Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Rou nog te vlak vir vergifnis’ ná ma doodbrand
Thabo Nthaleng en Mpho Mateu, albei 22, Donderdag met hul vonnisooreenkoms in die hooggeregshof in Bloemfontein. Foto: Kaydene Davids

Die rou is nog te vlak en die seer is nog te diep vir Anneke Rossouw om haar ma, Anna Herbst (66), wat in Bloemfontein bekend was as die “pannekoektannie” se aanvallers te vergewe.

Herbst het op 5 Julie verlede jaar in haar huis op die Martindale-hoewes in Spruitstraat doodgebrand nadat haar aanvallers haar op haar bed vasgebind en een later terug is en die huis aan die brand gesteek het.

Mpho Mateu en Thabo Nthaleng, wat albei 22 jaar oud is, het Rossouw Donderdag om vergifnis gevra nadat hulle ingevolge ’n vonnisooreenkoms met die staat tot 12 jaar tronkstraf in die hooggeregshof in Bloemfontein gevonnis is.

Die aanklagte van moord en brandstigting teen hulle is laat vaar nadat Lehlenolo Gift Hans (19), wat saam met hulle aangekla is, vroeër skuld beken het op Herbst se moord.

Hans het reeds sy vonnis van effektief 25 jaar vir moord, brandstigting en roof met verswarende omstandighede begin uitdien.

Mateu en Nthaleng het enkele minute nadat regter Joseph Mhlambi hulle gevonnis het, Rossouw laat terugroep na die hofsaal sodat hulle haar om vergifnis kon vra.

Hulle het gesê hulle het nie beplan om Herbst te vermoor nie.

“Jammer vir jou verlies, Tannie. Ek weet jou hart is seer. Vergewe my asseblief,” het Nthaleng aan Rossouw gesê.

Anna Herbst

Rossouw sê egter sy kan hulle nie vergewe nie.

“Dit is nog te seer. Hulle kon Hans gekeer het. Hulle het dan alles saamgedoen.”

Sy sê sy is bly hulle is gevonnis.

“Maar dit maak nie die verlange minder of die seer beter nie.”

In ’n pleitverduideliking erken Mateu en Nthaleng dat hulle op 5 Julie 2019 na Herbst se huis is. Toe sy na buite kom om die krag in die verdeelkas aan te skakel, is hulle agter haar aan in die motorhuis in waar hulle ’n ruk in haar motor geskuil het.

In die motor het hulle op ’n emmer vol geld afgekom.

Ná ’n ruk is hulle by die huis in waar hulle Herbst in haar bed aan die slaap aangetref het. Hulle het haar wakker gemaak en vasgebind.

Nthaleng het haar met ’n mes gedreig en meer geld geëis.

Herbst is in die kamer agtergelaat terwyl die drie na waardevolle items in haar huis gesoek het.

Hulle het met juweliersware en met die emmer geld gevlug.

Hans het egter later na die huis teruggekeer op soek na nog waardevolle items.

Hans het hom om 23:00 weer by Mateu en Nthaleng aangesluit waar hulle die geld (R4 000) en die gesteelde items onder mekaar verdeel het.

Mateu en Nthaleng het klere en skoene met hul deel van die geld gekoop.

Volgens die pleitverduideliking het hulle eers toe hulle in hegtenis geneem is gehoor Herbst se huis het gebrand en dat sy in die brand dood is.

• Herbst, wat elke week van Donderdag tot Saterdag pannekoek by die D&J Vleis-slaghuis gebak het, was baie bekend onder die inwoners in Bloemfontein en het as die “pannekoektannie” bekend gestaan. Sy het vroeër ook by Pick n Pay in Fleurdal pannekoek verkoop.

Meer oor:  Anna Herbst  |  Anneke Rossouw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.