Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Roofdier-vrou: Wag hoor rusie, toe vrou wat gil
Annel Snyman se ma, Antoinette Snyman (met haar rug na die kamera), en suster Marlize van Niekerk omhels mekaar ná die dag se hofverrigtinge waar Chris Luus (44) aangekla is vir die moord op Annel (38). Links is Annel se pa, Hennie, en regs haar ander suster, Karlien van Burick. Foto: Deaan Vivier

’n Veiligheidswag het die aand van die roofdierkenner Annel Snyman se dood eers ’n rusie vanuit chalet nr. 7 gehoor, toe iets wat val en kort daarna ’n vrou wat gil.

Ongeveer 50 minute later het Chris Luus hom kom vra om ’n ambulans te ontbied.

Dié verklaring van die wag was een van die redes hoekom Khulekani Mncube, staatsaanklaer, Woensdag in die landdroshof in Colenso, KwaZulu-Natal, Luus se vrylating op borgtog teengestaan het.

Luus (44) en Snyman (38), albei van Bela-Bela in Limpopo, was in ’n verhouding. Snyman was die eienaar van die Loebies-roofdierpark buite die dorp.

Hulle het in September by die Cayley Mountain Resort in die Drakensberge gekuier waar Snyman op 9 September dood gevind is.

Luus voer aan dat sy haarself met ’n rekverband aan ’n haak van ’n badkamerdeur gehang het.

Chris Luus (44) Foto: Deaan Vivier

Hy is egter op 7 November op sy plaas in Bela-Bela op ’n klag van moord in hegtenis geneem.

Woensdag het Mncube ook ’n aanklag van regsverydeling bygevoeg omdat Luus volgens hom die toneel in die chalet “só opgestel het dat dit na selfdood lyk”.

Mncube het aan landdros Piet Dyson gesê die motief vir die (beweerde) moord is nog onbekend, maar die staat glo dat Snyman vermoor is.

Hy het verwys na die veiligheidswag se verklaring en gesê die wag het die oordbestuurder gaan roep nadat Luus hom om 00:05 gevra het om die ambulans te ontbied.

“Die bestuurder sê hy het by die chalet ingegaan en die liggaam van ’n vrou op die bed gevind. Sy het op haar rug gelê. Daar was ’n verband en ’n skoon mes naby die badkamerdeur.

Een dokter het selfdood as ’n oorsaak uitgesluit. Die merke aan die oorledene se nek is eerder soortgelyk aan verwurging, as dié van byvoorbeeld ’n tou, en haar lugpyp was beskadig

“Die beskuldigde het aan hom gesê hy was buite vir vars lug omdat hulle gedrink het, en toe hy terugkeer, het hy die oorledene gevind waar sy aan die badkamerdeur hang,” het Mncube gesê.

Die staat het egter twee nadoodse verslae waarin albei se bevinding is dat Snyman dood is weens versmoring/verwurging.

“Een dokter het selfdood as ’n oorsaak uitgesluit. Die merke aan die oorledene se nek is eerder soortgelyk aan verwurging, as dié van byvoorbeeld ’n tou, en haar lugpyp was beskadig,” het die aanklaer gesê.

Chris Luus se eksvrou, Liezel Luus, sit in die landdroshof in Colenso. Foto: Deaan Vivier

Die ondersoekbeampte, ao. Avesh Lalthapersadh, het ook getuig dat albei chalets weerskante van nr. 7 daardie aand leeg was. Die geluide wat die veiligheidswag gehoor het, kon dus net van Luus en Snyman s’n kom.

Volgens hom het Luus die volgende dag ’n snywond aan sy voorkop gehad.

“Hy het gesê hy het die vorige aand om ongeveer 23:00 geval – vandaar die sny op sy voorkop. Hy het toe die oorledene in die kamer gaan soek en haar gevind waar sy hang,” het Lalthapersadh getuig.

Volgens hom sou dit onmoontlik vir Snyman gewees het om haarself te hang, gegewe haar lengte. “Haar voete sou die grond geraak het,” het die ondersoekbeampte gesê.

