Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak ná vingerbyt en klap in Brandfortse kroeg

Die eienaar van die Koffies Pub in Brandfort, waar die kroegman glo ’n polisieman gebyt het in ’n onderonsie waarin die polisieman hom na bewering geklap het, is met R1 500 beboet omdat die kroegman ’n “gevaarlike wapen” by hom gehad het.

Carla Botha, eienaar van die kroeg, is Maandag deur die polisie beboet omdat JP van Vuuren, haar kroegman, ’n knipmes by hom gehad het.

Konst. Maleke Moletsane wys Saterdagaand met sy vinger na JP van Vuuren in ’n onderonsie in die Koffies Pub in Brandfort in die Vrystaat. Foto: Skermgreep

“As eienaar is ek beboet omdat iemand in my kroeg ’n knipmes, ’n gevaarlike wapen, gehad het. Ek moet die boete betaal of Maart in die hof verskyn. Ek sal eers met my regsverteenwoordiger daaroor praat en kyk wat ons gaan doen.

“Dit is skokkend. Waar trek hulle die streep? Moet ek nou my kliënte, wat meestal boere is en nie sonder hul wapens die huis verlaat nie, wegwys? Moet ek as eienaar of bestuurder sê hulle kan nie my kroeg met ’n wapen inkom nie?”

Van Vuuren (38) en Pieter Theron (in sy 60’s) het Maandag op aanklagte van aanranding in die hof verskyn nadat hulle na bewering twee polisielede aangerand het.

Hulle is op borgtog van R500 elk vrygelaat en moet weer volgende week in die hof verskyn.

Van Vuuren staan ook op ’n aanklag van die besit van ’n gevaarlike wapen, sy knipmes, tereg.

Die mans is die naweek in hegtenis geneem nadat hulle volgens die polisie twee polisieblede buite die kroeg aangerand het toe die beamptes ’n dronkbestuurder in hegtenis wou neem.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Van Vuuren het daarna by die kroeg ingehardloop en konst. Maleke Daniel Moletsane het hom agternagesit.

Toe Moletsane hom in die kroeg wou aankeer, het Van Vuuren hom glo teëgesit en ’n mes uitgehaal. Die lid het hom toe glo met die oop hand geklap, het Makhele gesê.

Van Vuuren het Sondag, voor sy inhegtenisneming, gesê die polisielede was op ’n roetinebesoek in die kroeg toe die konstabel hom (Van Vuuren) rondgeruk en sy vinger vyf keer in sy gesig gedruk het.

’n Video van die voorval, wat in die kroeg geneem is, wys hoe die twee mans aan mekaar ruk en pluk en die polisieman, met sy vinger in Van Vuuren se gesig, sê: “Moet my nie vir ’n gat vat nie, nè.”

Op die video byt Van Vuuren oënskynlik Moletsane aan die vinger, waarna die polisielid hom klap en dadelik sy vuurwapen uithaal, dit oorhaal en op Van Vuuren rig.

Van Vuuren is Sondag in hegtenis geneem toe hy ’n verklaring wou aflê, terwyl Theron reeds Saterdagaand in hegtenis geneem is nadat hy na bewering deur polisiebeamptes aangerand is.

Meer oor:  Brandfort  |  Onderonsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.