Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde veg teen trane toe oudste dogter kom getuig

Met trane in sy oë het Jason Rohde Donderdag gekyk hoe sy oudste dogter in die getuiebank inskuif.

’n Emosionele Jason Rohde nadat sy oudste dogter in die getuiebank ingeskuif het. Foto: Adrian de Kock

Kathryn Rohde (20) was bereid om ter versagting van vonnis in haar pa se saak te getuig.

Adv. Graham van der Spuy, Rohde se regsverteenwoordiger, het ná sy eerste getuie, dr. Kevin Stoloff, Rohde se psigiater, die hof herinner aan die bevel wat op 9 Oktober verlede jaar gemaak is wat betref die beskerming van Rohde se drie dogters.

Ingevolge die bevel mag geen foto’s of video-opnames van hulle gemaak word nie.

Van der Spuy het aangevoer die bevel staan nog, maar dat hulle ’n aansoek wil indien sodat Kathryn in camera kan getuig, met die media wat nie in die hof teenwoordig is nie. Die staat was gekant hierteen omdat die bevel gemaak is in die lig van Rohde se tweelingdogters wat verlede jaar nog minderjarig was en dat daar geen gevaar vir hulle bestaan indien hulle nou getuig nie.

Regter Gayaat Salie-Hlophe het gesê sy het alle betoë in ag geneem, maar moes ’n moeilike besluit doen om Kathryn te beskerm, maar ook die media en die gemeenskap se reg tot die howe teen mekaar op te weeg.

Sy het ’n bevinding gemaak en gesê sy sal nie die media verhoed om hul werk te doen nie en net klank mag opgeneem word, geen beelde van die dogters nie.

Kathryn, in ’n ligte wit knopiesrok wat tot byna op haar enkels gehang het en met ’n lang blonde vlegsel, het na die getuiebank gekom en Rohde het feitlik dadelik begin huil.

Jason Rohde druk sy lippe styf teen mekaar om te probeer keer dat die trane vloei. Hy kyk na sy oudste dogter, Kathryn Rohde, waar sy in die getuiebank sit. Foto: Adrian de Kock

Van der Spuy het die hof versoek om vir vyf minute te verdaag sodat hulle net vinnig met Kathryn kan konsulteer en ook met Rohde.

Ná die verposing het Van der Spuy gesê daar is te min tyd om met haar getuienis te begin en het die hof versoek om die saak uit te stel wanneer haar getuienis binne een dag afgehandel kan word. Salie-Hlophe het dit toegestaan.

Hierna het Van der Spuy ’n aansoek om borgtog ingedien sodat Rohde hangend die finalisering van sy vonnisoplegging, wat oor die Kerstyd sal strek, op borgtog vrygelaat kan word. Hy het gesê Rohde is nie ’n vlugrisiko nie en hy is bereid om ’n enkelmonitor te dra. Hy sal hom ook elke dag by die polisiekantoor aanmeld.

Die staat het gesê Rohde kan net ’n aansoek bring indien nuwe getuienis voor die hof geplaas kan word en dat daar geen nuwe bewyse hier bestaan nie.

Salie-Hlophe het gesê hoewel sy empatie het met die Rohde-gesin, is daar nie nuwe inligting wat die hof kan oorreed om hom op borgtog vry te laat nie.

Die saak is tot 18 Februarie 2019 uitgestel.

Regter verdaag hof oor twis met advokaat

Emosies het Donderdag hoog geloop tussen die veroordeelde moordenaar Jason Rohde se advokaat en regter Gayaat Salie-Hlophe in die hooggeregshof in Kaapstad.

Soveel só dat Salie-Hlophe die hof verdaag het terwyl die verdediging se eerste getuie ter versagting van vonnis getuig het. Die verrigtinge het eers om 14:15 hervat.

Rohde se regsverteenwoordiger, adv. Graham van der Spuy,

het Rohde se psigiater, dr. Kevin Stoloff, as eerste getuie geroep.

Salie-Hlophe het hier die getuienis onderbreek en Van der Spuy gewaarsku dat hierdie getuienis reeds in die verhoor gelewer is. Stoloff moet nou oor versagtende omstandighede getuig.

Van der Spuy het aan Salie-Hlophe gesê die doel van die getuienis is om Rohde se samewerking gedurende die verhoor aan die hof voor te hou omdat dit baie van hom as persoon sê.

Salie-Hlophe het geantwoord dit is nie ’n borgtogaansoek nie en dat Van der Spuy binne die perke van versagtende omstandighede moet bly.

Van der Spuy het haar in die rede geval en gevra of sy beveel dat hy nie met dié koers van ondervraging voortgaan nie.

Salie-Hlophe het aan Van der Spuy gesê hy moet mooi dink oor hoe hy met haar praat. Sy het hierna die hof verdaag en uitgeloop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.