Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Tabakverbod: Fita kry pak in hof, Batsa moet wag tot Augustus

’n Onomwonde “nee”.

Dit was Vrydag die hooggeregshof in Pretoria se antwoord op die aansoek om die nietigverklaring van die regulasies wat die verkoop van tabakprodukte tans verbied.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het wel geldige redes gehad om ’n verbod in te stel, het die hof in die dringende aansoek van die Fair Trade Tobacco Industry (Fita) bevind.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het wel geldige redes gehad om ’n verbod in te stel, het die hooggeregshof in die dringende aansoek van die Fair Trade Tobacco Industry bevind.

Boonop het rokers Vrydag dubbele slegte nuus gekry: Die soortgelyke aansoek deur British American Tobacco SA (Batsa) sal nou eers in Augustus aangehoor word.

Dlamini-Zuma en pres. Cyril Ramaphosa het die Fita-aansoek teengestaan.

Fita het aangevoer die verbod het geen rasionele of wetlike toets geslaag nie. Dlamini-Zuma se besluit was ’n drakoniese komplot om mense so ver te kry om op te hou rook.

’n Volbank regters, onder leiding van Gauteng se regterpresident, Dunstan Mlambo, het beslis Fita het nie die konteks waarin die regulasies gemaak is, in gedagte gehou nie.

Die minister is daarmee gelas om drastiese stappe te doen om die verspreiding van die virus te voorkom, juis omdat Suid-Afrika nie goed genoeg toegerus is om die pandemie – wanneer dit sy piek bereik – af te weer nie. Baie mense gaan ongetwyfeld nog daaraan sterf.

Derhalwe het die hof bevind dat die minister binne haar magte opgetree het. Die hof was ook tevrede dat sy genoegsame oorweging gegee het aan die mediese en wetenskaplike navorsing tot haar beskikking.

Die aansoekers se argument dat sigarette as ’n noodsaaklikheid beskou moet word, het ook geen meriete nie. “Die feit dat iets verslawend is, maak dit nie outomaties ’n noodsaaklike item nie,” lui die beslissing.

Wat die indruising van die regulasies teen mense se basiese regte betref, moet die regsbeginsel van “rasionaliteit” volgens die hof, nie met die beginsel van “billikheid” saamgegooi word nie.

Ingevolge die Grondwet moet daar bloot ’n rasionele verband wees tussen die regering se einddoel en die afkondiging van ’n wet. Slegs wanneer daar geen verband is nie, is ’n wet ongeldig.

“Kon sy ’n beter of ander besluit geneem het? Dalk. Maar dit was nie die vraag voor die hof nie,” lui die uitspraak.

Sinenhlanhla Mnguni, Fita-voorsitter, het gesê hy is teleurgesteld met die uitspraak.

“Dit is nie net vir ons organisasie ’n harde slag nie, maar ook vir die hele tabakbedryf,” sê hy.

Johnny Moloto, hoof van eksterne sake van Batsa, het Vrydag gesê die jongste vertraging in hul aansoek is kommerwekkend en onrusbarend.

Moloto sê dit is “skokkende nuus” en die staat gaan weens die verdere vertraging van ses weke sowat R1,4 miljard aan belastings verbeur.

Dit is nie net vir ons organisasie ’n harde slag nie, maar vir die hele tabakbedryf.

Die regering het Vrydagaand in ’n verklaring aantygings verwerp dat hy verantwoordelik is vir ’n verdere vertraging in die hofaansoek.

Batsa het begin Junie sy dringende aansoek teen Dlamini-Zuma, die nasionale Covid-19-bevelsraad en die president ingedien.

Dit sou die afgelope Woensdag aangehoor geword het, maar as gevolg van ’n versoek deur die aansoekers dat ’n volbank regters die saak moet aanhoor – soos in die geval van die Fita-aansoek – is dit uitgestel.

Die partye het ooreengekom dat dit komende Maandag en, indien nodig, Dinsdag sou plaasvind.

Die aansoekers het egter Woensdag vandeesweek nuwe stukke ingedien.

Dit bevat verklarings van twee nuwe kenners en Batsa “het die regering nie in kennis gestel dat dit nuwe materiaal sal bevat nie”, lui die regeringsverklaring.

Die regterpresident is ingelig dat die saak derhalwe nie gereed sal wees om voort te gaan nie en hy het 5 en 6 Augustus in die hooggeregshof in Kaapstad as datums vasgemaak.

Meer oor:  Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma  |  Sigarette  |  Rokers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.