Die saak teen die beskuldigdes in die moord op dr. Roelof Botha van Tulbagh is Donderdag vir verdere ondersoek uitgestel.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolgings, het bevestig Aiden Abels (27), Justin Adonis en Andrew Gouws (albei 30) het op aanklag van moord in die landdroshof verskyn.
Die vierde beskuldigde is ’n 17-jarige meisie wie se naam ingevolge wetgewing nie bekend gemaak mag word nie. Sy word eers op 28 Oktober 18 jaar oud.
Ntabazalila sê die saak teen haar is tot 15 Oktober uitgestel omdat uitstaande borgtoginligting bekom moet word.

Dr. Roelof Botha Foto: Facebook
Tydens haar vorige verskyning het die hof gehoor die adres wat sy as alternatief in haar borgtogaansoek gegee het, is nie geskik nie. Die saak is toe uitgestel, want die huiseienaar het verhuis. Dit is Donderdag om dieselfde rede uitgestel – om ’n alternatiewe woonadres te bevestig.
Sy bly intussen in ’n plek van veiligheid.
Ntabazalila sê die saak teen die ander beskuldigdes is tot 28 Oktober vir verdere ondersoek uitgestel.
Hulle bly in aanhouding en het nie ’n borgtogaansoek ingedien nie.
Botha se lyk is op 1 Junie omstreeks 18:30 langs die Schalkenbosch-pad buite Tulbagh gekry nadat hy met ’n skerp voorwerp, vermoedelik die lem van ’n skaapskêr, doodgesteek is.