Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rugbyspeler ‘slaan swanger vrou met die vuis’

’n Rugbyspeler word aangekla van aanranding op ’n hoogswanger vrou, maar ’n Babelse verwarring heers oor die identiteit van die beskuldigde.

Rhimondy Apollis en haar eggenoot, Henry. Foto: Facebook

Tiaan Swanepoel, ’n rugbyspeler van die Southern Kings, verskyn Dinsdag in die hof op aanklagte van crimen injuria en aanranding.

Dit volg ná ’n insident in Melkbosstrand op 13 Desember waar ’n 37 weke swanger vrou ’n “hotn**” genoem en aangerand is.

Maar Swanepoel (19) het by monde van ’n familievriend aan Rapport gesê hy was nie naby Melkbosstrand op 13 Desember nie en gaan aan die hof sê dit is ’n identiteitsmisverstand.

Volgens Swanepoel het hy dié dag gholf gespeel en by sy familie gebraai in Moorreesburg sowat 80 km vanaf die misdaadtoneel.

Hy het my gestoot en gesê ‘Jou hot***’ en my geklap. Hy het my met die vuis teen die kop geslaan. Toe sit hy sy elmboog onder my ken en probeer my wurg.

In ’n bisarre wending is Southern Kings se Swanepoel ook nie die enigste rugbyspeler met dié naam wat die afgelope week vure moes doodslaan nie.

Die Namibies-gebore rugbyspeler en heelagter van die Leeus, ook Tiaan Swanepoel (24), is indirek by die drama betrek toe ’n poniekoerant berig het ’n “rugbyspeler van die Leeus” is die beskuldigde in die aanrandingsaak.

Rapport verneem die Leeus was oorbluf toe die menseregtekommissie by hulle navraag gedoen het oor of dit húlle speler was wat in die rassevoorval betrokke was.

Tiaan Swanepoel (19). Hy word aangekla van crimen injuria en aanranding, maar sê dit is ’n identiteitsmisverstand.

Die koerant het intussen die berig reggestel en die Leeus se Swanepoel is onskuldig. Hy was nie in die Wes-Kaap nie.

Sy agent, Johan Germishuis, het aan Rapport gesê die rugbyspeler gaan regsaksie neem.

“Die Leeus en Tiaan behou ons regte voor,” sê Germishuis.

Die Kings se Swanepoel moet egter aan meer as rugby-administrateurs antwoorde verskaf.

Die skade aan Rhimondy Apollis se motor Foto: Verskaf

’n Polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, het Vrydag gesê ’n 19-jarige vrou is ook intussen in hegtenis geneem en sal ook Dinsdag in die hof in Atlantis, noord van Kaapstad, verskyn.

’n Vriend van die Kings se Swanepoel, Hanro Liebenberg, het aan Rapport gesê “Tiaan ken wel die mense wat betrokke was omdat hulle ou kennisse van Moorreesburg is”, maar dit was nie hy nie.

“Die persoon wat hom aangekla het, het Tiaan se naam genoem omdat sy dit so gekry het van ’n karwag. Tiaan was op 13 Desember 2020 in Moorreesburg, by sy ouerhuis. Die waarheid sal Dinsdag in die hof na vore kom.”

Liebenberg het vir Rapport foto’s gestuur wat die Kings se Swanepoel op 13 Desember met sy foon geneem het.

Swanepoel het dié foto van homself geneem op 13 Desember 2020 om 12:09. Hy sê hy was op die gholfbaan en nie naby Melkbosstrand nie.

Een is volgens hom ’n selfie op die gholfbaan om 12:09 en ’n ander by die braai om 14:20.

Die klaagster, Rhimondy Apollis, sê sy, haar man, Henry, en haar ma, Lucinda, het die dag omstreeks 18:45 uit Atlantis in Melkbosstrand aangekom. Hulle het na die strand gery om roomys te koop. Terwyl hulle op die parkeerterrein was, het ’n groep jong mense daar verbygeloop. Haar man het die roomys gaan koop.

Sy sê die groep het na ’n VW Polo ge­stap waar die man wat haar aangerand het, agter die stuurwiel ingeklim het. Toe hy sukkel om die motor in trurat te kry, het ’n vrou agter die stuurwiel ingeklim.

Die vrou het toe agteruit in die Apollisse se motor vasgery. Rhimondy se ma het die vrou gaan konfronteer.

Intussen het ’n onbekende man in ’n bakkie daar gestop, die vrou ingelaai en met haar van die toneel probeer ry.

Rhimondy het voor die bakkie gaan staan en beswaar gemaak dat die vrou van die ongelukstoneel verwyder word.

Dis toe dat die man wat sy as die Kings se Swanepoel identifiseer haar van agter teen die kop geklap.

“Die bestuurder van die bakkie het op my ma geskree: ‘Jou vuil kleurling hot***!’ en het probeer om weg te jaag.”

Volgens Rhimondy het die bakkie se bestuurder egter omgedraai en weer probeer om haar ma raak te ry.

Rhimondy het die aanrander weggestoot en geroep: “Is jy mal?”

Swanepoel het hierdie foto’s op dieselfde dag om 14:20 geneem by ’n familiebraai in Moorreesburg om te wys hy was nie naby Melkbosstrand nie.
Tiaan Swanepoel van die Southern Kings het dié foto op 13 Desember 2020 om 14:20 geneem by ’n familiebraai in Moorreesburg. Hy sê hy was nie naby Melkbosstrand nie. Foto: Tiaan Swanepoel

“Hy het my gestoot en gesê ‘Jou hot***’ en my geklap. Ek het hom probeer wegstoot en aan sy vriende geroep hoekom hulle hom dan nie keer nie. Ek het aan hulle gesê dat ek nie bekommerd is oor die duik in my motor nie, maar wel die manier van hul optrede teenoor ons.

“Hy het toe teruggekeer en my met die vuis teen die kop geslaan. Toe sit hy sy elmboog onder my ken en probeer my wurg. Weens die manier waarop hy my aangerand het, wou ek terugslaan, maar ek het aan my ongebore baba gedink. Ek het net gehoor toe my man aan die rugbyspeler skree dat hy my moet los.”

Rhimondy sê sy het ná die voorval die rugbyspeler op sosiale media opgespoor. Sy het onthou sy vriende het hom op sy naam geroep.

Sy soek geregtigheid.

“Die skade aan my motor is klein in vergelyking met die rassistiese opmerkings en die aanranding.”

Volgens Rhimondy het sy gesukkel dat die Melkbosstrand-polisie ’n dossier oopmaak, maar met die hulp van die menseregtekommissie, ’n advokaat en die Atlantis Aksiegroep, het hulle op 20 Desember ’n afspraak by die polisie gekry.

Die Kings se Swanepoel is op 29 Desember in Langebaan aangekeer.

Rhimondy se dogtertjie is gesond op dieselfde dag gebore.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.