Voorts het ’n hiëna haar in Julie aan die regterarm gebyt.

“Dit is haar dominante arm en sy sou in September ’n veloorplanting gekry het. Ek het ’n brief van die dokter wat sê sy kon nie haar regterarm gebruik het nie,” het Lalthapersadh bygevoeg.

Hy het ’n herkonstruksie-span van Pretoria, onder leiding van ’n kolonel, gevra om die toneel in die chalet te rekonstrueer en wag vir hul verslag.

Volgens Lalthapersadh lyk dit of Luus en Snyman ’n stormagtige verhouding gehad het. Hoewel Snyman die outo-immuunsiekte lupus gehad het, het sy volgens vriende en familie nooit gekla van pyn nie en was sy ’n “happy-go-lucky”-mens.

Hy het volgehou dat Snyman ’n goeie verhouding met haar familie gehad het.

Luus se weergawe:

Petrus Coetzee, Luus se regsverteenwoordiger, het ’n verklaring voorgelees waarin die beskuldigde die bewerings ontken en sê: “Ek was vernietig deur die oorledene (Annel Snyman) se selfdood. Ek het geen aandeel in haar dood nie. Ek het haar gevind waar sy aan die badkamerdeur hang. Ek het gesukkel om die verband los te kry en (toe) noodhulp toegepas, 10111 gebel, maar die operateur kon my nie verstaan of help nie, en toe na die oord se wag gegaan vir hulp.”

Luus het bygevoeg: “Ek het geen rede, behoefte of opset gehad om haar te vermoor nie. Ek was lief vir haar en ons was vir ongeveer drie jaar in ’n verhouding.”

Annel Snyman se susters, Karlien van Burick (links) en Marlize van Niekerk, Woensdag in die landdroshof.Foto: Deaan Vivier

Volgens hom het Snyman daagliks medikasie vir lupus en depressie gebruik.

“Een van die gevolge van lupus is chroniese depressie. Die dokter het (destyds) gesê sy sou nie lank lewe nie. Sy het hom elke jaar op haar verjaardag gebel om te sê sy het nog ’n jaar oorleef,” het Luus beweer.

Hy was glo die een wat haar vir mediese ondersoeke geneem het, haar bygestaan het en by haar bed gewaak het toe sy in Apri/Mei vanjaar met ’n nierprobleem in die hospitaal opgeneem is.

Hy beweer dat 2019 vir Snyman “hel” was.

Sy het ’n dispuut met haar pa gehad omdat hy die plaas, waarop die roofdierpark is, wou verkoop.

“Die diere is al waarvoor sy leef.

Een van die gevolge van lupus is chroniese depressie. Die dokter het (destyds) gesê sy sou nie lank lewe nie. Sy het hom elke jaar op haar verjaardag gebel om te sê sy het nog ’n jaar oorleef.

“Sy haat haar een suster. Ek weet, want ek is die een met wie sy daaroor gepraat het,” het Luus aangevoer.

Hy het bygevoeg hy is nie ’n vlugrisiko nie omdat hy drie sakeondernemings het. Sy werknemers en subkontrakteurs ly almal geldelik weens sy aanhouding.

Hy het toesig oor sy twee kinders en het geen vorige veroordelings of hangende sake nie.

Hy het op 10 Oktober ’n skoueroperasie ondergaan en moet pynmedikasie neem en fisioterapie kry.

Dyson het hierop aan Coetzee gevra wat tot die operasie gelei het.

Die verduideliking was dat Luus al byna ’n jaar probleme met die skouer het en dit die laaste paar maande al hoe meer pynlik geraak het.

“Is die skouer verder beseer toe die beskuldigde (volgens sy weergawe) die oorledene se liggaam van die deur moes verwyder?” het Dyson gevra.

Coetzee het weer gesê dis net omdat die skouer aanhou probleme gee het.

* Uitspraak in Luus se borgtogaansoek word later vandeesmaand gelewer.

Meer oor:  Annel Snyman  |  Chris Luus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.