Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rust-moordenaars was 'kop in een mus'
Winnie Rust Foto: Paarl Pos

Nigel Plaatjies en sy oom Johannes Plaatjies het die Afrikaanse skrywer Winnie Rust saam op 11 Mei 2016 vermoor, het regter Elize Steyn Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad bevind.

Hulle het haar in haar huis vasgebind, en haar gewurg of versmoor. Daarna het hulle ’n brandende kers voor ’n oop gasstoof gelos in ’n poging om die huis af te brand.

Verskeie artikels is gesteel, waaronder twee goue ringe, skootrekenaars en R5 000 is uit haar bankrekening onttrek. Daarna is kruideniersware en ’n selfoon met haar bankkaarte in Game in die Paarl gekoop. Johannes het ook die ringe in ’n pandjieswinkel vir R1 200 verkoop.

Aanvanklik het Johannes skuld op al die aanklagte ontken.

Nigel het skuld beken op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, diefstal en vier van bedrog, maar ontken dat hy Rust vermoor, haar man probeer vermoor en hul huis aan die brand probeer steek het.

Steyn het bevind dat hulle wel die huis wou afbrand.

Johannes is onskuldig bevind op aanklagte van diefstal nadat die staat beweer het dat hy geld uit haar bankrekening wou onttrek. Nigel het hierop skuld beken en is skuldig bevind.

Albei is skuldig bevind op verskeie aanklagte van diefstal en bedrog deur kruideniersware te koop met haar bankkaart en die verkoop van haar juweliersware.

Steyn het in haar uitspraak gesê Nigel se pleitverduideliking in die hooggeregshof het verskil van die weergawes wat hy in die landdroshof in sy aansoek om borgtog voorgehou het.

Sy het gesê ’n pleitverduideliking word nie onder eed geneem nie en die staat het nie kans om die beskuldigde daaroor te kruisondervra nie. Daarom tel dit nie altyd in ’n beskuldigde se guns om swygreg uit te oefen nie.

Nigel Plaatjies en Johannes Plaatjies tydens ’n vorige hofverskyning. Foto: Lulama Zenzile

Deur hul swye het hulle niks van die staat se getuienis betwis nie. Nie die selfoon-getuienis en lykskouingsverslae nie. Daar was ook briewe tussen die twee waarin hulle oor die beplanning van die daad skryf.

Die enigste ding waaroor Steyn gesê het sy onseker was, was Nigel se rol in die saak. “Hy wou optree soos ’n man, maar kon nie kom verduidelik soos ’n man nie,” het sy gesê.

Steyn het bevind die twee was “kop in een mus” met betrekking tot die roof en diefstal en albei het “beplan om voordeel uit Rust se dood te trek”.

Sy het gesê die “openlike leuenagtigheid is nooit verduidelik nie” en geen aanvaarbare verduideliking is ook aan die hof voorgelê nie.

“Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat hulle dit saam beplan en betrokke was,” het Steyn gesê.

Sy het bevind dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat die twee aktief by die beplanning en moord betrokke was.

Sy het hulle onskuldig op ’n klag van poging tot moord op Rust se man bevind.

Die saak is uitgestel tot 5 Februarie vir die vonnisverrigtinge.

Rust se familie wou nie kommentaar op die uitspraak lewer nie.

Meer oor:  Johannes Plaatjies  |  Winnie Rust  |  Nigel Plaatjies  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.