Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Roerende brief in hof: 'Ons wil net vir Stacha terughê'
Randy Tango word in boeie by die hooggeregshof in Kaapstad aangebring. Foto: Son/Peter Abrahams

’n Hartroerende brief van hoe die verlies van hul 11-jarige dogter hul lewe verander het, het die ma van Stacha Arendse in trane gehad nadat die man wat haar dogter vermoor het, skuldig bevind is.

Sandy Markgraff het ’n brief geskryf waarin sy vertel hoe hulle gesin ’n “mooi siel” verloor het nadat Randy Tango (32) vir Stacha verwurg het.

“Ons dogter het ons lewe betekenis gegee, geluk gegee en het ons geïnspireer om beter ouers te wees,” lui die brief wat deur die staatsaanklaer, adv. Marésa Engelbrecht, gelees is.

“Die dood van ons dogter het ’n leemte gelaat wat nooit gevul sal word nie. Ons wil net ons dogter terughê.”

Verder sê sy die gemeenskap en vriende het ’n “wonderlike en eerbiedige” mens verloor.

“Die dag toe ons Stacha verloor het, is die dag toe ons onsself, drome en planne verloor het. As ’n familie sal ons nooit weer dieselfde wees nie.”

Engelbrecht het die brief as ’n verswarende faktor voorgehou met vonnisoplegging nadat regter Robert Henney Tango skuldig bevind het op twee aanklagte van verkragting en die moord op Stacha.

Stacha se naakte lyk is vanjaar op 28 Maart in die vroeë oggendure by die sportkompleks in Tafelsig, Mitchells Plain, gevind. Tango het erken hy het die oggend vir Stacha geroep en haar in sy huis vasgekeer. Sy het hom gesmeek om haar nie seer te maak nie en dat sy enigiets sou doen om die huis te verlaat.

Tango het geëis dat sy seks met hom moet hê en sy het gesê sy sou enigiets doen om vrygelaat te word. Tango het haar verkrag en sy het deurentyd vir hom gesê om op te hou. Sy het gesê sy gaan haar ma vertel wat hy gedoen het. 

Tango het erken hy het haar verwurg om te keer dat sy haar ma van die verkragting vertel. Hy het haar lyk in ’n laken toegedraai en daarvan ontslae geraak.

Tango het ook tereg gestaan op vier ander aanklagte van verkragting. Henney het hom op drie onskuldig bevind en op die een skuldig bevind op ’n bevoegde klag omdat die klaagster jonger as 16 jaar oud was.

Sandy en Shannon Markgraff in die hof terwyl hul dogter se moordenaar, Randy Tango, verskyn.Foto: Son/Peter Abrahams

Henney het gesê dit is nie dat hy nie glo die slagoffers is verkrag nie, maar die getuienis was nie sterk genoeg om Tango bo redelike twyfel skuldig te bevind nie. Die klaers was enkelgetuies en daar was teenstrydighede in hul hoofgetuienis en hul verklarings.

Toon berou

Adv. Koos Smit, Tango se regsverteenwoordiger, het aan die hof sy kliënt se persoonlike omstandighede uitgelig in ’n poging om die hof te oortuig om van die minimum voorgeskrewe vonnisse – in hierdie geval lewenslange tronkstraf op die drie aanklagte van Stacha – af te wyk.

Hy het ook gesê Tango het berou en voel sedert die voorval baie sleg oor wat gebeur het.

Henney het gevra of dit ’n geval was dat Tango moes skuld erken omdat die bewyse te sterk teen hom was.

Smit het gesê hy word deur DNS-bewyse aan die saak gekoppel, maar sedert hy vir Tango verteenwoordig, sou Tango skuld erken het.

Hy het gesê Tango wou die gesin om verskoning vra en “hy hoop hulle sal my eendag kan vergewe”.

Henney sal Tango Maandag vonnis.

Meer oor:  Randy Tango  |  Stacha Arendse  |  Sandy Markgraff  |  Misdaad  |  Moord  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.