Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde-appèl: Hof ‘wil hom breek’ met swaar vonnis

Die hof het Jason Rohde se vonnis op ’n “onaanvaarbare en onregterlike” wyse benader, wat op ’n “heftige persoonlike kritiek en aanval” neergekom het.

So voer Rohde se regspan aan in hul aansoek om verlof tot appèl teen Rohde se skuldigbevinding en vonnis wat verlede maand deur regter Gayaat Salie-Hlophe opgelê is.

Jason Rohde verlede maand in die hooggeregshof in Kaapstad tydens vonnisverrigtinge in verband met moord op sy vrou, Susan, in 2016.Foto: Jaco Marais

Luidens die aansoek is die bevinding van die hooggeregshof in Kaapstad dat Rohde sy vrou, Susan (47), in Julie 2016 vermoor het, op “veronderstelling, vermoede en verskeie persoonlike oorwegings” gegrond.

Rohde (50) is 18 jaar tronkstraf opgelê weens die moord en ’n bykomende vyf jaar weens regsverydeling nadat hy in November verlede jaar skuldig bevind is. Hy dien tans effektiewe tronkstraf van 20 jaar uit.

Susan se lyk is gevind in die egpaar se hotelkamer in die Spier-hotel buite Stellenbosch.

Sy vonnis is “onregverdigbaar swaar” en die uitwerking daarvan is om Rohde “onvermydelik te breek”, lui die aansoek.

“Die hof het ook gefouteer deur die erns van die oortredings te oorbeklemtoon, sowel as die belange en wense van die gemeenskap en verwante faktore.”

Sodoende is daar nie in vonnisoplegging “behoorlik oorweging gegee aan die versagtende omstandighede” nie.

Die hof het ook nie voldoende in ag geneem dat die polisie nie voorsorg getref het om die misdaadtoneel te bewaar nie en dat daar “aansienlike kontaminasie” van die toneel plaasgevind het.

Susan RohdeFoto: Facebook

Luidens die aansoek is Rohde se reg tot ’n billike verhoor  “grof geskend” toe daar in Februarie 2018 beveel is dat hy in hegtenis geneem word terwyl hy ’n pasiënt in ’n psigiatriese kliniek was weens ’n depressiewe episode.

Hy is ook deur die hof “geïntimideer” toe gedreig is dat hy na die Valkenberg-hospitaal geneem sal word en die hof het op ’n “vernederende wyse opgetree”.

Rohde se regspan sê die hof moes bevind het dat die staat nie die onus van skuld bo redelike twyfel kon bewys nie.

Die hof het gefouteer deur Rohde se bewyse en weergawe van gebeure te verwerp of nie “ten beste” te bevind dat sy weergawe redelik moontlik waar kon gewees het nie, naamlik dat Susan haar eie lewe geneem het en nie vermoor is nie.

Daarby is die bewyse van die staat se getuies nie behoorlik en regterlik nagegaan, soos dié van Rohde, nie.

“Die hof was eerder subjektief, selektief en het nie die bewyse wat voorgelê is in geheel in ag geneem nie. ’n Deurlopende patroon van ongepaste, onlogiese en selektiewe redenasies, waar kritieke bewyse geïgnoreer of verontagsaam word, is deur die hof getoon.”

Luidens die aansoek het die hof ’n fundamentele wanbegrip getoon van “die inhoud en implikasies” van die mediese bewyse en menings waaroor hy oordeel moes vel en wat die kern van bevindings teen Rohde uitmaak.

Hy is skuldig bevind op grond van die hof “se eie unieke weergawe van gebeure” wat nie op die staat se saak neerkom nie.

Die staat het nie die getuienis en menings van kundiges wat daarop dui dat Susan haarself gehang het, suksesvol betwis nie, asook nie getuienis dat sy waarskynlik nie aangerand, verwurg en vermoor is nie.

In die aansoek word ook aangevoer dat Desmond Daniels, die nutsman, en Mark Thompson, ’n oudkollega, nie as geloofwaardige getuies deur die hof geag kan word nie.

Rohde was die uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika toe hy en Susan die maatskappy se jaarlikse konferensie op die Spier-landgoed bygewoon het.

Die hof het bevind dat hy haar verwurg of met ’n kussing versmoor het, waarna haar lyk na die badkamer van hul hotelkamer gesleep is om dit te laat lyk asof sy haar eie lewe geneem het.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Kaapstad Hooggeregshof  |  Hof  |  Rohde-Moordsaak  |  Appèl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.