessies by ’n huweliksberader gereël sodat hulle “deur die proses kon werk”.

In kruisondervraging oor sy minnares te getuienis – dat hy wou skei en nie lief was vir Gill nie – het Packham gesê sy kon dalk die verkeerde indruk oor die verhouding gehad het.

Packham het die verhouding later in kruisondervraging afgemaak as bloot ’n vriendskap.

Die minnares het vroeër getuig sy was die een wat die verhouding einde Maart 2018 beëindig het. Volgens Packham het hy dit egter beëindig, juis om aan sy huwelik te werk.

Die egpaar het op 21 Februarie ’n beradingsessie bygewoon waarna hulle by die Vineyard-hotel gaan eet en ’n glas wyn gedrink het.

Toe is hulle huis toe. Volgens Packham was die proses moeilik vir Gill. Die egpaar se dogter Nicola het ook vroeër in die verhoor getuig dat haar ouers dié dag baklei het, juis oor iets wat in die beradingsessie onthul is – dat Packham nog gevoelens vir sy minnares gehad het.

Packham het Maandag egter getuig die bakleiery was nie daaroor nie, maar omdat hy op 22 Februarie na Johannesburg moes gaan vir werk. Volgens hom wou Gill nie gehad het hy moet gaan nie, omdat sy hom nie vertrou het nie.

Hy het getuig hy het vir haar gesê dat hy nie wil hê sy werk en persoonlike lewe moet by mekaar inmeng nie en dat hy moet gaan.

Die volgende oggend het hy soos gewoonlik gaan draf. Daarna het hy reggemaak vir werk en Gill het die huis omstreeks 07:00 verlaat. Hy het ná 07:30 van die huis af gery, maar het sy werkfoon (hy het twee selfone gehad, een vir werk en ’n private een) afgeskakel omdat hy ’n nuwe voertuig vir haar wou gaan soek as verjaardaggeskenk later in Maart.

Hy het getuig hy het soms sy foon afgeskakel sodat Gill hom nie in die hande kon kry nie, omdat sy soms vir hom gevra het om foto’s te stuur van waar hy is om te bewys dat hy nie vir haar lieg nie.

Later, nadat hy omstreeks 10:00 by die werk aangekom het en sy selfoon weer aangeskakel het, het hy boodskappe gekry dat sy vrou vermis is.

Rob Packham staar in die kamera van ’n lid van die media voordat hy met sy getuienis voortgegaan het. Foto: Jaco Marais

Hy het eerste na die skool gery waar sy werk, waarna hy huis toe is. Hy het na die strand by St. James gery asook na Houtbaai en Chapmanspiek. Hy het by hospitale na haar gaan soek, maar deur die loop van die dag het hy haar net twee keer gebel. Elke keer was haar foon afgeskakel.

Hy het getuig hy was bang vir wat met haar kon gebeur het.

Eers later daardie aand het hulle gehoor van ’n BMW wat by die treinstasie in Dieprivier aan die brand is. Hy het hom saam met sy suster daarheen gehaas, maar is na die polisiekantoor verwys. Eers later is hy in kennis gestel dat ’n lyk in die kar uitgebrand het. Die volgende dag is die lyk as Gill uitgeken.

Die staat het tydens kruisondervraging verskeie aspekte aan Packham gestel oor die ooggetuies wat hom glo op die toneel gesien het toe die BMW gebrand het, die buurtwaglid wat hom in die woongebied gesien het en ook kringtelevisieopname’s van ’n wit man wat sy vrou se groen BMW omstreeks 07:34 verby hul bure se huis in Rieslingstraat bestuur het.

Packham het alles ontken en gesê die moontlikheid bestaan dat sy gekaap kon gewees het.

Die verhoor duur voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.