Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde-saak: ’n Familie in twee geskeur

’n Familie wat in twee geskeur is. Drie dogters wat nie die dood van hul ma kan verwerk nie en terselfdertyd bekommerd is oor hul pa se toekoms nadat hy skuldig bevind is aan hul ma se moord.

Dít was van die aspekte wat Rian Perry, ’n maatskaplike werker van die Wes-Kaapse regering, Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad ter verswaring van Jason Rohde se vonnis getuig het.

Tony Mostert (links), Jason Rohde se prokureur, staan en gesels met Rohde in ’n kort verdaging in die hooggeregshof in Kaapstad. By hulle sit adv. Graham van der Spuy, Rohde se advokaat. Foto: Jaco Marais

Rohde is in November skuldig bevind aan die moord op sy vrou Susan in hul hotelkamer op die Spier-landgoed in Julie 2016. Hy is ook skuldig bevind op aanklagte van regsverydeling nadat hy die toneel gemanipuleer het om dit te laat lyk asof Susan haarself om die lewe gebring het.

Vonnisverrigtinge het eers 12:30 begin nadat die hof vir meer as twee ure weens beurtkrag gesluit was.

Die staat het drie getuies geroep om sy saak te stel oor waarom Rohde die maksimum vonnis moet kry.

David Anderson, wat in beheer van Susan se boedel is, het die finansiële uitgawes sedert haar dood uiteengesit. Van ’n boedel wat meer as R4 miljoen sterk was, is daar tans net R80 000 oor. Van die geld is aan die drie dogters se opvoeding en verblyf betaal. En sowat R2,9 miljoen was vir regsuitgawes van Jason Rohde.

Die huis in Plettenbergbaai is nog in sy besit ek kan verkoop word. Jason se ouers het aangedui hulle sal sowat R500 000 kan bydra tot die dogters se lewenskoste, wat die betaling van universiteitsgelde insluit.

Hierna is dr. Naeemah Abrahams, navorser van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, geroep om oor misdaad teen vrouens te getuig. Sy het gesê dit is gewoonlik in intieme verhoudinge waar die mans die vrouens seksueel, emosioneel en verbaal mishandel. Sy het wel op ’n vraag van die verdediging gesê dat sy nie Rohde se saak as “femicide” klassifiseer nie.

Perry is volgende geroep en het getuig oor die impak wat Susan se dood op haar nabye familie gehad het. Die verdediging was verbaas dat Perry, wat bevestig het dat hy onafhanklik kom getuig, nie met Jason se ouers of sibbe onderhoude gevoer het nie.

Jason Rohde word van die aanhoudingselle gebring nadat daar meer as twee ure beurtkrag in die Kaapse middestad was. Foto: Jaco Marais

Perry het meestal gefokus op Rohde se drie dogters, die 20-jarige Kathryn en die tweeling, Josie en Alexandra (18).

Hy het getuig die dogters het hoë vlakke van emosionele verwarring ervaar. Hulle moes die dood van hul ma aanvaar en terselfdertyd ook aanvaar dat hul pa van hul ma se moord aangekla is.

Die oudste dogter het ook nog nie behoorlik die dood van hul ma verwerk nie, die mens wat haar stabiliteit gegee het, baie lief gehad het en met wie sy ook ’n sterk vertrouensband gehad het.

Volgens Perry het sy nie aanvanklik verstaan dat haar pa ’n swaar straf opgelê kan word nie.

Volgens Perry is die oudste dogter ook bang dat hul familie nie vir hulle sal kan sorg nie en dat sy verantwoordelikheid in alle aspekte sal moet neem om vir haar jonger susters te moet sorg.

“Sy voel sy het nie ’n huis nie omdat haar ma dood is en haar pa in aanhouding is,” het Perry gesê.

Die tweeling het soortgelyke gevoelens. Hulle het dit moeilik gevind om hul pa se skuldigbevinding te aanvaar en te verwerk en het ook nog nie hul ma se dood behoorlik verwerk nie.

Een van die tweeling het dit makliker gevind om te praat oor hoe sy voel, terwyl die ander een emosioneel geraak het. Hulle het egter aan Perry gesê hulle voel daar is ’n skeur in die familie en daarom voel hulle alleen en dat hul pa die enigste vorm van stabiliteit in hul lewens is.

Vonnisverrigtinge duur Donderdag voort.

Rian Perry, ’n maatskaplike werker, het ’n verslag saamgestel oor die impak wat die saak op Jason Rohde se dogters en ander familielede gehad het. Foto: Jaco Marais
Dr. Naeemah Abrahams van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, het getuig oor geweld teenoor vrouens in Suid-Afrika. Foto: Jaco Marais
David Anderson het ’n uiteensetting gegee van wat die stand van Susan Rohde se boedel is. Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Jason Rohde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.