Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak oor Zuma se regskoste ‘het negatiewe invloed’

Die aansoek wat die DA en die EFF in die hooggeregshof in Pretoria teen pres. Jacob Zuma gebring het oor die staat se voortgesette betaling van sy regskoste, is niks anders nie as ’n poging om die strafregtelike saak teen hom te beïnvloed, het adv. Thabani Masuku SC, vir Zuma, Dinsdag in die hof aangevoer.

Albei partye wil hê die staat moet ophou om Zuma se regskoste te betaal. Hulle wil ook hê hy moet die geld wat die staat in die verlede aan sy regskoste betaal het, terugbetaal.

Die DA sê die koste beloop meer as R16 miljoen, terwyl die EFF aanvoer dit oorskry R32 miljoen.

Masuku het aan die volbank regters, adjunkregterpresident Aubrey Ledwaba en regters Elizabeth Kubushi en Pieter Meyer, gesê daar is geen gronde in die DA en die EFF se aansoeke nie. Hul doel is om op politieke byeenkomste en in die parlement politieke voordeel te trek sou die hof in hul guns beslis.

Hierop het Ledwaba geantwoord: “Die hof is nie hier om politieke partye te bevoordeel nie, maar om besluite te neem op grond van die feite voor hom.”

Masuku het gesê Zuma het reeds aangedui dié saak kan ’n invloed hê op sy komende strafregtelike saak op 16 aanklagte wat onder meer korrupsie insluit, indien die hof in die DA en die EFF se guns beslis.

Dit sal ’n invloed op sy voorbereiding vir die saak hê wat later vandeesmaand in die hooggeregshof in Pietermaritzburg voortgesit word, omdat hy ook vir dié saak geld sal moet vind.

Daar is al in 2007 ooreengekom dat Zuma die geld sal terugbetaal vir die sake wat hy verloor. Niks is nog gedoen om die geld van hom (Zuma) te verhaal nie.

Volgens Masuku is Zuma besig om ’n aansoek voor te berei waarin hy die hooggeregshof in Pietermaritzburg wil vra om al die klagte teen hom terug te trek. Hy glo sy aansoek sal suksesvol wees.

Adv. Shaun Rosenberg SC, vir die DA, het in sy repliek aangevoer die saak is van groot openbare belang. “Dit gaan nie net oor die geld wat betrokke is nie, maar ook oor die beginsel of staatsamptenare wat van korrupsie aangekla word, geregtig is op finansiële hulp van die staat vir hul regskoste.”

Die hof moet duidelikheid verleen of die staat onbepaalde befondsing aan Zuma beskikbaar kan stel om die regsproses waar moontlik uit te rek.

Hy sê die staatsprokureur het nie toestemming gegee nie vir die aanstelling van Michael Hulley, wat jare lank Zuma se private prokureur was en deur die staat betaal is.

Adv. Tembeka Ngcukaitobi, vir die EFF, het op sy beurt ook volgehou behoorlike prosedure is nie gevolg met Hulley se aanstelling nie. Die EFF wil hê Hulley moet R25 miljoen terugbetaal.

“Daar is al in 2007 ooreengekom dat Zuma die geld sal terugbetaal vir die sake wat hy verloor. Niks is nog gedoen om die geld van hom (Zuma) te verhaal nie,” het Ngukaitobi aan die regters gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs gesê die presidensie sal voortgaan om Zuma se regskoste te betaal, maar sal dit staak as die hof so gelas.

Uitspraak is voorbehou, maar dit kan volgens Ledwaba voor die einde van die hoftermyn verwag word.

Meer oor:  Adv. Thabani Masuku  |  Jacob Zuma  |  Pretoria  |  Hooggeregshof  |  Regskoste  |  Eff  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.