Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Rust-saak: Nigel ’n jeugdige, sê advokaat

Die gevolge wat die moord van die Afrikaanse skrywer Winnie Rust op die gemeenskap en op Nigel Plaatjies se gesin gehad het, moet as ’n teken van sy jeugdigheid gesien word.

So het adv. Yasmien Rajap, Nigel se regsverteenwoordiger, in die hooggeregshof in Kaapstad in haar slotbetoog vir vonnis gesê.

Die twee beskuldigdes wat die Afrikaanse skrywer Winnie Rust in haar huis op Wellington vermoor het, het Woensdag in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn as deel van hul vonnisverrigtinge nadat hulle op 4 Desember 2017 skuldig bevind is aan moord. Nigel Plaatjies (voor) en sy oupa se broer, Johannes Plaatjies, is in die hooggeregshof in Kaapstad deur regter Elize Steyn skuldig bevind. Foto: Jaco Marais

Rajap het ietwat bewoë geraak toe sy regter Elize Steyn probeer oortuig het dat Nigel steeds onder die Kinderwet as ’n jeugdige gesien word en dus nie die gevolge van sy dade besef het nie.

Rajap het in die hof aangevoer hy was skaam oor wat hy gedoen het en daarom kon hy nie in die hof getuig nie en ook nie ter versagting van vonnis getuig nie.

Steyn het egter vir Rajap gesê sy is nie beïndruk met die proefbeampte se verslag nie, juis omdat sy nie die hof se uitspraak gelees het toe sy haar verslag opgestel het nie.

“Dit was baie moeilik vir hom om oor die misdaad te praat en die hof moet dit nie as ’n negatiewe faktor sien nie,” het Rajap gesê.

Benewens dit was Nigel ’n jaar en tien maande lank in aanhouding, hy is ’n eerste oortreder en die hele saak was baie traumaties vir hom.

Sy het ook aangevoer Nigel sal gerehabiliteer kan word en dat hy deur Johannes Plaatjies, sy medebeskuldigde, beïnvloed is.

Dit het verlede week in die hof aan die lig gekom dat Johannes nie Nigel se oom is nie, maar sy oupa se broer.

Adv. Ken Klopper, Plaatjies se regsverteenwoordiger, het op sy beurt aangevoer Plaatjies het nie vir Nigel beïnvloed om die moord te pleeg nie.

Hy het in die vonnisoplegging aangevoer die regter moet alle versagtende omstandighede in ag neem en dit teen die verswarende faktore opweeg om te kyk of dit ’n afwyking van lewenslange gevangenisstraf regverdig.

Die staat het aangevoer die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf geld in dié geval.

Klopper het gesê die dood van Rust het die gemeenskap swaar getref, juis omdat sy baie werk in die gemeenskap gedoen het om dit te bevorder.

“Die tradisionele versagtende omstandighede is dalk daar, maar dit word oorskadu deur die erns van die misdaad. In hierdie saak is dit so,” het hy gesê.

Klopper het gesê sy kliënt het ’n paar oortredings, maar hy glo hy kan gerehabiliteer word.

“Sy geskiedenis lyk nie mooi nie, maar ek wil glo hy kan verander,” het Klopper gesê.

Oor Plaatjies se verskoning aan die Rust-familie, het Klopper gesê dit kan nie as ’n teken van berou gesien word nie, want hy het eerder by sy weergawe gehou.

Die staat het aangevoer die minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf geld in dié geval.

Regter Elize Steyn het die saak tot 14 Maart vir vonnis uitgestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.