Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rohde vra borgtog ‘om sy onderneming te red’

Jason Rohde wil op borgtog vrygelaat word om ’n “vyandige oorname” van sy eiendomsmaatskappy, Glasshouse Realty& Associates (Pty) Ltd., te keer.

Luidens sy aansoek om borgtog, wat op nuwe meriete gegrond is, is die eiendomsmagnaat Lew Geffen besig om geld te isoleer.

Geffen het ’n aandeel van 25% in dié maatskappy en volgens Rohde is hy besig om geld, wat van die King Edward Trust na Glasshouse betaal moet word, eenkant toe te skuif.

Rohde is skuldig bevind aan die moord op sy vrou, Susan Rohde, op die Spier-landgoed in Julie 2016 asook regsverydeling. Hy is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis, maar is deur die appèlhof verlof gegun om teen die uitspraak en vonnis te appelleer.

Rohde is ’n direkteur en begunstigde van die King Edward-trust. Die trust is gekoppel aan die aandeelhouers en direkteure van Glasshouse.

Geffen het op 9 Julie 2019 ’n aansoek in die hooggeregshof in Johannesburg gebring om Rohde en sy prokureur, Tony Mostert, te keer om as aktiewe lid van hierdie maatskappy op te tree.

Luidens hofstukke het Rohde gesê Mostert tree tot tyd en wyl op as trustee en direkteur in die maatskappye.

Geffen se aansoek is onder meer teen Mostert, Rohde, Rohde se ma, Brenda Rohde, en Maureen Taggart, asook Glasshouse Realty&Associates.

Die rede waarom Rohde hierdie aansoek wil teenstaan, is omdat sy dogters se finansiële stabiliteit daarvan afhang.

Luidens hofstukke sal sy drie dogters net genoeg geld hê tot einde 2019.

Rohde voer aan hy moet op borgtog vrygelaat word sodat hy die maatskappy behoorlik kan bestuur en ook die hofaansoek behoorlik kan teenstaan, iets wat hy nie uit die tronk kan doen nie. Dit is ook sy grondwetlike reg om op borgtog vrygelaat te word hangende sy appèl wat moontlik eers in 2020 of 2021 aangehoor kan word.

Rohde en sy ma, sowel as ’n derde lid, Maureen Taggart het die maatskappy in 2003 begin. Geffen het later betrokke geraak nadat Rohde vir Sotheby's begin werk het. Geffen is dus ook ’n trustee van die King Edward-trust.

Al vier het ’n 25%-aandeel in die onderneming en volgens Rohde het Geffen nie ’n aktiewe rol in die bestuur van die besigheid gespeel nie.

In Geffen se aansoek vra hy die hof om te bevind dat Mostert nie as ’n trustee van die trust mag optree nie, dat hy nie ’n direkteur van Glasshouse Realty&Associates is nie en dat Rohde op 8 November, die dag dat hy skuldig bevind is, gediskwalifiseer is om as ’n trustee en direkteur gelys te wees. Hy versoek ook ’n interdik teen Mostert om hom te verhoed om as ’n trustee en direkteur op te tree of homself voor te doen as ’n trustee of direkteur.

Die aansoek sal in Augustus in die hof aangehoor word.

Rohde voer aan dit is sy grondwetlike reg om op borgtog vrygelaat te word en dat sy gesin en ondernemings benadeel sal word as sy aansoek onsuksesvol is.

’n Ander kwessie wat Rohde in sy borgtogaansoek opper, is dat hy die geld wat Susan se versekeringspolisse uitbetaal het, sal moet terugbetaal as sy appèlaansoek suksesvol is en hy onskuldig bevind word aan die moord op sy vrou.

Susan se trust het ’n klousule bevat wat dit gestel het dat die trust nie sou uitbetaal nie indien sy selfdood pleeg binne die eerste twee jaar vandat die trust van krag geword het.

Susan is dood in dié tydperk.

Die staat vra in sy repliek of daar werklik nuwe meriete is waarop Rohde sy aansoek grond.

Die staat vra of hierdie “nuwe meriete” nie net die skommeling van ou inligting is wat voorheen aangevoer is nie.

Die feit dat Rohde verlof om appèl toegestaan is, beteken dit nie dat hy geregtig is om op borgtog vrygelaat te word nie.

Dit sal nie in die belang van geregtigheid wees om borgtog toe te staan nie.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Lew Geffen  |  Borgtog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.