Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Roof in BMW-weelde

’n Weermagkorporaal – wat reeds teregstaan op aanklagte van poging tot moord – is gearresteer nadat hy ’n superluukse weermag-BBP-motor in ’n rooftog gebruik het.

Carine van Staden wat in die bors geskiet is, saam met haar vriend, Johan Harmse, wat die motorfiets bestuur het. Foto: Elizabeth Sejake

Die motor, ’n spierwit BMW 540i wat meer as ’n miljoen rand kos, is een van dié wat vroeër teen ’n totale koste van R73 miljoen aangekoop is sodat weermaggeneraals in weelde kan rondry terwyl hul rûe gemasseer word en hulle luister na musiek op die kar se R50 000-klankstelsel.

Die 35-jarige korporaal wat in die rooftog betrokke was, is dieselfde man wat in September die 28-jarige Carine van Staden in ’n padwoede­aanval trompop in die bors geskiet het. Jacob Marakalla het reeds in die hof verskyn op ’n klag van poging tot moord op Van Staden. Sy het by die dood omgedraai weens ’n koeël wat net 2 cm van haar hart verby is.

Toe Marakalla en Lucas Mudau (41) Dinsdag in Thohoyandou in die noorde van Limpopo deur ’n polisietaakspan met die hulp van ’n helikopter vasgetrek is, was hulle na bewering op pad na nog ’n rooftog nadat hulle reeds ’n hardewarewinkel in Dzanani, 30 km noordoos van Makhado (voorheen Louis Trichardt), beroof het.

Verbind met tot 40 gesteelde voertuie.

Marakalla was agter die stuur van die ampsmotor van lt.genl. Barney Hlatshwayo, hoof van gesamentlike operasies. Hlatshwayo is op die oomblik ontplooi in die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Volgens die polisie het Marakalla en ’n makker, nadat hulle die hardewarewinkel beroof het, in die rigting van Thohoyandou weggejaag. Hulle is toe in ’n gesamentlike operasie deur die provinsiale opsporingspan, die lugvleuel, misdaadintelligensie en beamptes van twee plaaslike polisiekantore aangekeer.

Kpl. Jacob Marakalla buite die hof. Foto: Deaan Vivier

Op die toneel het die polisie vasgestel dat ander voertuie wat glo voorheen deur Marakalla en sy makkers in rooftogte gebruik is, by ’n huis in die nabygeleë Matanda versteek is. Daar het die polisie drie ander voertuie – ’n Mercedes Benz CLK 350, ’n Volkswagen Jetta TDI en ’n Volkswagen Polo – gevind. Twee van die voertuie is in KwaZulu-Natal en Gauteng gekaap en die ander kom van Swaziland. ’n Derde verdagte, Rendani Edzani (41), is hier in hegtenis geneem.

Rapport het in Februarie berig dat die weermag R73 miljoen aan superluukse motorkarre bestee het terwyl daar 6 000 ondiensbare voertuie in voertuigparke staan en roes. Brig. Mafi Mgobozi, ’n weermagwoordvoerder, het destyds die aankope verdedig deur te sê dis gekoop met geld “wat in die verdedigingsbegroting van die vorige begrotingsjaar oorgebly het” en dat dit deel vorm van ’n poel BBP-voertuie vir “spesiale geleenthede”.

Dinsdag was een van daardie voertuie, steeds met sy militêre registrasienommer, egter vol klapmusse, handskoene, blou ligte, vervalste nommerplate en kontant.

Die splinternuwe BMW wat in ’n rooftog gebruik is, is R1,2 miljoen werd. Foto: SAPD

Ook in die motor was Marakalla se weermag-identifikasie- en -toegangskaarte, onder meer dié vir die nooddeur van Spesiale Magte se kantore, die Verdedigingshoofkwartier en die hoofkwartier van Gesamentlike Operasies. Daar was ook ’n weermagpermit vir ’n Beretta-pistool wat reeds verlede jaar verval het.

Die polisie sê twee pistole is by Marakalla en sy makkers gekry, maar albei pistole se reeksnommers was afgevyl.

In September verlede jaar het Marakalla na bewering sy amptelike 9 mm-pistool gebruik toe hy Van Staden trompop geskiet het nadat sy en haar vriend, Johan Harmse, hom in die Wonderboom-omgewing wou konfronteer omdat hy na bewering verskeie kere probeer het om hulle van die pad te druk terwyl hulle op ’n motorfiets gery het. Hy was destyds ook agter die stuur van ’n weermag-BBP-voertuig, ’n Audi.

Kpl. Jacob Marakalla se toegangskaarte wat ná ’n rooftog by hom gevind is. Foto: SAPD

Marakalla het reeds skuld ontken op aanklagte van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur van ’n voertuig. Hy het van die toneel weggejaag, maar hom later by die Sinoville-polisiekantoor gaan oorgee waar ’n generaal glo gesorg het dat hy op waarskuwing vrygelaat word. Sy verhoor hervat einde Mei in die landdroshof in Pretoria-Noord.

Marakalla is egter nou agter tralies nadat hy en Mudau Woensdag vlugtig in die landdroshof in Dzanani verskyn het. Hulle word aangekla van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en gesteelde goedere. Edzani het apart verskyn op aanklagte van die besit van ’n gesteelde voertuig.

Die polisie glo tot 40 gesteelde voertuie kan met die verdagtes verbind word. Die staat staan borgtog teen.

Meer oor:  Jacob Marakalla  |  Carine Van Staden  |  Motordiefstal  |  Bmw  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.