Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde: Polisie het vroeg reeds onraad vermoed
Susan Rohde

Toe Susan Rohde se lyk gevind is in die badkamer van die hotelkamer wat sy en haar man, Jason, gedeel het, het die polisie reeds vermoed haar dood was onnatuurlik.

Dr. Akmal Coetzee-Khan, ’n forensiese patoloog, het Donderdag in die hooggeregshof in Kaapstad getuig Susan Rohde is reeds in die oggendure van Sondag 24 Julie 2016 dood.

Hy het gesê hy het verskeie faktore, soos die temperatuur in die kamer toe hy daar aankom, die temperatuur van die lyk, die lug in die badkamer asook die moontlikheid dat die lyk geskuif kon gewees het, in ag geneem.

Sy bevinding was dat sy omstreeks 05:40 die Sondagoggend dood is.

Coetzee-Khan het getuig polisiebeamptes van Stellenbosch het vir hom gesê daar was bloed in die kamer, maar geen bloed in die badkamer nie. Hulle het hom ook voor die tyd vertel van die argument tussen Susan en Rohde en dat sy haar glo toegesluit het in die badkamer van die hotelkamer op die Spier-landgoed, waar hulle tuisgegaan het.

Hy het omstreeks 12:45 opgedaag by die landgoed, waar twee forensiese patologiese beamptes, en konst. Vanessa Adams, 'n polisiefotograaf, die toneel vir hom uitgewys het.

Volgens Coetzee-Khan was Jason Rohde nie daar nie.

Susan het uitgestrek op die badkamervloer gelê. Haar kop het na die bad gewys en haar bene was onder die wasbak.

Sy was net in ’n wit japon geklee.

Hy het ook getuig dat die koord waarmee sy vermoedelik verwurg is, reeds van haar nek afgehaal was en in ’n bewysstuksak gesit is.

Daar was klein bloeddruppels op die japon, maar geen bloed op die badkamerdeur of by die ingang van die badkamer nie. Daar was ook bloed op Susan se voete.

Hy het stoelgang onder Susan gevind, maar geen stoelgang by die badkamerdeur nie.

Coetzee-Khan het ook rooi merke op die vloer aan die linkerkant van die bed gesien. Hy het getuig daar was bloed op die kussing, laken en duvet asook op die mat. Dit het hom laat wonder of Susan Rohde nie dalk reeds in die kamer dood is nie.

“Nader ondersoek van die badkamerdeur het getoon die deur kan van buite oop- en toegemaak word.”

Hy het getuig hy het ’n gleuf in die badkamerdeur gesien waarin ’n muntstuk kan pas. Hy het dit volgens sy getuienis ook al in ander hotelle opgemerk waar dit as ’n veiligheidsmeganisme gebruik word as mense hulself daar toesluit.

Coetzee-Khan het die polisie gevra om hul misdaadtoneelkundiges na die hotel te stuur op grond van sy waarnemings.

Hy het verder getuig oor kneusmerke aan Susan se liggaam, onder meer ’n ligatuurmerk aan die nek en onderaan die kaak. Die ligatuurmerk het net onder haar oor opgehou en is volgens hom nie kenmerkend van ’n hangdood nie. Daar was volgens sy getuienis ook ’n hematoom (bloedgewas) bo haar regterooglid. Die besering is glo ’n teken van ’n harde slag of hou in die gesig.

Khan het getuig van kneusmerke aan Susan se een hand, asof sy haar teen iemand verdedig het. Daarom het hy die polisie gevra om Rohde vir ’n mediese ondersoek te neem om te kyk of hy nie dalk merke aan hom het nie.

Susan het ook ou en nuwe beserings gehad. Van die beserings het hom laat dink aan vroue wat gereeld mishandel is. Hy het ook ’n ligatuurmerk aan die nek en onderaan die kaak gesien asook krapmerke aan haar nek.

Die saak gaan ná 14:00 voort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.