Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
'SA se hamermonster’ 359 j. tronk toe

’n Reeksverkragter wat ’n skrikbewind in Limpopo gevoer het deur 30 vroue te verkrag en mans met ’n hamer aan te rand, is tot 359 jaar tronkstraf gevonnis.

David Mamvura (27) van Zimbabwe is Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane tot vier lewenslange vonnisse en ’n bykomende 259 jaar tronkstraf gevonnis.

Hy is die “hamermonster” genoem toe hy tussen 2012 en 2014 ’n skrikbewind in Polokwane gevoer het.

Mamvura het tereggestaan op 31 aanklagte wat verkragting, poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, huisbraak met die opset om te verkrag en rooftog met verswarende omstandighede, ingesluit het.

David Mamvura (27), 'n reeksverkragter wat 30 vroue in Limpopo verkrag het, is tot 359 jaar tronkstraf gevonnis. Foto: SAPD
David Mamvura (27), 'n reeksverkragter, Woensdag in die hooggeregshof in Polokwane waar hy tot 359 jaar tronkstraf gevonnis is. Foto: SAPD

Oudkol. Sakkie Louwrens, wat deel was van die polisie se taakspan wat Mamvura in hegtenis geneem het, sê hy is “bitter bly” dat geregtigheid geskied het.

“Ek is dankbaar dat Mamvura vir altyd uit die samelewing verwyder is.”

Louwrens wat ná 25 jaar uit die polisie bedank het, is nou aan die stuur van die Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbekampingsorganisasie.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê Mamvura het by etlike huise in veral Polokwane ingebreek, waar hy vroue aangerand en verkrag, en mans met ’n hamer aangeval het.

Hy het Woensdag in voetboeie en met ’n wynrooi gebreide mus op sy kop in die hooggeregshof in Polokwane verskyn.

In een van die opspraakwekkendste voorvalle het Mamvura op 12 Augustus 2012 by ’n huis in Eduanpark ingebreek en ’n 24-jarige vrou verkrag. Hy het haar man herhaaldelik met ’n hamer oor die kop geslaan. Die man is weens sy beserings verlam.

Mamvura het die egpaar se selfone en R1 000 gesteel en gevlug.

Ngoepe sê Mamvura het in 2013 by die huis van ’n 74-jarige vrou in Polokwane ingebreek en haar verkrag. Hy het haar selfoon, trouring en bankkaarte gesteel.

Die polisie het hom in 2013 in hegtenis geneem, maar hy is in die landdroshof in Polokwane op borgtog vrygelaat. Louwrens sê die staat het borgtog teengestaan, maar hy is nogtans op borgtog vrygelaat.

Terwyl hy op borgtog uit was, het hy ’n 15-jarige meisie op 27 Maart 2014 in Devenishstraat in die sakekern verkrag. Hy het by die venster van ’n woonstel ingeklim, die meisie met ’n mes aangehou en haar selfoon gesteel. Hy het in 2014 ook ’n 41-jarige vrou twee keer verkrag toe sy vroegoggend in Marshallstraat in Polokwane op pad was werk toe. Hy is in 2014 weer in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding.

Meer oor:  David Mamvura  |  Tronkstraf  |  Moord  |  Hamermonster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.