Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde-saak genoem in uitval tussen regters

Die regspan van die veroordeelde moordenaar Jason Rohde  volg die klagte wat  Patricia Goliath, adjunkregterpresident van die hooggeregshof in Kaapstad, teen die regterpresident, John Hlophe, en sy vrou, regter Gayaat Salie-Hlophe, ingedien het, met groot belangstelling, sê hulle.

Goliath het verlede week verskeie ernstige klagte by die Regterlike Dienskommissie (RDK) oor Hlophe en sy vrou ingedien.

Van die aantygings sluit in verbale mishandeling, viktimisering en intimidasie van regters asook ’n klag waarin sy die toewysing van die Rohde-saak aan Salie-Hlophe bevraagteken.

Rohde is aan moord en regsverydeling skuldig bevind nadat sy vrou, Susan (47), se lyk op 24 Julie 2016 agter ’n geslote badkamerdeur op die Spier-wynlandgoed by Stellenbosch gevind is.

Jason Rohde tydens sy moordverhoor in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Peter Abrahams

Volgens Goliath het die toewysing “groot ongelukkigheid in die afdeling veroorsaak omdat Salie-Hlophe een van die jongste regters was”.

Goliath het gesê sy het in Augustus 2017 die saak met Hlophe bespreek omdat die Rohde-saak ’n hoëprofielsaak was.

Volgens Goliath het sy voorgestel dat die Rohde-saak aan ’n senior regter met ervaring toegewys word.

“Hlophe het nie saamgestem nie en gesê hy het tyd nodig om die toewysing te oorweeg. Later, op dieselfde dag, het hy egter die saak vir sy vrou gegee.

“Ek het sy besluit aanvaar, want hy is die regterpresident,” sê Goliath in haar beëdigde verklaring aan die RDK.

John Hlophe. Foto: Felix Dlangamandla

Goliath beweer Salie-Hlophe het haar ’n week later genader om die toewysing van die Rohde-saak te bespreek. Sy het volgehou ’n meer senior regter moes gekies gewees het om die verhoor te hanteer.

“Ek het gesê dit gaan nie vir my daaroor om haar vermoëns te bevraagteken nie, maar dit was bloot ’n voorkeur om ’n meer senior regter aan te stel.”

Goliath sê toe Salie-Hlophe haar kom “ondervra”, was dit duidelik dat sy wou hê Goliath moes haar toewysing goedkeur.

“Ek het geweier om dit te doen en het gestaan by my mening,” sê Goliath.

Die volgende Maandag, sê Goliath, was Hlophe sigbaar kwaad vir haar, het haar “vyandig aangegluur” en ’n paar dae lank nie met haar gepraat nie.

In regskringe doen die gerugte oor die bewerings teen die Hlophes glo reeds lankal die ronde.

Tony Mostert, Rohde se prokureur, het by navraag gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die Hlophe-debakel terwyl sy kliënt se appèl nog aangehoor moet word nie.

“Ek wil nie ons appèl op enige manier beïnvloed nie en dit is tans baie moeilik om kommentaar te lewer hangende die appèl,” het hy gesê.

Adv. Barnabas Xulu, wat Hlophe en Salie-Hlophe verteenwoordig, het by navraag gesê die klagte teen Hlophe is slegs gerugte en hoorsê. Hlophe wil bewys dat dit geen meriete het nie.

Rohde het die feestyd by sy geliefdes deurgebring nadat hy in Desember op borgtog vrygelaat is hangende sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis.

Die appèl teen sy skuldigbevinding en effektiewe vonnis van 20 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad sal deur ’n volbank appèlregters aangehoor word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.