Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
SA model hof toe oor porno-advertensies op Twitter

’n Suid-Afrikaans gebore swem-en-onderkleremodel wat in Amerika woon, het Twitter hof toe gesleep omdat dié weier om naakfoto’s van haar wat ’n pornografiewebwerf sonder haar toestemming op sy profiel geplaas het, te verwyder.

Genevieve Morton in 2014. Foto: Getty Images
Getty Images

Genevieve Morton (34), wat in 2012 FHM se sexyste vrou ter wêreld was, sê in hofstukke sy verkoop die betrokke foto’s op haar webwerf en in kalenders.

SpyIRL.com het dele daarvan getwiet en haar daarin ge-tag, wat haar ondersteunersbasis lok en dit laat lyk of sy ’n professionele band met die webwerf het.

“Die foto’s is gewysig deurdat dit gesny en die grootte daarvan verander is sodat die klem van die uitbeelding op naaktheid van die klaer is eerder as op die breër konteks van die foto self, wat die foto’s laat lyk asof dit meer pornografies van aard is as wat dit oorspronklik bedoel is om uit te druk.”

Volgens die hofstukke koop en verkoop SpyIRL.com pornografie wat die seksuele uitbuiting van kinders bevorder en naakfoto’s wat sonder toestemming deur versteekte kameras in openbare plekke verkry is.

Twitter is nie meer sosiale media nie.

“SpyIRL.com is ’n ‘inhoudsvennoot’ van pornhub.com en ’n petisie dat pornhub.com verantwoordelik gehou word vir sy bydrae tot die verkragting, mensehandel en uitbuiting van vroue en kinders wêreldwyd het al meer as twee miljoen handtekeninge gelok.”

Luidens die hofstukke het Morton regdeur haar professionele loopbaan geleenthede om kaal vir publikasies te poseer van die hand gewys. Sy het gekies om slegs naak te poseer wanneer sy die werk kon skep, die foto’s kon beskerm en die verspreiding kon beheer.

“Sy vertoon die foto’s nooit gratis of op enige webwerwe nie, maar bied dit te koop aan op haar webwerf in saamgestelde versamelings.”

Luidens hofstukke het sy 3,5 miljoen volgelinge op sosiale media. Toe Morton van die twiets bewus raak, het sy Twitter onmiddellik van SpyIRL.com se wangedrag in kennis gestel en daarop aangedring dat Twitter die reeks twiets verwyder. Sy wou ook hê die rekening moet opgeskort ingevolge Twitter se beleid oor die reklame vir en bevordering van onwettige pornografie.

“Hoewel Twitter die ontvangs van die kennisgewing en die versoek om dit te verwyder ontvang het, het (hulle) geweier om die rekening op te skort of die twiets te verwyder,” lui die hofstukke.

“Deur Twitter se weiering en versuim om die gebruiker se rekening op te skort of die twiets uit te vee, word mej. Morton se professionele reputasie en handelsmerk ernstig geskaad. Sonder die hof se ingryping sal Twitter aanhou wins maak deur die uitbuiting van mej. Morton en hul blatante miskenning van die wette van Amerika en Kalifornië.”

Nadat Twitter wel stuk-stuk begin het om haar foto’s te verwyder, het @SpyIRL getwiet: “@genevievemorton, selfs al het sy kopiereg op my foto’s . . . is sy ’n godin wat aanbid moet word, ek stel voor jy gaan kyk . . . absolute perfeksie.”

Morton het op 20 Februarie in ’n video op haar Twitter-profiel gesê die platform dwing nie sy eie beleid af nie en dit het daarom onveilig geraak vir gebruikers. Sy kondig in die video aan dit is haar laaste dag op Twitter. “Dit is nie meer sosiale media nie, dit is toksiese media.”

Meer oor:  Twitter  |  Pornografie  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.