Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde skuldig, bring nag in tronk deur

Jason Rohde bring Donderdag sy eerste nag as veroordeelde moordenaar in die Pollsmoor-gevangenis deur.

Sy borgtog is teruggetrek nadat die hof hom skuldig bevind het. Hy het weer ’n borgtogaansoek ingedien, maar dit het misluk.

Die hof het ook bevind hy het die toneel gemanipuleer om die indruk te wek dat sy vrou, Susan, haarself om die lewe gebring het.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het Donderdag haar uitspraak in die hooggeregshof in Kaapstad begin deur die toneel van ’n mooi wintersoggend by ’n spoghotel buite Stellenbosch te kontrasteer met Susan se halfnaakte lyk wat op die badkamervloer van kamer 221 gevind is.

“ ’n Lewe wat kortgeknip is op die jong ouderdom van 47. Sy was ’n ma van drie dogters en die vrou van Jason, ’n suksesvolle sakeman,” het sy gesê.

Die selfoonboodskappe wat Jason Rohde en sy minnares, Jolene Alterskye, vir mekaar gestuur het. Hierdie boodskappe, wat hy van sy selfoon probeer uitwis het, het Susan laat besef hul verhouding is nie verby nie. Foto: Uitspraak

Jason, uitvoerende hoof van Southeby’s in Suid-Afrika, en Susan het dié maatskappy se jaarlikse konferensie van 22 tot 24 Julie 2016 by Spier bygewoon.

“Spier was ook die laaste toneel van ’n liefdesdriehoek wat reeds maande vantevore gevorm het,” het Salie-Hlophe gesê.

’n Paar dae ná Valentynsdag in 2016 het Susan ’n kaartjie in haar man se tas gekry wat van sy minnares, Jolene Alterskye, afkomstig was. Susan het haar man in ’n badkamer toegesluit en hom daaroor gekonfronteer. Jason moes Jolene voor Susan bel en die verhouding beëindig.

Maande van “hartverskeurende trauma” het gevolg, maar sy wou nie gehad het die wêreld moes van hul probleme weet nie.

Sy het vir terapie gegaan en het ook haarself probeer mooi hou deur botoks-inspuitings te kry. Dit is alles gedoen om perfek te lyk vir die geselligheid by Spier, wat sy aangedring het om saam met haar man by te woon.

Jason Rohde word ná sy skuldigbevinding na die aanhoudingselle onder die hof geneem. Foto: Jaco Marais

Sy wou aan Jolene, wat ook daar sou wees, wys dat daar geen plek vir haar in hul huwelik is nie. Maar ná ’n stresvolle naweek het die oomblik van klarigheid gekom toe Susan vir Jason betrap waar hy ’n teksboodskap aan Jolene van sy foon uitwis.

Hulle het begin baklei en dit het vinnig fisiek geraak. Hy het die kamer verlaat, maar sy het hom gevolg en hulle het later saam teruggekeer.

Die volgende oggend was Susan dood.

Jason het aangevoer Susan het haar lewe geneem weens die verhouding en omdat hy die huwelik wou beëindig.

Geboei staan Jason Rohde nadat hy skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan. Foto: Jaco Marais

Terwyl die uitspraak Donderdag gelees is, het Jason emosioneel geraak toe hy besef Salie-Hlophe is nie aan sy kant nie. Hy het sy kop laat sak. Sy gesig was rooi en hy het begin huil.

Salie-Hlophe het gesê die fisieke bakleiery is die volgende oggend voortgesit nadat Jolene en Susan boodskappe aan mekaar gestuur het.

“Die afleiding wat ’n mens maak, is dat die fisieke geveg weer opgevlam het nadat Susan die boodskappe aan Jason gewys het. Dit was toe dat Jason haar teen die kop geslaan, gewurg en met ’n kussing versmoor het,” het Salie-Hlophe bevind. Jason het toe ’n plan beraam om ’n storie te prakseer van hoe Susan haarself om die lewe gebring het.

Hy het haar lyk na die badkamer gesleep, haar op die vloer laat lê, die koord om haar nek en die deur vasgemaak, die badkamer verlaat en die deur gesluit.

Salie-Hlophe het bevind die staat het bo redelike twyfel bewys dat Jason sy vrou met voorbedagte rade vermoor en die toneel gemanipuleer het.

Vonnisoplegging begin op 21 November.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.